Gemeenskap rou ná skietdood van onderwyser

Thulani Manqoyi, ʼn 53-jarige onderwyser verbonde aan die Heinz Park Primary School, is Dinsdagoggend op die skoolterrein doodgeskiet. (Foto: Facebook)

Die gemeenskap van Philippi in Kaapstad is in rou gedompel ná die dood van ʼn geliefde onderwyser in wat deur sommiges as ʼn sluipmoordaanval bestempel word.

Thulani Manqoyi, ʼn 53-jarige onderwyser verbonde aan die Heinz Park Primary School, is Dinsdagoggend op die skoolterrein doodgeskiet terwyl hy omstreeks 07:45 in die parkeerterrein van die skool in sy motor gesit het.

Hy het op die toneel gesterf, terwyl talle mense, onder wie leerders, verslae toegekyk het.

Twee verdagtes het kort tevore by die skool ingestap en die eerste skoot het net daarna geklap. Die twee het daarna te voet gevlug.

Die skool kon nie Woensdag vir kommentaar bereik word nie, maar talle boodskappe van medelye is ná Manqoyi se dood op sosiale media gedeel. Manqoyi is beskryf as ʼn onderwyser wat ʼn groot rol in die lewe van sy studente gespeel het en sy dood is as ʼn groot verlies vir die onderwysberoep bestempel.

Bongani Maqungwana, woordvoerder van die Samora Machel-gemeenskapspolisiëringsforum (GFP), sê een van die verdagtes het glo ʼn vuurwapen op ʼn veiligheidswag gerig, waarna die twee die skoolterrein binne is.

Die twee is volgens inligting wat tot dusver ontvang is, vermoedelik oudleerders van die skool.

“Ons weet nie wat die motief was nie en ons het ʼn beroep op die hele gemeenskap gedoen om waaksaam te bly, asook op die polisie om beamptes in die omgewing te ontplooi.

“Ons weet nie of dit net hy was na wie hulle gesoek het nie …” sê Maqungwana.

Volgens Maqungwana het talle leerders net by die skool aangekom toe die skietery plaasgevind het.

“Die kinders het hul onderwyser in die kar sien lê, hulle het gesien wat gebeur het. En selfs al het hulle nie die skietery gesien nie, het hulle steeds sy liggaam in die motor gesien.

“Ons weet nie meer of ons veilig in dié land is nie. [Manqoyi] was veronderstel om veilig by sy werkplek te wees.”

Ook die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het gesê dit is kommerwekkend dat misdadigers mense steeds terroriseer in wat veronderstel is om ʼn veilige omgewing te wees.

Motshekga het ook haar skok en hartseer oor die “grusame moord” te kenne gegee.

“Die getal gewelddadige misdade teen ons onderwysers in skole of enige ander plek in die gemeenskap is uiters ontstellend. Ons veroordeel enige vorm van geweld in ons skole,” sê Motshekga.

“Ons werk saam met die polisie om die veiligheid van ons onderwysers, leerders en die hele skoolgemeenskap teen misdadigers te verseker wat voortgaan om hulle te terroriseer in die veilige omgewing wat skoolterreine veronderstel is om te wees.”

Motshekga sê die departement sal intussen sy veldtog teen geweld in skole verskerp.

Volgens die minister is die veiligheid van onderwysers, ander personeel en leerders ʼn gesamentlike verantwoordelikheid van die gemeenskap en dat almal moet saamwerk om geweld en misdadigheid, veral op skoolterreine, te beëindig.

Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Di ·

Ja so kan mens duidelik sien watse opvoeding hierdie moordenaars gekry het!

Swerwer ·

Innige simpatie en medelye aan die familie en naasbetaandes van Thulani Manqoyi. Weereens, solank die ANC aan bewind is en bly sal daar nie vrede en stabiliteit in hierdie land plaasvind nie.

koos10 ·

Angie Motshekga, word wakker en ruik die koffie!! Jy is deel van die probleem, want jy sit ook in die ANC kabinet. Wat doen jy aan misdaad? Niks, absoluut NIKS. Kom verkiesings deel jy kos en beloftes uit, wat onskuldige mense glo, en dit doen jy net om jou pos te behou!
Hou op geskok wees, en doen iets!
Daai leë blikke gesegte beskryf jou en die ANC op die druppel.

Toy ·

Ja so het Cele al hoe meer bloed aan sy hande.
Die kriminele floreer in die land, nog ‘n onskuldige mens wat moet boet omdat daar net niks daaraan gedoen word nie.

Casper ·

Sy veroordeel enige vorm van geweld in ons skole maar nie geweld teen boere en plaaswerkers nie.Kinders rand onderwysers aan en die onderwyser moet dit maar vat.As jy in my skooldae aan ‘n onderwyser sou geslaan het het jy gek.k dikker as wimblikke.Ouers mag nie dissipline toepas nie dan is dit aanranding.Ek het my hardegat seun weggejaag en na drie dae op straat het hy teruggekom en hy is vandag die wonderlike seun.Hy is vandag al 32 en ‘n professionele jagter en dank my tot vandag dat ek sy oë oopgemaak het voor hy tronktoe is.

Pablo ·

Wat is die doel van n skool wag as hulle ongewapen is en nie die leerders kan beskerm nie.

Rooikoos ·

En weereens is die ANC “geskok”.
DOEN iets hieraan Hoed!

marius ·

Weet nie of ons meer veilig is in die land nie ? Waar het jy die afgelope 30 jaar gewoon ? Op die maan ?

Gert ·

My kommentaar is weer verwyder, die regstel moet verander sodat kriminele permanent uit die samelewing verwyder word op so ‘n manier dat belasting geld nie vir hulle moet sorg nie. Hier die oortreding is ‘n hals misdaad en moet so hanteer word teen die skuldiges.

Gert ·

Daar almal so graag na ander lande kyk, kyk bietjie na die Arabiese stelsel en behandel die kriminele soos hulle doen

Belinda ·

Dis verskriklik. Mens is ook nie meer erens veilig nie. My innige meegevoel aan sy familie, vriende en studente.

JM ·

En Hoed wil steeds vuurwapens vir selfverdediging verbied, maar kriminele mag vuurwapens hê!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.