Gemengde gevoelens oor Pensioenwet

Argieffoto (Foto: Stevepb, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Stevepb, Pixabay)

Pres. Jacob Zuma het nie eensydig opgetree toe hy die belastingwetsontwerpe wat met pensioen- en voorsorgfondse verband hou, onderteken het nie, het die presidensie Vrydag gesê.

Dit kom nadat Cosatu Woensdag in ʼn verklaring teen die president uitgevaar het deur te sê die vakbond was “woedend en teleurgesteld” om te verneem dat Zuma die Wysigingswet op Belastingadministrasie onderteken het.

Volgens Cosatu sal die wet ʼn uiters negatiewe impak op die verhouding tussen die regering en werkers hê. “Hierdie optrede van minagting deur die regering, sal ʼn gepaste en gelyke reaksie by die werkers ontlok. Werkers sal enige pogings, om die verpligte bewaring van ons swaarverdiende pensioengeld in te stel, teenstaan. Geen regering het die reg om eensydig vir die werkers te besluit hoe en wanneer hul aftrede-spaargeld gebruik moet word nie,” het Cosatu gesê.

Die vakbond het gesê werkers se pensioengeld moet beskikbaar wees wanneer hulle dit nodig het, aangesien Suid-Afrika nie ʼn omvattende maatskaplike stelsel in plek het nie. “Hierdie is aanduidend van ʼn regering wat te veel mag vir homself toegeëien het en nie meer glo hy is aan sy mense verskuldig nie,” het Cosatu bygevoeg.

Die presidensie het intussen beklemtoon dat die wysigingsontwerp in die parlement bespreek en aanvaar is en deur die nasionale raad van provinsies goedgekeur is nadat openbare besprekings daaroor gehou is.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, het aan Maroela Media gesê as hy noodgedwonge sy mening oor die nuwe wetsontwerp moes uitspreek, sal hy sê dit is ʼn goeie ding, omdat dit onverantwoordelike mense sal help om te spaar. “As mens egter filosofies dink, ontneem dit ʼn mens se reg om sy eie besluite te neem en dalk foute te maak,” het hy gesê. Hy het ook gesê rooi ligte kan flikker, want die wet gee politici meer geleentheid om hul “vingers in goudpotte” te druk en hy vermoed ander wysigings aan die belastingwet sal binnekort volg.

Paul Joubert, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut het aan Maroela Media ʼn kort opsomming verskaf oor die nuwe wette wat die president geteken het. Lees gerus hierdie inligtingstuk oor die wysigings. Volgens Joubert is daar geen rede om jou werk weens hierdie nuwe wette te bedank nie.

1. Die belastingaftrekbaarheid van bydraes tot voorsorgfondse (“provident funds”) gaan verbeter word (behalwe vir mense wat meer as R1,27 miljoen per jaar verdien). Dit beteken dat baie mense meer geld in hul sakke gaan kan steek aan die einde van die maand – hoër “take home pay”.
2. Daar word niks verander aan die uitbetaling van pensioenfondse (“pension funds”) met aftrede nie.
3. Daar word niks verander aan mense se vermoë om, indien hulle hul werk verloor, hul aftree-spaargeld te kan ontvang nie.
4. Daar word niks verander aan geld wat mense reeds voor 1 Maart 2016 in hul aftreefondse gespaar het nie.
5. Vir mense wat teen 1 Maart 2016 jonger as 55 is, word nuwe bydraes tot voorsorgfondse vanaf 1 Maart 2016 anders as voorheen behandel met aftrede. Voorheen kon die volle bedrag as ʼn “lump sum” geneem word, maar nou sal net ʼn derde van die geld as ʼn “lump sum” geneem kan word en die ander twee derdes sal in ʼn annuïteit van die persoon se keuse belê moet word. Indien die volle bedrag wat ná 1 Maart 2016 in die voorsorgfonds gespaar is, egter minder as R247 500 is, sal die volle bedrag steeds as ʼn “lump sum” geneem kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

DPJ ·

Fondse moet aangewend word vir die persoon se oudag wanneer hy/sy nie meer kan werk nie.

Chris ·

Die regering is besig om al hoe meer die land se burgers te beheer.

ZAR ·

Hierdie pensioen geldjies gaan so stil stil begin verdwyn,totdat daar niks oor is nie,
en dan gaan die ANC net hulle skouers optrek, en heel moontlik apartheid die skuld daarvoor gee.

Otto ·

Baie goeie wetgewing. Aftree fondse moet eers by aftrede gebruik word.

Pieter ·

Hulle het dit met Spoornet of Transnet se pesioen geld gedoen en ook belowe die mense sal hulle geld kry. Daar sit daai mense sonder n sent van hulle pensioen geld.

Liewe heksie ·

Ek bly bekommerd ek werk al 28 jaar vir staat en nog 5 jaar om te gaan Ek bly bekommerd

Julie ·

Dis absoluut arrogansie. Wat wil die staat met hard verdiende geld doen? Mense het die reg om te kan besluit op n firma om hul geld te belê. Een ding is vir seker. Bitter baie gaan hierteen skop. Die regering is bekend vir geld verdoeseling. Nou wil Zuma dit soveel makliker maak. Nee kyk, hier kom groot dinge!

Paul ·

Julie, dit lyk asof jy die artikel glad nie eers gelees het nie.
Waar op aarde het jy gelees dat mense nou die reg verloor om te besluit watter firma hul geld moet bestuur?
Dit wat jy sê, is presies die teenoorgestelde van wat die wet behels.

Dis asof iemand vir jou gesê het: “Die lug is blou!” en dan antwoord jy: “Ja, kyk net hoe mooi groen is die lug!” Dit maak geen sin nie!

Paul ·

Liewe Heksie, as jy vir die staat werk, dan is jou aftreegeld in die “Government Employees Pension Fund” (GEPF). Let op die naam: dis ‘n “pension fund”. Nie ‘n “provident fund” nie. As jy die artikel noukeurig lees, sal jy sien dat die wetsveranderinge nie “pension funds” raak nie, slegs “provident funds”.
Jy hoef dus nie oor hierdie spesifieke veranderinge bekommerd te wees nie.

Weskaper ·

Stem 100% saam met die wet. Jou pensioen geld is vir jou oudag. Hoeveel mense bedank net voor aftrede of neem al sy geld by aftrede en mors dit dan uit, baie begin ‘n besigheid wat gou vou en dan moet die staat ouderdom pensioen betaal. Of hulle neem alles plaas dit op ‘n kind se naam of enige ander skelm streek en eis dan ouderdom pensioen.
Jammer dit maak nie voorsiening om dadelik op alle pensioen geld van toepassing te wees nie.
Moet darem die regering hier erkenning gee vir ‘n goeie daad wat verrig is.

Champ ·

Na al die veranderinge, gewoel en gespartel om nou soveel moontlike veranderinge voor die verkiesing tewee te bring is dit voor die handliggend dat ons nou sterk in n kommunistiese stelsel in geboelie word. “Mark my words”

Jan maak n Plan ·

As dit miskien n ander beter regering was wat tans gedien, het sou die wet seker beter gewees het, maar met die relord van die huidige regering is die pad van Spoornet en Transnet die vooruitsig. So bly ek het al in 1991 by die staat geloop.

Fanie ·

Ai hulle is tog sóó deursigtig, ‘n blinde kan die probleme met ‘n stok aanvoel!!

Pieter ·

Ek verstaan die agterdog (met die regering se ‘track’ rekort). Die feit is dat voorsorgfonds maar basies net in lyn met pensioenfonds gebring word. Sou al n jaar gelede gebeur het maar cosatu het geklae. Eintlik goed dat dit nou gebeur want baie anc kiesers (cusatu) is daarteen.

willie ·

Die regering se track rekord is van so aard ,enige verandering wat aan gebring word,gaan kyk dieper ,almal het gedink die spoorweg pension is veilig,wat toe nie so was nie,Die regering gaan n wet uitbring en jou voorsorg fons nasionaliseer. Nee dankie ek vat my geld en loop en gaan koop eiendom.

marlene ·

geen probleem daarmee om jou geld om te sit in ‘n maandlikse inkomste nie,” en natuurlik met jou keuse waar jy dit wil bele” maar ons almal ken ook by noual ons regering, hulle sal niks doen tot voordeel vir die mense op straat nie, nee as die regering nie iets gaan uitkry uit die besluit nie, sou hulle nie eers die moeite gedoen het om dit te verander nie, ja die oorgrote meerderheid het nie kop vir besigheid nie en mors wel hul geld uit, maar dan weer om staatspension te kry is ook nie om verniet geld te kry nie, dit is ook maar ‘n tipe van geld wat jy help spaar het, want van wie af het hulle belasting af getrek al die jare, ek sien ook die rooi ligte wat flikker soos Dawie, want as hulle die wet later wysig, en met aftrede mag die geld net bele word in ‘n staatsfonds, wel enige een met verstand sal weet waarnatoe gaan die geld dan heen

Paul ·

Jy is korrek oor die “as hulle die wet later wysig om te sê die geld moet in ‘n staatsfonds belê word”. Natuurlik sal so ‘n wysiging ERG negatief wees. Dis egter GLAD NIE wat die huidige wet doen nie. So waarom gaan mense aan asof dit so is? Kan mense nie lees nie?

jaquie ·

Wat ek graag wil weet jy het skuld en n huis om te betaal of net sowel n blyplek huur nou word jy geretrench n mens gaan nie gou gou weer n werk kry nie en jou pension was genoeg om jou skuld tebetaal jou bond af te betaal of wat ook al die geval mag wees kon jy daai pensioen gebruik het om dit alles af te betaan jou bond include. nou vat hulle jou geld en jy kan niks van daai betaal nie verloor jy jou huis , blyplek en jy word geblack list wat word van jou, jy gaan op straat sit met niks en moet bedel. mense werk is skaars jy gaan nie vinnig n werk kry nie weet nie hoe dink Zuma nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.