Gemeenskap spook ure om kinders uit spruit te red

Die plaaseienaar sê dit was verstommend om te sien hoe almal ingeklim en gehelp het om die motor uit die water te probeer haal. (Foto: Verskaf)

“Die toneel was een van verslaentheid.”

Só sê dr. Arnold Smith, plaaslike leraar van die NG Kerk op Steynsrus, wat saam met ouers langs ʼn spruit gebid het terwyl lede van die gemeenskap gespook het om hul kinders uit die bruisende waters te haal.

ʼn Motor is Sondagoggend deur vloedwater op ʼn laagwaterbrug op die plaas Somerset-Oos naby Steynsrus in die Vrystaat meegesleur. Ses kinders en ʼn volwassene het ten tyde van die voorval verdrink. Nog ʼn kind word steeds vermis.

Frits Joubert, eienaar van die plaas waar die voorval gebeur het, sê dit was verstommend om te sien hoe almal ingeklim en gehelp het om die motor uit die water te probeer haal.

“Ek is dankbaar om deel te wees van ’n gemeenskap waar mense nog vir mekaar omgee en vinnig reageer in tyd van nood.”

Maroela Media het vroeër berig daar was drie volwassenes en sewe kinders in die wit Honda Ballade toe dit meegesleur is. Twee volwassenes, Mohau Mokoena en Swartbooi Hlongwane, kon daarin slaag om uit die motor te kom en het oorleef.

Die motor waarin die drie volwassenes en sewe kinders was (Foto: Verskaf)

Die liggame van Tshokolo Hlongwane (26), die bestuurder, en ses kinders, Thapelo Tekanya (4), Ntaoleng Mpeko (13), Relebohile Mpeko (9), Mojalefa Mosibi (12), Bokamoso Maphakisa (8) en Hopolang Monyatsi (6) is gevind. Nog ʼn kind, Karabo Kok (7), was teen laat Sondagmiddag nog soek.

Die insittendes het op die naburige plase Delarina en Kylami gewoon.

Joubert vertel sy plaaswerkers het hom Sondag net na 09:00 in kennis gestel van ’n motor vol kinders wat by die laagwaterbrug deur water meegesleur is.

“Ek, my seun, Kobus, en sy neef Henko het ons na die toneel gehaas. Toe ons daar aankom, het ons ’n klomp paniekbevange mense rondom die spruit aangetref. Hulle het vir ons uitgewys waar die motor onder die water verdwyn het,” vertel Joubert.

“Ons het probeer om die insittendes wat in die motor vasgekeer was te red, maar die water was net te sterk.”

Joubert het sy werkers vir kilometers aan weerskante van die spruit laat afhardloop op soek na nog moontlike oorlewendes wat deur die stroom weggevoer is.

Joubert en sy vrou, Antoinette, het oor die radio geroep en gevra dat lede van die gemeenskap die polisie en nog hulp moet ontbied.

Boere en werkers het Sondagoggend gespook om die insittendes van die motor te red (Foto: Verskaf)

Die polisie – onder wie die stasiebevelvoerder van die dorp, kapt. Karen Dennis – asook mense van aangrensende plase het binne enkele minute op die toneel opgedaag.

“Ten spyte van die sterk stroom het almal ingespring en alles in hul vermoë gedoen om die insittendes van die motor te red.”

Joubert vertel hulle het mettertyd ’n kabel aan twee trekkers weerskante van die spruit vasgemaak om só die motor uit die water te probeer trek.

“Harold Hills (24) en talle ander jong boere het hul eie lewe in gevaar gestel om die kinders uit dié sterk stroom water te red. Harold het sy hande stukkend gesny om kettings aan die motor vas te maak en dit uit die water te trek. Al die bure en werkers het ook gehelp.”

Toe die liggame van vier jong kinders uit die water gelig is, was die gemeenskap verpletter.

“My dogter, Rianca, het suikerwater vir ’n histeriese ma wie se kind se liggaam uit die water getrek is, ingejaag.”

Duikers van die polisie het die middag omstreeks 16:00 die liggame van nog twee kinders en die bestuurder van die voertuig sowat 150 m van die toneel in ’n groot kuil uitgeduik.

Een van die kinders, Karabo, is egter nog nie gevind nie.

Antoinette Joubert het Sondag teen sononder by die vermiste kind se ma gesit en vir haar gebid (Foto: Verskaf)

“Antoinette het teen sononder by Karabo se ma gesit en vir haar gebid.”

Joubert vertel dit was vir hom wonderlik om te sien hoe die plaasgemeenskap kragte saamgesnoer het om die insittendes te red.

“Ek is op aangrypende wyse vanmiddag (Sondag) deur een van die werkers van Delarina – wat twee kinders vandag verloor het – bedank. Hy het my ook gevra om al die mense te bedank wat probeer het om sy kinders te red.”

Joubert vertel dat dit ’n traumatiese ervaring vir almal betrokke was.

“Dit is so hartseer om die mense wat hul kinders verloor het so verwese te sien.”

Smith beoog om Dinsdag die betrokke families by hul huise te gaan besoek en dan individueel met elkeen te praat.

Die Joubert-gesin bly al 50 jaar op dié Vrystaatse plaas.

Volgens Joubert is hulle baie dankbaar oor die reënval van ongeveer 650 mm wat sedert Oktober in dié gebied uitgesak het, maar het ʼn beroep op die ander boere gedoen om hul vroue, kinders en plaaswerkers te waarsku teen gevaarlike water wat deur swaar reën veroorsaak is.

Die spruit op die plaas Somerset-Oos (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Regverdigheid

Sad sterkte aan die familie .

Annelize

Dis regtig tragies wat hier gebeur het, maar liewe goeie genade, DRIE volwassenes en SEWE kinders in daardie enkele motor?

Nie net het die bestuurder die motor oorlaai nie, maar toe is hy waaragtig waar nog so roekeloos om deur sulke water met ‘n oorlaaide voertuig te ry. Weereens moet onskuldige kinders met hulle lewens boet agv ‘n volwassene wat nie verder kan dink as wat sy neus lank is nie. Persoonlik is ek al by moeg verby vir sulke onverantwoordelikheid, en onskuldiges moet die gelag betaal. Die arme ouers van hierdie kinders.

Chris dupreez

10 mense in die voertuig, wow.

Maggies

Tragies maar ook ‘n mooi berig. Om te kon lees hoe die gemeenskap saamgestaan het gee mens hoop.

Martie

Dit is so tragies.