Gemeenskap treur steeds oor bus-eienaar se dood

Samuel “Oom Sam” van Wyk (Foto verskaf)

ʼn Bekende in die vervoerbedryf het steeds die gemeenskap in die Noord-Kaap in skok en rou.

Samuel “Oom Sam” van Wyk (86) van die voormalige koperdorpie, Nababeep in Namakwaland, ʼn pionier in die plaaslike vervoerbedryf, het Donderdagaand in die Springbok-hospitaal gesterf.

Hy is waarskynlik in sy slaap oorlede en het vermoedelik onbewustelik te veel kalmeerpille gedrink. Hy was bewusteloos en hospitaalpersoneel het tevergeefs probeer om hom by te bring.

Een van sy seuns, Les van Wyk, het vertel dat sy pa die dag deurmekaar en onstabiel was. Volgens hom het sy pa ook soms net verdwyn asof hy vir iets wou wegkom of vlug.

“Oom Sam”, soos hy bekend gestaan het, was die eerste bruin man wat ʼn vervoermaatskappy rondom 1975 in Namakwaland begin het. Dit was voor 1994 toe hy met groot en gevestigde maatskappye soos die Okiep Copper Company (OCC) en Jowell’s Transport moes meeding.

Volgens Les het sy pa egter deurgedruk en aanvanklik met ʼn ou Bedford-vragmotor begin. “Ek het my pa van die begin af gehelp.” Plaaslike werkers is tussen Nababeep en Springbok vervoer.

Een van die bekendste vervoer- en busmaatskappye in die Noord-Kaap, Van Wyk’s Luxury Coaches, het jare later eers tot stand gekom. Dit bedien die meeste provinsies in die land en Namibië. Tans beskik die maatskappy oor ʼn baie groot vloot busse, taxi’s en ander vervoertuie.

Van Wyk’s-busdiens (Foto verskaf)

Vier seuns en een dogter van die agt kinders uit sy eerste huwelik is of was in diens van die maatskappy. Dit verskaf ook werk aan talle plaaslike inwoners.

Mense het Oom Sam as ʼn baanbreker, legende en harde werker beskou. Ander beskryf hom as ʼn nederige, streng en “omgee-mens” wat ʼn oop hand gehad het.

Volgens Les was sy pa ʼn “plat-op-die-aarde” mens wat nooit gespog het oor sy rykdom nie. “My pa het ons geleer dat jy moes deurdruk met jou planne al is dit soms against all odds. Hy het swaarkry geken en geweet waar geld vandaan kom.

Hy het in 2015 weer getrou ná die dood van sy eerste vrou. Hy laat sy vrou, vier seuns en drie dogters agter.

Oom Sam se begrafnisdiens is Saterdagoggend in die VGK te Nababeep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ander Annie ·

Ai hoe hartseer is ek nou oor oom Sam. My pad het ook met sy pad gekruis en hy was altyd so dierbaar. My innige simpatie aan sy familie. Rus sag oom Sam. Oom was ‘n wonderlike voorbeeld vir baie. Oom Sam het diep spore getrap.

Susan ·

Rus sag oom Sam. Jou nalatenskap is baie groot en n meer bekende en vriendeliker mens sal jy vêr soek.

Marinda ·

R.I.V. Ai, dis nou hartseer.
Our condolences to the family.

P J Fourie ·

RIV en innige simpatie met die naasbestaandes. Julle is net soos Oom Sam, goeie en waardige inwoners van Namakwaland.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.