Gemeenskap spring in om Heldeakker op te knap

Marina van der Westhuizen (Foto: FAK)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Moot-Kultuurnetwerk het Saterdag skouer aan die wiel gesit, hande gevat met lede van die gemeenskap en ingespring om die Heldeakker in Pretoria in stand te hou, ná die maandelange verwaarlosing van die plaaslike regering.

Lede van die gemeenskap en verskeie organisasies het in groot getalle opgedaag om hand by te sit en het trots hul hande vuil gemaak om hul erfenis te beskerm.

Tydens ’n onlangse besoek het die FAK bevind dat die gras heuphoogte groei en sommige van die grafte kon glad nie gesien of besoek word nie. Daar is boonop vroeër vanjaar ’n gat in die muur gery wat steeds nie deur die Tshwane-metroraad weer opgerig is nie.

“Vandag is weereens net ’n bewys van wat vermag kan word wanneer organisasies bereid is om hande te vat en te werk tot een gemeenskaplike doel,” sê Barry Müller, die kultuurorganiseerder van die FAK.

“Dis ’n vreugde om te sien hoe lede van die algemene publiek bereid is om hul hande diensbaar te stel en om saam met ons ’n toekoms vir ons erfenis te verseker deur hierdie erfenisbakens te onderhou.”

Marina van der Westhuizen, ’n jong vrywilliger, het saam met haar man en suster hulself tot die taak gevoeg om die Heldeakker nie net in stand te hou nie, maar ook ’n plek te maak waarop ons kan trots wees.

“As ons dit nie self doen nie, wie gaan?” vra Van der Westhuizen.

Dries Bekker van We Care, Grave Maintenance maak die graf van Boeregeneraal Nicolaas Smit skoon (Foto: FAK)

Müller sê dit is mense soos sy wat vir die FAK hoop vir die toekoms van ons erfenis gee.

AfriForum se Noord van die Berg-tak het ook hand bygesit, asook die Rapportryers se Jakarandakorps.

Vir WL Roos, lid van dié korps, is dit belangrik om by erfenisbewaring betrokke te wees.

“Ons harte is hier,” sê Roos. “As ons hier vir ons kinders en vir almal kan wys, dat dít is waar ons vandaan kom en ons herkoms opbou, kan ons voortgaan en die toekoms bou.”

Die Tshwane-metroraad het in die afgelope week die lang gras getem en die vrywilligers het met die skoonmaakaksie gras gehark, rommel weggegooi, skoongemaak en netjies gemaak.

Robert Manganye van die Tshwane-metroraad het die skoonmaakaksie bygewoon, saam gewerk en ’n hand uitgereik om uit te vind wat die FAK se behoeftes is.

Die FAK sal op hoogte gehou word oor die herbou van die muur.

Gerrie Kotze (76) het ook van die skoonmaakaksie te hore gekom en het ook sy Saterdag opgeoffer om hand by te sit en wil graag meer doen vir erfenisbewaring.

“Elkeen se bydrae sal sekerlik tel vandag.”

Die gras rondom die Heldeakker is tydens die skoonmaakaksie getem. Die FAK onderneem om die Heldeakker gereeld in stand te hou. Die volgende aksie gaan op 13 Mei 2023 plaasvind.

Die FAK wil ook vir Dries Bekker van We Care Grave Maintenance bedank wat die graf van Generaal Nicolaas Jacobus Smit, ’n generaal tydens die Slag van Majuba, gerestoureer het. Die teks op die graf was onleesbaar en die graf is verfraai en netjies opgeknap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Eugene ·

Wat maak Robert manganye daar? Jaag hom weg. Te sleg om self iets te doen. Nou sien Hy wat gedoen word

Lesly ·

Welgedaan aan al die betrokkenis. Dit help nie om te wag vir die klomp wat al die belasting geld opgaar nie, synde daar ‘n gebrek aan kultuur is

Lillian ·

Dankie dat julle bereid is om dit te doen. Ons is nog altyd ‘n volk wat skouer aan die wiel sit en dinge self doen wanneer niemand anders wil nie.

Di ·

Die korrupte regering het vir niks anders tyd nie, te besig om planne beraam om meer geld te verduister. ALLE begrafplase lyk soos varkhokke! Skryende skande dat ons mense self pogings moet aanwend om die omgewings waarin ons bly asook plekke waar ons geliefdes begrawe is, skoon te maak

Manya ·

DustBugs Travel op YouTube ry Suid Afrika plat en wys baie histories plekke, grafte, kerke en ander histories geboue in vervalle toestand. Inwoners van dorpe moet self armpies uit die moue of dis verlore vir altyd.

Manya ·

Wel gedaan, julle! En is spanwerk nie net absoluut n fees nie!?

Althes ·

Die huidige bestel het geen skaamte of selfwaarde nie. Hul sal nie regkry om SA burgers se siele en wil breek nie. Dankie dat jul ingryp.

Pierre ·

Glo maar iemand sal die gerestoreerde grafsteen gaan beskadig net om n punt te maak.

madels ·

Dis tyd dat ons ons hande uit ons sakke haal en nie altyd skree dat die “regering” niks doen nie. Ons in ons gemeenskap tel self ons papiere en rommel op en hou die gras langs ons erwe kort. As ek n papier sien le in die pad, dan stop ek met my kar en tel dit onmiddelik op. Almal in ons gemeenskap is toegewyd om SELF alles mooi, skoon en netjies te hou. Trots op my bure

Delia ·

In Benoni ook. Cleaner Projects en Litter Bugz is woelig. Ons kan nie in varkhokke bly nie en dit ons dorp noem nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.