Gemengde prentjie vir brandstofpryse in Junie

Foto: Brett_Hondow/Pixabay.com

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê wisselende oliepryse en ʼn ewe onvoorspelbare rand-dollar-wisselkoers het bygedra tot ʼn gemengde prentjie vir brandstofpryse in Junie.

“Internasionale oliepryse was in Mei op en af. Die basiese petrolprys het verhandel vir tussen R7,40 en R7,80 per liter, wat dit dié maand gemiddeld 19 sent minder maak,” het die AA in ʼn verklaring gesê.

Die rand was ook veranderlik, hoewel dit in ʼn redelik beperkte baan van rofweg tussen R14,14 en R14,60 teen die Amerikaanse dollar verhandel het.

“Die rand was sowat 12 sent swakker gedurende die maand,” het die AA gesê.

“Dit beteken petrolpryse gaan steeds met nagenoeg 10c per liter daal. Die basiese dieselprys het effens gestyg – met 2c/ℓ – dus kyk dieselgebruikers na ʼn styging van nagenoeg 14c/ℓ en ʼn styging van 9c vir paraffien.”

Die AA sê die prentjie kan ook anders lyk ná die inwerkingtreding van koolstofbelasting in Junie. Dié belasting beloop 9c/ℓ van die petrolprys en 10c/ℓ van die dieselprys.

“Dit beteken in werklikheid dat die prys van petrol met net ʼn sent per liter gaan daal, terwyl diesel meer beduidend met nagenoeg 24c/ℓ gaan styg,” het die AA gesê.

Die AA sê daar is vele kwessies wat in die tweede helfte van die jaar ʼn invloed op die brandstofprys kan hê. Daar moet dus nie op brandstofprysstabiliteit op medium tot lang termyn staatgemaak word nie.

“Ons vermoed daar lê moontlik meer ekonomiese storms voor.”

Die AA grond sy skattings op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MJ ·

Ag wat maak dit saak of die brandstof met 10c duurder of 10c goedkoper word… dit bly peperduur. Sal opgewonde raak as ons weer die ‘basiese prys’ vir brandstof kan betaal! As al ons swaarverdiende belastinggeld tog net vir die goeie aangewend word, maar nee.. dit sal nie weer gebeur nie.

Drikus Kotze ·

Hoe, en waar gaan ons nuwe koolstofbelasting aangewend word? Hoeveel gaan die regeering invorder deur al die padverbruikers met kostes van onderskeidelik 9c en 10c per liter? Of word ons as verbruikers weer “belas / gestraf” sodat ons kastig minder met ons voertuie moet, mag of wil ry. Wie lag nou weer al die pad na nog ‘n Nkandla toe?

Ronel ·

Ons moet oppas of ons gaan een van die dae suurstofbelasting ook betaal en koolstofdioksied belasting ook per asemteug wat jy per dag neem.

Frikkie ·

Ag wat sit nou maar die petrolprys op to R20/liter. Dit gaan elk geval gebeur voor die einde van die jaar sodat die minsters van die vorige bedeling nóg hulle salarisse en voordele kan behou.

Michelle ·

Wees maar verseker betaal gaan ons betaal miskien sal ons vir een maand gelukkig gemaak word met ‘n rand of twee dan sal ons geslaan word met ‘n hele paar rande. Neem in ag daar is weer kabinet skommelinge, “golden hand shakes” so baie gaatjies wat toegestop moet word. Ons het mos nou geleer uit die Zondo verhale dis net Jan publiek wat vir als moet betaal als gaan op behalwe sy salaris.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.