Gemeenskappe spring in om mediese personeel by te staan

(Argieffoto: Go Nakamura/Getty Images/AFP)

“Hulle het goed in plek gesit, beraders ingekry, en ekstra personeel ingebring. Maar daar kom ʼn punt waar selfs dít nie genoeg is nie.”

Só vertel dr. Amelia Brink, ʼn pediater by Mediclinic Vergelegen in Somerset-Wes in die Wes-Kaap, oor die daaglikse uitdagings wat hospitale tans landwyd ervaar: ʼn tekort aan personeel; vol Covid-19-sale; personeel wat oorwerk is en die dood.

“Met die eerste golf kon jy jouself tot ʼn mate voorberei. Daar was ook ondersteuning van die publiek gewees en vrywilligers het in die begin kom help. Dit het erg geraak, maar dit het nooit so geraak dat die mense heeltyd om jou doodgaan en dat daar rye pasiënte buite is wat by die hospitaal probeer inkom nie.”

Met die tweede Covid-19-golf is die aantal pasiënte baie meer as tydens die eerste golf. “Ons sien nie die einde in sig nie. Dit gaan besig, almal is net moeg.”

Brink en haar man, wat ʼn narkotiseur by dieselfde hospitaal is, het oor die feesseisoen gewerk, en is steeds aan diens. Wanneer een dokter of suster die virus opdoen, moet ʼn hele skof hulself isoleer. Gevolglik moet ander dokters en susters daar gaan uithelp.

“Daar is dan net oral ʼn tekort aan personeel. Al kom daar bykomende hulp in, dit is net nooit genoeg nie.”

Sy voeg by die publiek se onverskillige reaksie en onvermoë om te besef wat werklik aangaan, is wat mediese personeel onder kry.

“Jy sien foto’s op sosiale media van familie en vriende wat bymekaar kom. Binne die hospitale sien jy die realiteit: mense wat letterlik doodgaan, en regtig ernstig siek is. Die publiek sien nie die gesinne inkom of vriende wat saamgekuier het en een na die ander behandeling nodig het nie.”

Volgens die Wes-Kaapse regering se jongste Covid-19-statistieke het die provinsie meer as 37 000 aktiewe Covid-19-gevalle met 3 091 mense wat in die hospitaal opgeneem is en 356 mense wat in die intensiewesorg- of hoësorgeenheid is. Die dodetal in die Wes-Kaap het dié week die 7 800 kerf verbygesteek.

Nadat Brink die afgelope naweek met personeel gesels het nadat hulle kom uithelp het of aan die einde van hul skof op pad was huis toe, het sy besluit om op te tree en is die hutsmerkveldtog #adoptanurse gebore. “Die susters loop uit by hulle skof en hulle huil net, hulle kan nie ophou huil nie.”

Brink het toestemming van die hospitaal gekry en ʼn omskrywende lys van spesifieke uitdagings opgestel. Haar versoek was drievoudig: ʼn groep van vier tot vyf mense om ʼn gesondheidswerker vir die volgende twee maande te ondersteun deur gebed en om maaltye te verskaf; beraders wat bereid is om in die hospitaal se teekamer te sit en oor etenstyd berading te kan gee; en vrywilligers wat as portiere kan optree, fone kan antwoord, administrasiewerk kan doen, of pasiënte kan help voer.

Sy het die versoek op haar sosiale media geplaas en vier gemeentes binne haar onmiddellik omgewing gevra om die boodskap te versprei.

Teen Saterdagaand, vertel Brink, het sy meer as 150 boodskappe ontvang van lede van die publiek wat hulle hulp aanbied.

En teen laat Sondagmiddag voordat sy na haar skof huis toe gaan, vertel die bestuur aan haar mense het net by die hospitaal opgedaag met skenkings, bemoedigingsbriewe en kaartjies. Die briewe is teen die hospitaalmure opgesit vir verpleegpersoneel om te lees.

“Die verskil in die personeel binne een dag is net absoluut wonderlik; dit is asof hulle weer nuwe moed het om aan te gaan,” sê Brink. “Jy kan nie glo hoe die gemeenskap saamgekom het nie”.

Brink het boodskappe van so ver as oorsee ontvang, ook plaaslik vanuit Calitzdorp, Pretoria en Johannesburg. Sy het dié mense aangemoedig om na hul eie plaaslike hospitale uit te reik, wat sy meen sit met presies dieselfde uitdagings.

Een van die gemeentes wat Brink se versoek aan die publiek op hul eie sosialemediaprofiele gedeel het, is ook kort na die plasing oorweldig met positiewe reaksie.

Annette Gerber van die Helderberg-gemeente het aan die ontvangkant van dié reaksies gestaan en beskryf dit as ongelooflik. “Daar is mense wat vra of hulle kan help kos maak, daar is beraders, maatskaplike werkers, kliniese sielkundiges wat aangebied het om te help met berading. Dit is net ongelooflik.”

Danksy die #adoptanurse-veldtog is ondersteuningspanne vir ʼn groep verpleegpersoneel reeds saamgestel. Vrywilligers kan ook ondersteuningspakkies vir gesondheidswerkers help saamstel deur dit na Helderberg-gemeente te neem.

Die gemeente is, nadat die versoek meer as 800 keer op Facebook gedeel is, genoodsaak om ʼn rampvergadering saam te roep om die pad vorentoe te bespreek. Lede van die publiek in die Somerset-Wes-omgewing kan betrokke raak deur die aangepaste wyse van hulp op die Helderberg-gemeente se Facebook-blad te lees, of ʼn e-pos te stuur na [email protected].

Die publiek kan ook by Mediclinic Vergelegen, Helderberg, en Busamed aansoek doen om as vrywilligers te help. Klik hier vir meer inligting.

Inwoners wat ook eerstehands ervaar het hoe gesondheidswerkers by Mediclinic Vergelegen ʼn geliefde aan die lewe gehou het, neem self die vrymoedigheid om hul dank te bewys.

Foto: Etienne Piek

Etienne Piek, streeksbestuurder vir Mergon Suid-Afrika, het eerstehands ervaar hoe onbaatsugtig gesondheidspersoneel optree nadat sy vrou, Wilma, vir ses dae in die hospitaal se intensiewesorgeenheid vir Covid-19 behandel is. Wilma is na byna 10 dae hierdie week uit die hospitaal ontslaan.

“Met die tyd wat ons in intensiewe sorg deurgebring het, het ons besef die hospitale het nie genoeg personeel nie, die personeel werk lang en dubbel skofte. Hulle gee hulself onbaatsugtig.”

Uit dankbaarheid vir die versorging van ʼn nabye geliefde het die Piek-gesin kaartjies, sjokolades en blomme aan sowat 70 gesondheidspersoneel geneem onder die hutsmerk #blessamed, met die hoop dat ander mense dit ook sal doen.

“Ons mediese personeel werk heeldag en in die meeste gevalle kry hul nie kans om te eet nie en moet hulle nog by die huis vir hul gesinne ook sorg, terwyl sommiges enkelma’s is. Niemand sorg daarvoor nie.

“Die minste wat ons kan doen, is om uit ʼn gemeenskap te sê, kom ons help. Neem gevriesde maaltye, of iets wat hulle maklik kan eet, en skryf ʼn kort briefie wat net die moraal van die werkers kan lig, want hulle werk letterlik elke dag met die dood.”

Piek voeg dringend by: “Kom ons slaan, ter wille van die samelewing, ag op wat aan die gang is en leef nie onverskillig nie. Kom ons vat hande en respekteer die regulasies wat in plek is, om ander mense aan die lewe te hou.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.