Gemeenskap treur oor VF Plus-raadslid

Jan Oost (46) en sy vrou, Sandra, en die seuns, Jan en Eben (Foto: Verskaf)

Die VF Plus in die Vrystaat treur oor die dood van Jan Oost (46), VF Plus-raadslid van die Mafube-munisipaliteit in Frankfort. Hy is Maandag op slag dood in ’n motorongeluk.

Die ongeluk het Maandag omstreeks 17:00 op die R54-pad tussen Villiers en Vereeniging plaasgevind.

Volgens Jan van Niekerk, leier van die VF Plus in die Vrystaat, het ’n vragmotor na wat verneem word vir ’n slaggat uitgeswaai en reg van voor teen Oost se motor gebots.

Oost, sy vrou, Sandra, en hul twee seuns, Eben en Jan, was ook in die motor.

“Nooddienste het tot laat gespook om Jan uit die motorwrak te bevry. Die vragmotor was glo vol bakstene en het bo-op Jan se voertuig gestaan,” sê Van Niekerk.

Van Niekerk sê Sandra en Jan jnr. is in ’n kritieke toestand in die Unie-hospitaal in Alberton, Gauteng.

“Klein Jan is in ’n geïnduseerde koma. Al twee is ernstig beseer en het baie frakture opgedoen.”

Eben, wat ook ernstig beseer is, is per ambulans na ʼn hospitaal op Frankfort geneem. “Die dokters het agtergekom sy blaas het gebars en hy gaan ook nou na die Unie-hospitaal oorgeplaas word. Dan gaan hy by sy mamma en boetie wees.”

Van Niekerk sê Oost se dood is ’n groot slag vir die VF Plus.

“Jan was nie net ’n kollega nie, maar ook ’n goeie vriend. ’n Uitstekende raadslid en ’n pa wat alles vir sy vrou en kinders sou opoffer. Hy was geweldig trots op sy gesin.”

Van Niekerk beskryf Oost as ’n omgee-mens wat altyd gereed was om ander te help. “Hy sou elke oproep afsluit met: ‘Sê my asseblief as ek jou met iets kan help’.”

Die DA in Frankfort het in ’n verklaring gesê Oost se dood gaan ’n groot leemte in die gemeenskap laat.

Die NG Kerk Frankfort het op Facebook sy innige simpatie en meegevoel teenoor Sandra en die seuns betuig.

Oost het ’n leningsagentskap op Frankfort besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danny

Nog ‘n lewe geneem omdat ons paaie in hulle hel is. Wanneer gaan die Regering broek optrek en hulle werk doen.. PRIVATISEER ALLES. Die tyd is NOU dat besighede ingryp en privatiseer waar hul kan.

Maritza

My innige simpatie vir die familie

Shakespeare

Nog ‘n moord op die onbevoegde, korrupte ANC kaders se lysie.

AW

Hartseer !!

Marianna

Wat word gemaak met al die geld wat die regering oes van die petrol, parafien en diesel??? Hulle weet ons kan nie sonder ons motors in hierdie land nie, so hulle het ons maar in ‘n blik en ons moet maar net betaal vir astronomiese salarisse vir mense wat moet sien dat die paaie reggemaak word. Dis ‘n skande ons land lyk. Hoeveel mense moet nog hulle lewens verloor deur slaggate?