Gemeenskap ruk op vir slagoffer ná verkragting op plaas

helpende_hand_mary.jpg

Argieffoto

ʼn Groep ondersteuners beplan Saterdag ʼn saamtrek in Lephalale (Ellisras) in Limpopo om die gemeenskap bewus te maak van en ondersteuning te wys vir ʼn plaaslike en bekende liefdadigheidswerker van die dorp wat onlangs tydens ʼn aanval op ʼn plaas verkrag en beroof is.

Hoewel die hoofsaamtrek in Lephalale plaasvind, moedig die organiseerders mense in ander dorpe aan om soortgelyke byeenkomste te hou om gemeenskappe bewus te maak van verkragtings en ondersteuning te wys vir Mariaan Wentzel, die slagoffer, wat ʼn inspekteur van die dorp se dierebeskermingsvereniging (DBV) is, aangesien die man wat haar na bewering verkrag het Maandag in die landdroshof op Modimolle verskyn waar hy na verwagting gaan aansoek doen om borgtog.

“Ons gaan ʼn ondersteuningstaptog hou waartydens almal pers en swart gaan dra en later sal ballonne vrygelaat word,” het Charmaine Wilson Robbertse, Wentzel se vriendin en een van die organiseerders van die geleentheid, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Swart is gekies omdat dit die internasionale kleur vir verkragting verteenwoordig en pers is die internasionale kleur vir teenstand teen seksuele mishandeling van vroue en kinders.

“Mense wat hul ondersteuning aan die inisiatief wil wys, kan my gerus bel. Hulle kan foto’s neem wat ons sal versamel om mense se wêreldwye ondersteuning vir verkragtingslagoffers te toon.”

Saterdag se byeenkoms skop om 14:00 by die Lephalale Mall af waarna deelnemers na Mogol Klub gaan stap waar die ballonne vrygelaat gaan word. Wentzel sal daar bid en ʼn toespraak lewer. Almal is welkom.

Wilson Robbertse het ook ʼn beroep op mense gedoen om Maandag swart en pers aan te trek ter ondersteuning wanneer haar verkragter in die hof gaan verskyn. Sy versoek ook dat deelnemers foto’s daarvan neem en vir haar aanstuur. Vir meer inligting, bel haar op 076 714 5167.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 30-jarige verdagte is Vrydag vroegoggend in hegtenis geneem weens die onlangse aanval op Wentzel op ʼn plaas in Limpopo waartydens ʼn vrou glo verkrag en beroof is.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het destyds aan Maroela Media gesê die verdagte is in Vaalwater aangekeer.

Wentzel is op 23 Maart helder oordag verkrag terwyl haar gesin by ʼn plaashuurhuis naby Dorset, tussen Vaalwater en Lephalale, ingetrek het.

ʼn Onbekende man het haar omstreeks 11:00 in die huis oorval en haar na ʼn waterpompstasie gesleep waar hy haar na bewering verkrag het. Die verdagte het met twee selfone van die toneel gevlug.

Wentzel se man het tydens die voorval ʼn vrag besittings in Lephalale, waar hulle sowat vyf jaar gewoon het voor hulle na die plaashuis getrek het, gaan oplaai toe die booswig toegeslaan het.

Daar was drie kinders by die huis, maar hulle is ongedeerd want sy het met alles in haar baklei om hulle te beskerm. Sy is tydens die aanval met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan en het kopwonde opgedoen. Sy het ook beserings aan haar gesig en arms opgedoen terwyl sy terugbaklei het. Sy is na die aanval na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Ek het sopas myself gesensor op dit wat ek wou sê…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.