Gemeenskap rou ná seun op fiets doodskok

Jaden Landsberg (10) se foto op die plek waar hy doodgeskok het. Foto: Reuben Swanepoel van Phoenix Security

Jaden Landsberg (10) se foto op die plek waar hy doodgeskok het. Foto: Reuben Swanepoel van Phoenix Security

Jaden Landsberg, die gr. 5-leerder aan Laerskool Lydenburg wat Vrydag dood is toe hy in dié Mpumalanga-dorp gaan fietsry het, se ouers, dokters en ander gemeenskapslede het verbete geveg om hom by te bring ná ʼn fratsongeluk.

Volgens Jandré Stander, eienaar van Phoenix Security, het een van hul veiligheidsbeamptes toevallig omstreeks 17:00 op die toneel afgekom en dadelik bystand ontbied.

Jaden (10) se ma, Hendrien, en ander volwassenes was reeds op die toneel. “Volgens omstanders het die seun en sy maats in die in dieselfde straat fietsgery waarin Jaden se ouerhuis geleë is nadat dit vroeër gereën het,” het Stander gesê.

“Sy maats het gesê Jaden het deur die water, wat op die teerpad op die hoek van Rivier- en Lombaardstraat opgedam het, gery en toe net kant toe geval.” Twee van sy maats wat saam hom fietsgery het, is in dieselfde skool en graad as Jaden.

Een van die maats het hom probeer uit die water trek, maar kon nie want “die water het hom geskok”. Hy het toe na Jaden se ouerhuis gejaag en by Hendrien hulp ontbied.

Hendrien het ʼn buurman geroep en die twee kon daarin slaag om Jaden uit die poel te trek en het elektriese prikkels gevoel toe hulle dit doen. Hulle het dadelik begin om noodhulp toe te pas, maar kon hom nie bybring nie.

Phoenix se personeel het Jaden op die agterkant van hul bakkie gelaai, waar Hendrien en ʼn man voortgegaan het om noodhulp toe te pas terwyl hulle na die dorp se mediese sentrum gejaag het.

Dokters het alles gedoen wat hulle kon om sy lewe te probeer red, maar hy is by die sentrum dood verklaar.

Stander het gesê toe hy later by die mediese sentrum aankom, het Hendrien en haar man, Jaco, hartstogtelik gehuil toe hulle van hul seun moes afskeid neem.

“Almal by die sentrum was in trane. Sy ouers is stukkend. Hulle is ʼn baie hegte gesin en het hul seun ondersteun in alles wat hy aangepak het. Sy pa het aangehou en aangehou om noodhulp toe te pas. Hy wou net nie aanvaar dat sy seun dood is nie.”

Volgens Stander is daar later vasgestel dat ʼn lewendige, stukkende kragkabel in die poel gelê het. Die Phoenix-veiligheidsbeamptes en elektrisiëns van die Thaba Chweu-munisipaliteit is terug na die toneel waar die munisipaliteit se elektrisiëns glo bevind het dat die kragdraad nie elektrisiteitdraend was nie.

ʼn Private elektrisiën is ontbied om ʼn tweede mening te gee. Hy kon, op video, vasstel dat die 230 volt-kabel wel elektrisiteitdraend was en die seun glo doodgeskok het.

Cornelus Lemmer, die skoolhoof, het Maandag aan Maroela Media gesê die skool se voltydse berader, Jeany Geyser, is Vrydagmiddag na die sentrum om Jaden se ouers, sy maats en hul ouers by te staan.

“Die hele skool het vanoggend byeengekom en is deur beraders en predikante bygestaan. Die doel was tweevoudig: om eerbied aan Jaden te betoon en om berading aan sy skoolmaats te bied. Die atmosfeer by die skool is hartseer, maar rustig. Benewens Jeany, wat haar baie goed van haar taak kwyt, het ons ʼn span beraders op bystand om enigiemand by te staan wat dit nodig sou kry,” het Lemmer gesê.

Lemmer het gesê Jaden het in 2013 in gr. 1 by die skool ingeskryf.

“Hy was van kleins af geliefd onder die personeel en sy maats. Hy was ʼn baie joviale en talentvolle kind met baie goeie maniere. Hy het aan elke sportsoort by die skool deelgeneem en het in alles wat hy aangepak het presteer. Hy het altyd die ekstra tree gegee en wou net vir oulaas weer ʼn lopie hardloop om seker te maak hy doen sy bes. Hy was ook altyd bereid om te help, met ʼn pragtige glimlag op sy gesig. Jaden gaan beslis ʼn groot leemte in ons skool, dorp en gemeenskap laat. Ons treur saam met die ouers en familie en deel in hul groot verlies,” het hy gesê.

Inwoners het ook intussen ruikers begin neerlê waar die tragedie plaasgevind het.

Jaden se ouers was nog te getraumatiseerd en nie gereed om met die media te praat nie. Hulle word deur vriende, familie en beraders bygestaan. Naas sy ouers laat Jaden sy jonger suster, Chanlee, in gr. 2, agter.

Reëlings vir sy begrafnis is nog nie bekend nie.

OPVOLG: Munisipaliteit reageer ná seun doodskok

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

m ·

Hoe gee twee elektrisiens so verskillende bevindinge. Die krag was aan of af. Seker weer BEE elektrisien wat nie die verskil ken nie. Baie hartseer en onnodig wat hier gebeur het. Baie sterkte aan die ouers.

Gerbar ·

As hulle nie eers kan toets of n kabel krag op het nie, dan is hulle verseker nie gekwalifiseer om vir die staat te werk nie. Hoe lyk die res van hulle instanthouding werk aan straat ligte en verskeersligte dan nie?

Hermien Brittnell ·

My hart wil BREEK vir hierdie gesin. BAIE STERKTE.

Balkie ·

Innige simpatie aan die familie. Ek hoop van harte dat hul die munisipaliteit verantwoordbaar gaan hou. Dit is onaanvaarbaar dat kragdrade so oop en bloot rond lê. Die vermetelheid om dit ook nog eers te ontken.

Leonie ·

Dit is so hartseer. Ek kry die ouers so jammer want om ‘n kind te verloor is die seerste seer ooit en dit word nooit gesond nie. Sterkte aan die ouers ons Bid vir julle in die Verskriklike moeilike tyd xx

Oosie ·

Die Stadsraad wil nie die gevolge van hul optrede (swak bestuur ens.) dra nie en probeer hulself verontskuldig. Alhoewel hulle bankrot is (kan nie eers Eskom betaal nie) behoort ‘n eis teen hulle ingestel te word. Dit sal nie die verlies van die gesin verhoed nie, maar dalk help dat meer verantwoordelik opgetree word in dienslewering. Lê beslag op hulle luukse motors en meubels. Dit behoort hul tot hul sinne te ruk. (Die bietjie wat hul het)

AL ·

Ek stem saam met jou. Die nalatigheid van die munisipaliteit mag nie geduld word nie. My hart breek vir die ouers. Sterkte – woorde is te min om jul verlies te beskryf.

Liefie ·

Ek stem 100% saam. Dagvaar hulle verkoop hulle bates of wat ook al. Munisipaliteit moet erken hulle het droog gemaak

WitBlits ·

Dis uiters tragies om ‘n kind agv die munisipaliteit se growwe nalatigheid te verloor en ek hoop ‘n instansie soos Afriforum sal hierdie gesin ook help in ‘n moontlike regssaak want dit is al hoe mens openbare amptenare se nalatigheid tot verantwoording sal roep.

Koos1 ·

Ek het ‘n seun van 11jaar. My hart sal aan stukke breek as hy (of sy sussie) iets moet oorkom!

Hemelse Vader, ek bid dat u hierdie gesin, familie en gemeenskap moet by staan. Ons verstaan nie altyd u weë nie, maar berus by die feit dat U wil geskied. Help asb die ouers en sussie om vertroosting te bring. U het ook U Seun vir die wêreld gegee, sodat ons wat in Hom glo ewig mag voort leef. Hou u hande oor die gesin asseblief Here, dat hulle en ons in hierdie geloof kan voortgaan met die lewe op aarde.
Ek bid dit in Christus Jesus se Naam.
Amen.

bokkie ·

Koos1 dankie want ek het nie woorde nie my hart bloei dit asgevolg van ongeletterde mense wat n kind se dood veroorsaak het mag die ouers en sussie berusting vind in God se genade Amen

oufie ·

Koos1,,,, jou gebed is voorwaardelik is blessing vir die ouers… ek het self my seun (35) 30 Sept 2016, aan Liewe Jesus oorgegee, ook as gevolg van n nalatige trok bestuurder. My seun was getroud maar geen kinders en sou die volgende dag in hul splinter nuwe huis wat hy en sy vroutjie saam aan gebou het, in trek. Daar sou hul met n gesin begin het. Ek het nog my dogter en hulle het beide. in London gebly. Dit is n bittere seer wat nooooit genees sal wees nie, maar met Liewe Jesus by my,, gee Hy my genade en om elke dag te leef, meer krag elke dag. Wil net aan die ouers se,,, ek bid vi hulle en wees net by God elke dag……… Vrede!!!!
l

Erika ·

Ek stem saam dat die munisipaliteit verantwoordelik gehou moet word. N kind se Jong lewe is kort geknip. N gesin het nou n lee plekkie aan etens Tafel. N skool bank staan nou leeg…..en dit….onverantwoordelikheid en swak onderhoud.

Alida ·

Le dit voor die ANC se deur. Swak dienslewering is vir hierdie tragedie verantwoordelik. Dit is onaanvaarbaar dat lewendige kragdrade in die strate rondlê. Doen nie hulle werk nie. Siestog die arme ouers.

RK ·

Dink aan die gesin, familie en vriende. Dis die seerste seer wat enige mens kan beleef.

Piet Pompies ·

Sterkte vir die ouers, hier is dit ‘n kwessie van verkeerde uitsluit prosedure wat gevolg is. ‘n Persoon word bevoeg verklaar om elektriese skakeling te doen wat ‘n praktiese en teoretiese toets insluit, die uitslae word bewaar. Daar moet ook rekords bestaan oor instandhoudingswerk wat aan die kabels gedoen is, dit sal bepaal wie was nalatig.

Ansa ·

Sterkte aan die familie ek bid dat God jul sal vertroos en styf sal vashou in julle swaar tyd Geen geld kan jul kind terug bring nie

Ada ·

Ai ek is so jammer om te hoor. geen woorde gaan kan troos nie. Sterkte.

Vena ·

My hart gaan uit na sy bedroefde ouers en familie… baie, baie sterkte. Dit is tragies dat ‘n sorg vrye fiets rit in so ‘n tragedie geword het en dit deur swak instandhouding van infra-stuktuur waarvoor belasting betalers reeds betaal het!

dries ·

Hoe kan n gekwalifiseerde persoon nie weet of daar krag is nie.

Francis ·

van wanneer af noem mens nalatigheid n vratsongeluk ??????

Mr P ·

Ek myself is uitstekend met elektriese werk alhoewel ek nie gekwalifiseerd is ni maar wel n diploma het in maganiese ingenieurswese. My dogter koop vir haar n meenthuis. N vereiste is n elektriese bedrading sertifikaat. So kom 2 sparkies daar aan en begin met hul toetse. Onder andere moet hulle di stoof se draad vanaf di box vervang. Hulle vervang dit toe met n 2.5 dikte draad in plaas van n 4mm draad omdat hulle nie die regte dikte by hulle gehad het ni. Ek het hulle gemaak n 4mm draad insit. My seun koop sy eerste huis R1.5 mil. En moes ook n sertifikaat kry. Die ou wat di huis afteken is ook bbbee toe ons die board oopmaak toe lyk dit soos n spinnerak. Ek het al di drade los gemaak en oor gedoen met geen sertifikaat. Nou hoekom betaal vir sulke gemors.

isobel ·

Oral oor daar rond in dasi omgewing is oop gate met krag drade wat uitsteek. Op hv Berg en Rivier is dieselde tipe gat gegrou met n kabel wat daar uitsteek. Nou wonder ek wie grou so sonder die munisipaliteit se wete gate oral oor en los die kabels net so. Regtig Thaba Chew. Vat verantwoirdelikheid. Hou op om dokumente in “file 13” te plaas en skouer op te lig en se jul kry geen rekords van opgrawings. Moet nie dat ons as gemeenskap jul begin afneem oral wasr ons sien jul besig is om n gat te grou en net so los nie. Gatvol vir mense wzt nie verantwoordelikheid kan vat nie!!!

Johan ·

Koos1- baie dankie vir so n hartroerende gebed

Maroela Media -wil julle nie ASSEBLIEF ook hierdie gebed van Koos1 oordra aan die Landsberg familie nie

zelda ·

AMEN. Hoop die ouers vat regstappe teen die skuldige partye.
Sterkte aan die ouers,susie en mense wat gehelp het.

Mag GOD vandag jul harte heelmaak wat stukkend is.

Karen van Zyl ·

Ai hoe onnodig en hartseer, sterkte aan die familie en vriende.

mel ·

Om al di dinge te Lees breek my hart, so pragtige seun en ouers wat stukkend is! Ek stem ook saam om ni di saak hier te los ni, dis nou genoeg dat sulke dinge net stil word en niks word daaraan gedoen ni! Vir julle as familie bid ek vertroosting toe, woorde gaan niks beter maak ni maar weet hoe baie van ons in ander provinsies , dorpe wat ookal se harte is saam julle stukkend. Baie dankie vir di kragtige Gebed Koos1, RIV Pragtige Engel

Niccy ·

Sterkte aan die gesin. Woorde kan nie die hartseer beskryf nie. Isobel, jy het die regte idee. Neem fotos en plaas dit op fb, veral as dit vir maande oopbly sonder enige rede??

Liza ·

Ek sal seker altyd huil as daar ‘n kind na ons Hemelse Vader toe gaan, want ek is daar deur en vandag huil my hart weer oor al wat ‘n kind is …. Here ek vra U maak my en ook die ouers se harte sag vandag, en help U ons om ons trane af te vee want net U alleen kan dit doen. Here staan elkeen by in Lydenburg en dankie Here dat U ons Vertrooster is…… Rus saggie by Liewe Jesus Jayden…. jy is veilig nou…..

nikki ·

Liewe ANC. Bloed drup al van julle hande af. Geen woorde kan die woede in my beskryf nie. En daarom wil ek nie eers weet waardeur daardie pragtige onskuldige kind se ouers gaan nie. Lydenburg se strate en infrastruktuur is ‘n gemors. Van die ingang na die dorp en reg deur tot anderkant uit is meer slaggate as teer. So nou vra ek liewe ANC: Hoe kan julle die blaam verplaas na iemand anders? Hoeveel van ons jeug se bloed moet nog aan julle hande kom?

JANETTE ·

KOOS1 – Dankie vir die pragtige gebed – AMEN, Dis is verskriklik dat n jong lewe so onskuldig weg geneem is……. RIV seun.

Mossie ·

Ons bid vir julle, ouers van Jaden. Ons het nie woorde vir julle eina en verlies nie en kan julle net aan ons Hemelse Vader opdra. Al aanvaar die munisipaliteit verantwoordelikheid sal dit Jaden nie terugbring nie. As ek lees wat die munisipaliteit skryf, ‘verskoon’ hul hulself nou heeltemal van die tragedie. En al gee hulle julle ‘n syfer met ses nulle, jou kind het nie ‘n prys nie!

Corrie ·

Baie dankie Koos1 vir die pragtige gebed. Sterkte aan die ouers is al wat ek kan se,,,,want dit is n baie groot eina om n kind te verloor.

Felicity ·

My hart bloei vir die familie en julle is almal in my gebede. Sterkte en klou aan julle Geloof in God.

Wat maak ‘n stukkende kabel (lewendig of nie!!!) oop op die grond!!!!!!!!! swak, absoluut pateties dat ‘n jong kind sy lewe moes verloor a.g.v ons land se instandhouding wat so versleg het. Hoop die persone wat so gruwelik nalatig was, word vervolg.

theo ·

as die beveiliging reg gewerk het, sou daardie kabel dood gewees het. n Elektrisien wat behoorlik opleiding ontvang het sou geweet het wat die regte sekering daar behoort te wees. By Tshwane munisipaliteit is n persoon aangestel in n elektrisien pos, in ongeveer 2011 en het die salaris ontvang ven n gekwalifiseerde persoon, maar het eers verlede jaar gekwalifiseer in sy ambag. Die persone wat dit goed gekeur het is aangestel deur neopotisme.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.