Gemeenskap staan saam ná gesin als in brand verloor

ʼn Gesin van Centurion het Donderdag al hul besittings in ʼn huisbrand verloor. Foto: Ursula Oberholzer

ʼn Gesin van Centurion het Donderdag al hul besittings in ʼn huisbrand verloor. Foto’s: Ursula Oberholzer

Die Centurion-gemeenskap samel klere en huishoudelike items in vir ʼn gesin van The Reeds wat Donderdagoggend al hul besittings in ʼn huisbrand verloor het.

Ursula Oberholzer, ʼn buurvrou wat die skenkings koördineer, het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om te help kort nadat die gesin se huis omstreeks 01:00 afgebrand het.

Oberholzer het Donderdagmiddag by die huis gestop en vlugtig met die vrou, slegs bekend as Annie, gepraat.

Na wat verneem word, was die gesin nie by die huis toe die brand ontstaan het nie. Die pa reis gereeld vir werk en Annie en haar twee dogters, albei in hul vroeë 20’s, het ná ʼn geleentheid in Centurion kollegas in Johannesburg gaan aflaai.

Hulle was besig om terug huis toe te ry, toe Annie deur haar direkte bure meegedeel is dat hul huis in ligte laaie is.

“Hulle het alles in die brand verloor en het net die klere aan hul lywe oor. Ek het myself in hul skoene gesit en het besluit om as ʼn ma en ʼn buurvrou uit te reik,” het Oberholzer gesê.

Oberholzer het begin om klere, kos en huishoudelike items vir die gesin in te samel om hulle by te staan totdat hulle weer op hul voete is. “Gelukkig het hulle versekering, maar ʼn mens weet nooit hoe lank dit neem voor hulle uitbetaal nie.”

Annie was Vrydag nog te getraumatiseerd om met die media te praat en het gesê sy fokus nou net daarop om nuwe verblyf te reël en die versekeringsake uit te sorteer.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het aan Maroela Media gesê die moontlike oorsaak van die brand word nog ondersoek.

Oberholzer het gesê ʼn dag nadat sy die hulpkreet uitgestuur het, is sy reeds oorweldig deur die gemeenskap se ondersteuning en bereidwilligheid om te help. “Die gemeenskap is wonderlik. Dit is wonderlik om te sien dat mense nog omgee vir mekaar, ʼn mens moet omgee vir mekaar,” het sy bygevoeg. Mense wat skenkings wil maak, kan Oberholzer by 082 463 4331 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elfie ·

Ursula, jy is ‘n wonderlike voorbeeld van ‘n MENS mens! Mooi so vir jou omgee!

Poppie ·

Ek werk self vir versekering en met n wegholbrand van oor die 40 huise wat afgebrand is, binne n dag al begin om geld uit te betaal aan die kliente. In sulke gevalle is die versekeraars rerig simpatiekvol en betaal vinnig uit….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.