Gemeenskap staan saam tydens Parys-kragkrisis

Argieffoto.

Argieffoto.

Inwoners van Parys in die Vrystaat moes sedert Maandag sonder krag en water oor die weg kom nadat ʼn skakelaar by ʼn substasie in die dorpie ontplof het.

DA-raadslid Johan Roos het Woensdag aan Maroela Media gesê ʼn aantal faktore het tot die ontploffing bygedra. “Hier word gereeld kragkabels gesteel wat ekstra druk op die verouderde stelsel plaas,” het Roos gesê. “Boonop was daar nog Maandag beurtkrag ook voor die skakelaar ontplof het. Daarna was die hele dorp sonder krag, en sonder krag kan die waterpompe nie werk nie.”

Roos het gesê kenners is dadelik ontbied, en daar is aanvanklik vasgestel dat die kragonderbreking tot Vrydag kon voortduur. “Die grootste probleem was water. Ons het gelukkig baie hulp van die landelike gemeenskap gekry en boere het water na die dorp en kernpunte, soos die hospitaal, aangery. Plaaslike sakemanne het ook probeer help waar hulle kan.”

Sommige pasiënte is van die plaaslike hospitaal na ʼn nabygeleë hospitaal oorgeplaas.

“Dit was hartroerend om te sien hoe die hele gemeenskap, selfs die polisie, sakelui, GPF, amptenare van die Ngwathe-munisipaliteit, die provinsiale regering en Eskom saamgestaan het om die probleem op te los,” het Roos gesê. “Tegnici het al om die uur gewerk en die kragtoevoer is Woensdagoggend teen 04:00 herstel.”

Roos het gesê daar is nog klein probleme wat sporadiese kragonderbrekings kan veroorsaak, en dit gaan nog ʼn ruk neem vir die opgaardamme om vol te loop.

“Dit het ʼn krisis gekos om bewusmaking te skep. Die probleme wat ervaar is, kan nou behoorlik aangespreek word om te verhoed dat so iets weer gebeur,” het hy bygevoeg.

Hy het gesê daar is reeds sprake dat die polisie meer roetine patrollies by die substasie gaan doen om kabeldiefstal te bekamp. “Daar is ook ernstige sprake om ʼn kragopwekker aan te skaf wat die waterprobleem sal oplos as daar nie krag is nie, veral met beurtkrag wat ʼn daaglikse deel van ons lewens word.”

Roos was vol lof vir die gemeenskap en rolspelers, vir al die nuwe munisipale bestuurder Lucky Kamolane, oor hoe hy die situasie hanteer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Asjas ·

Puik! Goeie werk. Stel ‘n goeie voorbeeld en hopelik sal ander volg.

Gerhard Bezuidenhout ·

Ons in Parys het n voorsmaak gehad van hoe dit sal voel as daar n algehele verduistering kom. Snags pikdonker en bedags snikwarm met geen water . Dit is nie aangenaam nie en hoop maar net dat Eskom se oe oopgaan.

ladybug ·

In ‘n ander berig word berig dat 25 jaar gelede het Mandela en sy kaders oorgeneem, en ja, 25 jaar later is dit waar ons staan in ons land, sonder water, sonder krag … mooi so ANC, doen so voort … tweede Zimbabwe lê net om die draai …

Elbe Ferreira ·

Baie dankie aan al die betrokke persone vir die herstel van die krag toevoer, die LVG en die boere vir die aflewering van die water. ‘n Baie groot dankie aan al die inwoners van Najaarsrus Sentrum vir Bejaardes vir jul geduld en rustigheid in hierdie groot krisis. Aan die personeel van Najaarsrus, julle is die beste.

Alet ·

Aan die nuwe munisipale bestuurder ‘n “Well Done”. Hoop jy stel ‘n voorbeeld aan al die ander munisipaliteite en dat hulle jou voorbeeld kan volg.

Bosvark ·

Ek het in Parys groot geword en dit altyd geniet as hulle die kanale oopmaak dat water in al die vore loop. Hoekom hulle dit nie gedoen het nie sal hulle alleen weet. Ek weet die water in die Vaal revier kan nie gedrink word soos jare terug nie maar kan te minste geskep word uit die vore en gekook word. Maar net as jy krag het so dit kon ooknie gedoen word nie. Jammer om te sien dat n dorp op die Vaal sonder water sit, tog so naby maar tog so ver.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.