Gemeenskap soek saam na Charlie

Charlie Duvenhage en een van sy susters. Foto: Verskaf

Charlie Duvenhage en een van sy susters. Foto: Verskaf

Die Kameeldrift-polisie, noordoos van Pretoria, het die naweek hande gevat met die gemeenskap in ʼn grootskaalse soektog na Charles Nicolaas “Charlie” Duvenhage (25) wat byna twee weke gelede  die laaste keer in die omgewing gesien is.

Senior assistent-kommissaris, Maggie Tsagane, woordvoerder van die Kameeldrift-polisie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die polisie het die naweek, in samewerking met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en sowat 25 gemeenskapslede, die Paardefontein-gebied deursoek. Maroela verneem ʼn helikopter en die honde-eenheid het aan die soektog deelgeneem.

Die soektog het egter niks opgelewer nie en Charlie se ma, Amanda Duvenhage, het aan Maroela Media gesê hulle is steeds baie bekommerd.

Maroela Media het Woensdag berig Charlie woon saam met sy ouers op Witbank in Mpumalanga. Hy het ’n tweelingbroer en vier ander broers en susters. Hy het nog met niemand in verbinding getree nie.

Hy het op 7 Oktober saam met sy ouers van Witbank na Pretoria gery om sy suster se kinders terug te neem, nadat die kinders tydens die skoolvakansie by hulle gekuier het. Die suster woon op ʼn kleinhoewe in die Paardefontein-omgewing. Amanda se motor het onklaar geraak en hulle het die aand by Charlie se suster oornag.

Charlie het hom vermoedelik op 8 Oktober vir iemand vererg en wou moontlik om 17:30 van sy suster se kleinhoewe na Witbank ryloop. Hy het geen geld, beursie, identiteitsdokument, selfoon of ander besittings by hom gehad toe hy die laaste keer gesien is nie.

ʼn Vermistepersone-saak is by die Kameeldrift-polisie aanhangig gemaak, nadat hy nooit by die huis opgedaag het nie. ʼn Verdagte blou bakkie is die dag van sy verdwyning in die omgewing opgemerk.

Tsagane het gesê die polisie se ondersoek duur voort.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, help met die soektog.

Rechner het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy is tevrede met die polisie se poging en dat hulle tans alles in hul vermoë doen om na hom te soek. “Hulle het reeds by verskeie hospitale, lykshuise en skuilings navraag gedoen en nog niks gekry nie,” het sy gesê.

Rechner het ʼn beroep op mense gedoen om pamflette met inligting oor Charlie op sosiale media te versprei, in die hoop dat iemand hom sal herken. “Hy het geryloop en het familie regoor die land, dus kan hy op enige plek wees,” het sy gesê.

Charlie is skraal, weeg 55 kg en is sowat 1,6 m lank, met bruin hare en groen oë. Hy het ʼn tatoeëermerk van ʼn poema op sy linkerskouer en het ʼn driekwart-denimbroek, ’n blou Billabong-T-hemp en plakkies aangehad toe hy die laaste keer gesien is.

Mense met inligting oor waar hy hom moontlik mag bevind, word versoek om Pink Ladies by 072 214 7439 of 083 378 4882 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sune van Heerden ·

Dagsê Sandra

Ons het jou vorige kommentaar verwyder omdat dit ‘n reaksie was op ‘n kommentaar wat ons verwyder het.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

SNEL ·

Baie sterkte aan die ouers en familie, dit moet vreeslik wees om nie te weet waar hy is en of hy lewe of dood is nie. Ek bid saam met julle dat hy veilig is en gou gekry sal word. Baie sterkte!

Sune van Heerden ·

Dagsê anon

Maroela Media sal ‘n opvolgberig doen sodra nuwe inligting beskikbaar is.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.