Gemeenskapsentrum geplunder; polisie sit glo arms gevou

Boosdoeners het skade aan Helpende Hand se nuwe gemeenskapsentrum in die noorde van Pretoria aangerig. (Foto: Verskaf)

Helpende Hand se nuwe gemeenskapsentrum in die noorde van Pretoria is die afgelope twee weke “van enigiets waardevol” gestroop nadat boosdoeners sedert Jeugdag reeds twee keer toegeslaan en alles van krane tot deurhandvatsels gesteel het.

Die polisie het kort ná albei sake aanhangig gemaak is, aangedui dat hy weens onvoldoende bewyse nie verder gaan ondersoek instel nie. Dít glo sonder dat die polisie ná die tweede voorval eens vingerafdrukke op die toneel geneem het.

Mariana Kriel, Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder van Gauteng-Noord, sê die welsynsorganisasie het begin vandeesmaand die sleutels tot sy nuwe perseel in Danie Theronstraat ontvang nadat die vorige inwoners uitgetrek het.

“Weens praktiese doeleindes was dit nie vir ons moontlik om dadelik van die vorige sentrum, waar ons ʼn ruimte by ʼn kerk gehuur het, te trek nie. Dit is dalk ook maar goed so, want teëspoed het kort daarna getref,” sê Kriel.

Boosdoeners het op 16 Junie toegeslaan en al die koperpype, krane, wasbakke en deurhandvatsels gesteel.

“Iemand het vir ons gesê daar kom water by die geiser uit. Ons het die geiser gaan afskakel en aanvanklik nie besef dat alles nie pluis is nie. Eers toe ons die Saterdag [19 Junie] weer daar aankom om die afstandbeheerders in te stel, het ons agtergekom dat al die pype gesteel is.

(Foto: Verskaf)

“Ons sien toe ook die hekmotors, buiteligte en boorgatpomp is skoonveld.”

’n Saak is by die Pretoria-Noord-polisiestasie aanhangig gemaak, hoewel die polisie volgens Kriel intussen laat weet het dat die ondersoek gestaak word weens onvoldoende bewyse.

“Ons is Vrydag weer na die perseel om gordyne te gaan hang. Toe ons Maandag daar aankom, het ons gesien al die kragdrade is oor die naweek gestroop. Ons is weer na die Pretoria-Noord-polisiestasie en het ʼn saak aangemeld.

“Dieselfde dag, skaars ʼn uur nadat ons die saaknommer ontvang het en nog voor die polisie eens vingerafdrukke kom neem, het hulle weer die saak toegemaak,” vertel Kriel.

Kriel sê voorts werk by die nuwe perseel kan nie begin voor die water- en kragtoevoer herstel is nie.

(Foto: Verskaf)

Dit is nie in dié stadium duidelik hoe lank dit gaan neem om alles in ʼn werkende toestand te kry nie.

“Maar ons sal nie dat hierdie teëspoed ons onderkry nie. Ons sal herbou. God is in beheer is en ons sal aanhou om goed te doen, want dit is waarvoor ons geroep is. Helpende Hand se nuwe gemeenskapsentrum sal ʼn baken van hoop wees waar verandering gaan plaasvind.”

Die sentrum word beskryf as ʼn sentrum in die gemeenskap vir die gemeenskap en gaan gratis terapie vir kinders bied wie se ouers dit nie andersins sou kon bekostig nie. Die sentrum bied tans ook opleiding vir tuisversorgers.

“Dit is ook die sentrum waar Helpende Hand se Pretoria-streek se maatskaplike werker holisties na elke aansoek kyk wat op haar tafel beland. Die sentrum waar planne beraam word om volhoubare gemeenskapsprojekte uit te rol.”

Kriel hoop om binnekort ’n skenking te ontvang om ʼn private sekuriteitsmaatskappy se diens te bekom en om hekmotors, plastiekpype en bedrading aan te skaf. Kriel kan by 084 952 5837 gekontak word vir skenkings.

Maroela Media het Woensdag ’n navraag aan die polisie gestuur rakende sy ondersoek na die voorvalle van diefstal en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Pierre ·

Geen saak geen misdaad so volgende jaar kan hoed se kyk misdaad is af.

Drico ·

Satan sal aanhou om sy trawante te stuur om te vernietig waar God se volk hulp aanbied.

marius ·

Die nuwe manier om wittes by te kom . Sluit sake af sonder enige ondersoek , en moet ASSEBLIEF NIE vir hierdie spul probeer opkom nie .

Peetjie ·

Die probleem is ..dit is nìé net wittes wat daarby baat nue, maar almal van alle rasse

Tanniepetoors ·

Ek het nou in my binneste baie lelik gepraat. So nou en dan is dit nodig. Blikskottels. Los ander mense se goed uit!

Karen ·

Askies?? Maar aan die ander kant, wat het ons verwag, die polisie gaan help? Nee

Anel ·

As hulle dan ‘n saak van gewapende roof en aanranding met die doel op twee bejaardes na 2 weke onopgespoor afsluit wat kan ons verwag van huisbraak en diefstal.

Renier johannes ·

Sal eerder mense vang sonder maskers as om kriminele te vang klomp bang broeke

SomeOne ·

in hercules, pta noord, wonderboompoort, en ander polisie stasies in die omgewing, is daar net mense wat ons lug besoedel en vermors, kan nie eers ‘n sertifisering van ‘n dokument behoorlik doen nie

Persheks Adri ·

Casper, gaan kyk asb na Cele se uitstel vir kommentaar ek’t jou gehelp daar…

Jacobus ·

Skande baas Cele. Jou prioriteite is totaal skeef. Lekkerder en makliker om weerlose mense te teiken.

Lourens CFG ·

Laat iemand binne die gebou oornag met ‘n skerp flits en “thunderclaps”.
Laat hulle tot Suidpool hardloop.

Johannes ·

Die polisie sal waarskynlik sê hulle het nie vingerafdruk poeier om die saak mee te ondersoek nie, of hulle werk op rotasie basis, of ons moet nie dink hulle is op die vlak van 1ste wêreld lande nie.

As ek sê wat ek die week in ‘n opleidings klas gehoor het, sal jul hare rys.

#3dewêreldstandaard

LANA is ELANè ·

Ja, dit is vreeslik om te dink dat die SAPD aandadig is vir die misdaad in die land, juis omdat hulle so traag is om klagtes te ondersoek en dus die boewe “carte blanche” gee om voort te gaan op hul plundertog en moordtog.
Dit is waarom ek sê die SAPD is juis die rede en aandadig vir misdaadstatistiek in SA.

Di ·

Meeste van hedendaagse polisielede het geen passie vir die werk nie. Sit net daar, doen absoluut NIKS en wag vir die volgende salaris. Hulle kan net so wel al hierdie onbevoegde, lui lede wegjaag! Sal baie aan salarisse spaar. Kry mense wat ‘n passie het vir die werk

DIABLO ·

Sloop die plek en los die oop veld net so. Dis mos hoe die kriminele wil hê die land moet lyk.

Dirk Mostert ·

‘n Saak moet eintlik gemaak word teen die betrokke polisiehoof vir laksheid.

christo ·

Die SAPD is eenvoudig ‘useless’. Geen sake word ondersoek nie. Indien daar ‘n inbraak by my woning is, meld ek dit aan by die polisiestasie. ( Indien jy gehelp word, by gesê). Indien jy ‘n ‘n SAPD toelaat in jou huis, is die kans dat daar weer ‘n inbraak later sal plaasvind.
Wat anders kan jy verwag van ‘n die polisie minister so ongeskik en ‘n buffel is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.