Gemengde gevoelens oor minister van minerale hulpbronne

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne (Foto: ANA)

Vakbonde blyk gemengde gevoelens te hê nadat Gwede Mantashe aangestel is as minister van minerale hulpbronne.

Amcu

Die vakbond Amcu het die aanstelling van Gwede Mantashe as nuwe minister van minerale hulpbronne bevraagteken.

“Dit het reeds tydens die Farlam-kommissie van Ondersoek aan die lig gekom dat minister Mantashe betrokke was by die gebeure in aanloop tot die Marikana-slagting,” het Joseph Mathunjwa, president van die Association of Mineworkers and Construction (Amcu), Dinsdag gesê. “Daar is bewyse dat daar ʼn duidelike agenda was om Amcu te destabiliseer, met sy openlike lojaliteit aan sy voormalige vakbond, die National Union of Mineworkers (NUM).”

Mathunjwa het gesê Amcu verwelkom die feit dat die Gupta-gekoppelde voormalige minister Mosebenzi Zwane uit die amp verwyder is, het Mantashe “sy eie geraamtes in die kas”. “Dis duidelik dat pres. Cyril Ramaphosa nie ten volle begryp dat minister Mantashe in twee geskeur is oor die mynbedryf nie.”

Hy het gesê Amcu is besorg dat die naby verbintenis tussen Ramaphosa en Mantashe die integriteit van die proses kan benadeel.

“Albei is eks-NUM-lede, albei is leiers in die ANC, en albei was baie nou betrokke in die gebeure rondom die Marikana-slagting.”

Hy het gesê dit is ook algemeen bekend dat Ramaphosa belange het in die mynboubedryf en nou lyk dit of Mantashe as ʼn hekwag sal optree. “Die situasie is nie volhoubaar nie en die president se verbintenis kan hom dalk self laat skuldig lyk.”

Volgens Mathunjwa het Ramaphosa Mantashe net voor die Marikana-slagting gekontak om te vergader en het in daardie stadium aangedui dat dit plaasvind as gevolg van sy vorige rol as sekretaris-generaal van die NUM. “By die Farlam-kommissie van Ondersoek wys die e-pos egter dat hy geroep is in sy kapasiteit as sekretaris-generaal van die ANC, en nie as ʼn voormalige NUM-leier nie. Dit maak dit baie duidelik dat pres. Ramaphosa die betrokkenheid van die ANC in die slagting wou wegsteek.”

Mathunjwa het gesê Mantashe is ʼn duidelike vyand van Amcu, en na alle waarskynlikheid sal hy teen die vakbond optree.

Gwede Mantashe was die algemene sekretaris van die NUM toe hy Mthunjwa uit die NUM geskors het. Mathunjwa het daarna die vakbond Amcu op die been gebring en in 2012 het Amcu die NUM as die dominante vakbond in die platinummyne rondom Rustenburg onttroon, nadat mynwerkers by Lonmin in Marikana NUM verwerp en in Augustus 2012 gekies het om hulself te verteenwoordig en ʼn basiese maandelikse salaris van R12 500 van Lonmin te eis.

Geweld het tydens die staking uitgebreek en 44 persone is dood, insluitend 34 mynwerkers wat op 16 Augustus 2012 doodgeskiet is toe polisiebeamptes op hulle losgebrand het. Tien persone, insluitend twee polisiebeamptes en twee Lonmin-veiligheidswagte, is die vorige week deur stakende werkers doodgemaak.

Amcu was ná die staking die dominante vakbond in die platinumgordel.

Solidariteit

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag die aanstelling van Mantashe as minister van minerale hulpbronne verwelkom, en wens hom alle sukses toe in die nuwe en belangrike rol wat hy moet vervul.

Volgens Connie Prinsloo, adjunkhoofsekretaris van die mynboubedryf by Solidariteit, is Mantashe se aanstelling as opvolger van Zwane, onder wie se leiding die omstrede mynbouhandves opgestel is, ʼn positiewe stap. “Vanuit sy geskiedenis as vakbondman by die National Union of Mineworkers (NUM) vertrou ons dat hy begrip sal toon vir die rol van vakbonde en sal meewerk tot ʼn oplossing wat daartoe sal bydra dat die mynbedryf moeilike kwessies sal takel, beleggersvertroue sal herwin en volhoubaar sal floreer,” het Prinsloo gesê.

Prinsloo sê voorts dat baie werk voorlê om die negatiewe gevolge van die voormalige minister se gepoogde derde mynbouhandves ongedaan te maak. “Ons hoop dat daar in die toekoms met alle betrokke partye in gesprek getree sal word en dat besluite, anders as in die verlede, nie eensydig afgedwing gaan word nie,” het Prinsloo gesê.

Volgens Prinsloo is die vakbond oorgehaal om met rolspelers soos Mantashe te konsulteer oor ʼn nuwe mynbouhandves, asook ander tersaaklike kwessies wat die bedryf gedemp het. “Mantashe moet in goeder trou met die partye onderhandel om ʼn goue middeweg tussen die belange van die staat en die bedryf en alle rolspelers te vind sodat ʼn nuwe mynbouhandves tot stand kan kom wat ʼn baken vir die bedryf kan wees,” het Prinsloo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.