Gemeentelede erg gebrand toe spuitblik by lugskou ontplof

Een van die vroue wat in die Unitas-hospitaal behandel word. Foto: Via Hero Burn Foundation / Facebook

Een van die vroue wat in die Unitas-hospitaal behandel word. Foto: Via Hero Burn Foundation / Facebook

ʼn Lang pad van herstel lê nog voor vir die ses mense wat Saterdag erg verbrand het toe ʼn spuitblik Saterdag in ʼn kosstalletjie by die Swartkops-lugskou in Pretoria ontplof het.

Annerie du Plooy, direkteur van die Hero Burn Foundation, ʼn nie-winsgewende organisasie wat ondersteuning bied en omsien na brandslagoffers, het Donderdag aan Maroela Media gesê die organisasie gaan die slagoffers bystaan omdat van hulle nie ʼn mediese fonds het nie en die mediese fondse nie noodwendig alles dek nie, veral wondsorg, wat nou noodsaaklik is.

“Die ses mense wat gebrand het, is almal van die Volle Evangeliese Kerk Hartbeespoort in Noordwes. Hulle het Saterdag ʼn kosstalletjie by die skou beman om fondse vir die kerk in te samel, toe ʼn Spray & Cook-blik in die stalletjie ontplof het. Die blikkie het vermoedelik te naby aan ʼn hittebron gestaan en ontplof,” het Du Plooy gesê.

Die slagoffers, wat meestal erge brandwonde aan hul bolywe, arms en gesigte opgedoen het, is Magda Olivier (41), Natasha Coetzee (34), Esme McCulloch (62), pastoor Fanie Fourie (52), Gerhard Potgieter (65) en Denise van Zyl (52). McCulloch is die ergste beseer en was die naaste aan die ontploffing. Sy word saam met Coetzee en Olivier in die Unitas-hospitaal in Centurion behandel.

Fourie is na die Steve Biko-hospitaal geneem, waarna hy na die Kalafong-hospitaal oorgeplaas is vir verdere behandeling. Potgieter en Van Zyl is ook na die Kalafong-hospitaal geneem en is reeds ontslaan, maar benodig nog wondsorg.

“Hero Burn Foundation het met die hulp van die Arrie Nel van Schoemansville Apteek gereël dat wondsorg daar kan plaasvind. Ons sal al die slagoffers gereeld besoek en verseker dat hulle die regte behandeling ontvang. Intussen het ons almal se gebede nodig om hulle by te staan en te bid vir ʼn volkome herstel.”

Mense wat die organisasie finansieel wil bystaan en sodoende te help die slagoffers die beste behandeling ontvang, kan 082 902 1133 bel of hul bankbesonderhede hier kry. Gebruik “Help HBP” as ʼn verwysing.

Pastoor Fanie Fourie. Foto: Via Hero Burn Foundation / Facebook

Pastoor Fanie Fourie. Foto: Via Hero Burn Foundation / Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Karma ·

Eina! Dit moet regtig bitter baie seer wees! Sterkte aan almal wat seergekry het. ONTHOU ASB. MENSE: DAAR IS ‘N REDE HOEKOM DAAR ‘N WAARSKUWING OP ALLE SPUITMIDDEL BLIKKIES IS OM NIE DIE BLIKKIE AAN HOË TEMPERATURE BLOOT TE STEL NIE – DIT SAL ONTPLOF EN DIE RESULTATE IS BESERINGS SOOS HIERDIE.

vierkleur ·

Goeie genade, 1 spray & cook blikkie so baie beserings veroorsaak?

Paul ·

Ja, alle spuitblikkies is eintlik ‘n baie gevaarlike ding. In die afgeleë dele van die VSA waar dit nog baie algemeen is om jou eie vullis te verbrand aangesien daar geen vullisverwyderingsdienste is nie, is daar jaarliks etlike mense wat erg brand, selfs doodbrand, omdat hulle leë spuitblikkies in hul huisvullis verbrand en dan ontplof dit.

Wat-ek-lees ·

So ook daardie sigaretaansteker van jou waarmee jy ander vure aansteek behalwe jou sigaret.
Jy kan ‘n groot gedeelte van jou hand verloor asook gesig- en oogbeserings.
Die ironie is dat jy vir lank dit gaan doen tot een dag: ka BOEMMMMMM !!!!!!

Hester van Wyk ·

Dis baie erg. Hoeveel keer het ons en ons gemeentelede nie by stalletjies gestaan om kerkfondse in te kry nie. Ons bid vir hulle. En Maroela Media dankie vir julle beriggewing.

Gesiggie ·

Baie jammer aan elkeen van jul wat so iets moes oorkom, jul het gewerk vir n goeie doel, Mag God jul aanraak en jul pyn en seer herstel… Baie sterkte

Gemengde gevoelens ·

Sjoe ek het nog nooit soveel gemengde gevoelens op 1 slag gehad nie, so ‘n klein dingetjie wat ons almal elke dag gebruik soveel skade kan aanrig nie, dan dink ek hoeveel keer in al my jare by fondsinsamelings veral dit kon gebeur het, dit gaan soms so dol mens dink net nie daaraan nie. Sjoe mens amper nie woorde om hul te bemoedig, vasbyt klink so verkeerd, al troos wat ek vir julle het, ek het al heel party naby vriende sien herstel en ja daar gaan weer ‘n tyd in jul lewe kom wat jul nie die konstante pyn gaan voel nie. Druk liggies op dele waarop jy kan en vryf die gesonde dele gedurig sodat die bloedvloei heeltyd bespoedig word, daai suurstofryke bloed genees en die stimulasie is ook salig dan voel hul daar is darem dele waaroor mens dankbaar kan wees wat nie seer is nie. Dit gee ook kalmte, dit is regtig ‘n basiese reel, maar dit help, ek het dit toegepas op ‘n jong dametjie wat haar arm gebrand het. Baie liefde en sterkte, ek wil amper sê jul is sterk uitgekose mense, want ons ander sou dit dalk nie kon hanteer nie! Die Liewe Vader waak oor julle, julle het goeie werk vir Hom gedoen.

broos ·

dat so ‘n simpel dingetjie soveel skade kan berokken! volgende keer sal ek my kannetjie so ver moontlik van hitte af bere. baie sterkte aan al die beseerdes, ek hoop regtig dat julle vinnig en ten volle sal herstel xx

Amanda Jooste ·

My hart is stukkend vir julle. Dis vir pasient en familie baie erg. Presies nou ‘n jaar gelede het my man 75% verbrand in ‘n ontploffing en dit oorleef. Geloof hou ons staande en wonderwerke gebeur vandag nog. Annerie van Hero Burns doen uitstekende werk!

Juanita ·

Mag God julle gee wat julle nodig het vir die herstel proses en bid dat God al die wonde en pyn sal genees. Ek dra julle op in gebed. Liefde en geloof vir die pad voorentoe

Anie ·

Die mense besef nie dat selfone en sigarette wat aangesteek word by petrolpompe, ook kan ontplof nie…

Stephann ·

Net vir die rekord van mense wat nie bewus is war die wet op mediese skemas se nie. Art 131 van die wet bepaal dat enige onvoorsiene trauma plaas vind moet die medies die rekening 100% van koste betaal tot en met 600% oor tarief.en ja die mediese fondse gaan kanse vat en net 100% van tarief betaal maar volgens wet is dit trauma wat onder n PMB kondisie geklasiffiseer word. Sterkte vir die slag offers en familie. Maroela media kan my gerus kontak as hul verdere besonderhede wil he rakende die mediese fonds Wet

Voorlaaier ·

Stephann, jy sal moet skuilnaam kry!!…. die mediese fonse gaan i losprys op jou kop offer!! Lol!

Elsa van Dyk ·

Dankie Stephann, dis iets om te moet weet. My suster is een van hulle. Die medies betaal nie vir alles nie, hulle sê dis kosmeties. Ek sal bietjie gaan oplees daaroor. Dankie.

neelsie ·

Gehoor van die geval maar nie gedink dis so ernstig nie.
Bid die genesende krag van God oor julle.

Elsa van Dyk ·

Ek is ‘n familie lid van een van hulle. Toevallig die foto wat hulle gebruik is my foto wat ek geneem het van my suster. Ja dis baie erg. Sy het die meeste skade gekry. Haar regter arm en hand is ‘n groot concern. Die dokter het gister gesê hulle moet ‘n plastiese surgeon kry om daarna te kom kyk. En sy is veral van gister af baie siek. Baie pyn. Slaap net. Die bekommernis is baie groot en dit maak mens net siek en bekommerd en my hande is afgekap. Kan net mooi niks doen nie. Dis verskriklik. My ma is 86 en my pa 88 en hy praat nie. Hy lê net by die huis. My ma kan die stres nie hanteer nie. Dis regtig baie sleg.

Andriesa ·

Elsa, baie sterkte vir julle. Ek sal vir julle bid. Mag dinge gou begin verbeter. Gee daai twee oumensies maar ekstra drukkies. Moed hou.

Nadia ·

Dis vir my onmenslik om daai mense na Kalafong hospitaal toe te stuur, medies of nie. Daai hospitaal moet sommer toe gemaak word. Baie sterkte aan almal, ons hoop vir spoedige herstel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.