Gemeenskap saai chaos toe polisie nie verdagte wil vrylaat

Foto: SAPD.

Chaos het Maandag in die Louterwater-omgewing van Joubertina in die Oos-Kaap uitgebreek ná ʼn verdagte in verband met ʼn sakeroof in hegtenis geneem is.

Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het gesê twee verdagtes het na bewering Maandag omstreeks 14:10 ʼn winkel in Louterwater beroof. “Die gemeenskap het kort ná die voorval ʼn verdagte (25) aangekeer en hom aan die polisie uitgelewer,” het Swart verduidelik.

Volgens Swart was polisiebeamptes steeds bedrywig op die toneel toe gemeenskapslede oproerig geraak en geweier het dat die verdagte aangehou word. Hulle het geëis dat die verdagte aan die gemeenskap oorgegee word.

“Beamptes op die toneel het die situasie in bedwang probeer hou terwyl ander beamptes die verdagte na die polisiestasie geneem het,” het Swart gesê.

Die oomblik toe die gemeenskap agterkom die verdagte is nie meer op die toneel nie het hulle gewelddadig geraak en polisievoertuie en -beamptes met klippe begin bestook.

Volgens Swart is een beampte tydens die voorval beseer. Drie polisievoertuie is terselfdertyd omgekeer en bystand is van buurstasies ontbied om die situasie in bedwang te bring.

“Die gemeenskap het aangehou met hul klipgooiery en die polisie het teruggevuur met rubberkoeëls.”

Altesaam 11 voertuie is tydens die voorval beskadig. Gemeenskapslede het ook die R62 ontoeganklik gemaak met klippe en bande wat aan die brand gesteek is, dermate dat die polisie vir openbare orde ingeroep is om te help.

Die polisie het 12 verdagtes, tussen 20 en 43 jaar oud, in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld. Die verdagtes, 11 mans en een vrou, het Donderdag in die hof verskyn.

Maandag se geweld het Dinsdag weer opgevlam en die R62 is met klippe versper. “Hulle het ook glo na ʼn winkel by die R62 gegaan en dit geplunder,” het Swart gesê. Nog 10 verdagtes, tussen 18 en 54 jaar oud, is op aanklagte van openbare geweld in hegtenis geneem.

ʼn Bykomende sewe verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die goedere wat gesteel is toe die winkel geplunder is. Die verdagtes, tussen 17 en 27 jaar oud, word van die besit van gesteelde goedere aangekla.

Die bogenoemde 29 verdagtes het ook Donderdag in die Humansdorp-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Steenkool ·

Tipies van die mense – lewer hom eers uit aan die polisie en dan is jy kwaad as sie polisie hom nie terug gee nie. Hoekom hom dan in die eersteplek oor gee. Ook maar nie so slim nie ne.

Mickey Ritter ·

Wat is die verskil tussen sakeroof en die plundering van ‘n winkel deur die gemeenskap?

Hannes ·

Wonder wanneer gaan die polisie weer polisie word en wet en orde handhaaf

Michael ·

Die onregverdigheid van die polisie soos met die onlangse kfc en adjunkminister gewys het is hierdie optrede nie vergesog nie dit is die enigste optrede wat die regering dwing om aandag te gee dialoog werk nie wat bly oor?

jaco ·

die berig is onduidelik. ek dink wat die gemeenskap wou doen was om, nadat hy formeel by die SAPD aangekla is, hom weer terug te vat sodat hulle hom behoorlik op hulle manier slae kon gee.

Sê Maar Net ·

Môre kla hulle weer dat die polisie nie hul klagtes bywoon nie. Met watse voertuie? Besef duidelik nie hoeveel skade hul berokken het nie. Nie net in geld waarde maar ook dienslewering

Han ·

Brand af, gooi met klippe, plunder as hulle nie hul sin kry nie! Gaan hierdie barbaarsheid nooit ophou nie. Ek is seker dat hierdie “hooligans” nie belasting betaal nie, dus moet die belastingbetaler vir die skade opdok. Nie ‘n wonder dat daar nie vooruitgang in die land is nie; daar word vinniger vernietig as wat daar opgebou kan word. Siek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.