Gemeenskap rou oor dood van kind met ‘kunstenaarsiel’

Kaylee-Shaye Coetzer (13) was ’n gr.7-leerder aan die Laerskool Lynnwood in Pretoria. (Foto: Verskaf)

“Daar is niks van haar wat ek nie mis nie. Ek mis haar geselsies, haar laggies, haar hier-wees.”

Só sê ’n hartgebroke Lisa Coetzer ná die dood van haar “stil, diep kind met die kunstenaarsiel”, Kaylee-Shaye.

Kaylee-Shaye, ʼn gr. 7-leerder aan die Laerskool Lynnwood in Pretoria-Oos het Maandagaand haar eie lewe geneem. Sy was 13 jaar oud.

Coetzer sê haar dogter het ’n psigiater gesien en vir drie weke antidepressante gedrink.

“Ons het ’n afspraak by die kliniese sielkundige gehad vir 29 Junie – dis die vroegste een wat ek kon kry aangesien almal vol bespreek was.

“Die psigiater het my na haar dood gebel. Sy het deur haar notas gegaan en sê daar was geen aanduiding dat Kaylee-Shaye beplan het om haar eie lewe te neem nie,” sê Coetzer.

Hoewel haar dood baie vrae laat, hou Kaylee-Shaye se geliefdes vas aan die talle mooi herinneringe aan haar.

“My suster het een keer gesê sy is ’n regte English rose. Ek dink dit som haar perfek op. Auburn-hare, spierwit velletjie,” vertel haar ma.

Boonop, sê Coetzer, wou Kaylee-Shaye baie graag eendag Engeland toe gaan.

“Sy het ook gesê sy wil by die FBI [die Amerikaanse federale speurdiens] aansluit en het gedurig vrae gevra oor hoe ’n mens daar kan inkom.

“Ek dink sy kon beter Engels praat as ek.”

Dat sy vir Engels lief was, het ook in haar skoolpunte gewys. Haar Engelse onderwyser, Casper Olivier, sê sy het baie goed in dié vak presteer en dikwels meer as 80% behaal.

Coetzer sê haar kind kon ook vir ure lank teken – meestal gesigsketse.

“Sy was altyd so krities op haar eie werk; dit moes altyd perfek wees. Ek mis hoe sy alles vir my kom wys.

“Sy het ’n regte kunstenaarsiel gehad en altyd oor diep dinge nagedink.”

Coetzer sê Kaylee-Shaye was ʼn bedrewe skrywer, lief vir lees en mal oor diere en musiek.

Saans, vertel Coetzer, het Kaylee-Shaye by haar op die bed kom sit en gesels. “Hoewel sy stil was, kon sy ure aaneen gesels oor dit wat vir haar belangrik of interessant was.

“Sy het dikwels vir my gesê: ‘Mamma het nou nie ’n woord verstaan van wat ek gesê het nie, nè?’ Dan het ek dit maar erken en het ons lekker saamgelag.

“Op pad skool toe het sy my van die nuutste musiek vertel wat sy afgelaai het en die betekenis agter dié liedjies,” onthou Coetzer.

Leerders het Woensdagoggend briewe, blomme en teddiebere ter nagedagtenis aan Kaylee-Shaye neergelê. (Foto: Verskaf)

By die skool was Kaylee-Shaye deel van ’n klein vriendekring.

Met buitestanders het sy nie baie gedeel nie, maar met dié ná aan haar het sy graag gesels, vertel haar vriendin Amorey Green (13).

Die laaste keer toe sy haar vriendin twee weke gelede by die skool gesien het, het hulle in die saal ingeglip sodat Amorey vir Kaylee-Shaye haar nuwe gloei-in-die-donker-draadjies kon wys.

Hulle het graag poetse gebak en volgens Amorey was Kaylee-Shaye altyd ’n bok vir sports.

“Ek haar een keer gedaag om water met gross goed in te drink – en sy hét!” lag Amorey.

Die vriendinne beplan om ’n poetsboek, oftewel ʼn prank-boek, ter nagedagtenis aan Kaylee-Shaye saam te stel.

“Ons sal al die pranks wat ons nog wou doen in die boek sit – en dit goed beplan om seker te maak ons word nie uitgevang nie,” skerts sy.

Oor Kaylee-Shaye se dood was sy eers geskok, toe kwaad.

“Ek wens meer kinders kon haar raakgesien het, met haar gepraat en haar leer ken het.”

Laerskool Lynnwood het Woensdag ’n foto van die jong meisie in die voortuin geplaas waar leerders blomme, briefies en teddiebere ter nagedagtenis neergelê het.

Die gedig wat Caitlin Read vir Kaylee-Shaye geskryf het. (Foto: Verskaf)

’n Klasmaat, Caitlin Read, het vir Kaylee-Shaye ’n gedig geskryf waarin sy onder meer wonder oor wat dié stil meisie gedryf het om haar eie lewe te neem. Caitlin skryf ook dat sy weet dat Kaylee-Shaye nou langs God sit.

Steve Stolk, skoolhoof, sê dit is ’n tragiese gebeurtenis en dat dit swaar was om die nuus oor haar dood met leerders te deel.

Stolk sê dit was belangrik om die waarheid oor Kaylee-Shaye se dood te praat en dat hy aan leerders die geleentheid gegee het om vrae te vra.

Die skool het ook berading vir leerders beskikbaar gestel en ʼn brief aan ouers gestuur met raad oor hoe om met jou kind te kommunikeer.

“Praat met jou kind. Dis uiters belangrik. Dis egter ook belangrik dat hulle met jou praat. Kinders moet die vrymoedigheid hê om enigiets met hul ouers te deel.”

Kaylee-Shaye laat haar ma, suster Bianca (23), broer Johan (21) en pa, ook Johan, agter.

’n Gedenkdiens word Saterdag 12 Junie vir haar by die NG Gemeente Pretoria-Oosterlig in Waterkloof Glen gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Fubar

Rus in vrede, liefste kind. Mag jou siel vrede vind in Jesus se arms.

Piet parys

Tragies sterkte aan die famile

isabelle

Baie mooi gediggie dis vreeslik dat die dinge gebeur!

Thereza

Baie sterkte aan die, ‘survivors’. ek het my seun in 2006 verloor. Dit is hel, seer raak nooit minder, mens leer om daarmee saam te leef.

Edward Donald

Rus In Vrede Kaylee-Shaye. Meëgevoel aan Familie & Vriende. God seën vir julle almal deur die moeilike tydperk.