Gemeenskap steeds erg geskok ná kleinhoewe-moord

Argieffoto

Argieffoto

Die gemeenskap van Rietkol, Mpumalanga, is steeds erg geskok nadat ʼn bejaarde inwoner vermoor en sy huis op ’n kleinhoewe met sy liggaam binne aan die brand gesteek is.

Derek Bester, ʼn lid van die plaaslike buurtwag, het aan Maroela Media gesê George Wesvaal se moordenaars het glo ʼn paar dae ná die moord ʼn paar keer teruggekeer na sy huis, vermoedelik om van sy besittings te roof. Daar word vermoed dat Wesvaal reeds verlede Sondag vermoor is, maar sy huis eers Woensdag in die vroeë oggendure aan die brand gesteek is.

Bester het gesê Wesvaal was in sy 70’s en ʼn kluisenaar wat nie juis met die ander inwoners gemeng het nie. Sy buurvrou het glo Sondag opgelet dat sy bakkie nie voor die huis staan nie, maar het aangeneem hy is net êrens heen. ʼn Opsporingstoestel het later glo gewys dat die bakkie Sondag al in Etwatwa was.

“Dit lyk asof hulle hom Sondag al vermoor het en toe met sy bakkie rondgery het. [Die moordenaars] was ʼn paar keer weer in die omgewing. Hulle het Woensdagoggend sy huis aan die brand gesteek en die bure het die brandweer gebel. Nadat die vuur geblus is, het die brandweermanne sy lyk binne gekry, maar dit was erg verkool,” het Bester gesê.

Een van Wesvaal se bure in die omgewing het aan Maroela Media gesê hy was ʼn moeilike man wat nie juis met enige van die inwoners oor die weg gekom het nie. Dit is moontlik waarom niemand agtergekom het dat hy vir ʼn paar dae voor sy dood nie gesien is nie.

Volgens die buurvrou wat nie haar naam genoem wil hê nie, het veiligheidskameras glo later gewys hoe Wesvaal se bakkie Woensdag ongeveer 00:10 by sy huis aankom en minute later weer wegry. Kort daarna was daar ʼn ontploffing en die huis was in ligte laaie.

Volgens inwoners in die omgewing is Wesvaal in Desember verlede jaar erg aangerand toe daar by sy huis ingebreek is. Twee weke voor sy dood is hy weer aangerand toe ʼn onbekende persoon hom met ʼn pyp geslaan het. Dit is nie duidelik of die aanranding deel van ʼn rooftog was nie.

Die polisie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

Daar word so ‘n groot bohaai gemaak oor Marikana se slagoffers. Hoeveel boere/kleinhoewebewoners is sedert 2012 vermoor, maar jy hoor geen minister wat dit eers van belang ag nie. Is dit deel van hulle modus operandi om van boere/kleinhoewe-bewoners ontslae te raak? Is dit wat die ANC beoog het toe hulle deur die strate geloop en verkondig het: KILL THE BOER KILL THE FARMER?

Peet Schabort ·

Ek haal aan: “Kort daarna was daar ‘n ontploffing en die huis was in ligte laaie”.
Dit dui daarop dat die modus operandi was om ‘n kers, lamp ens. in die huis aan die brand te steek. Daarna word die gasbottel(s) oopgedraai en padgegee. Dan volg die ontploffing wat alles te pletter skiet en deur vlamme verteer.
Die wreedheid ken geen perke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.