Gemengde reaksie oor skole wat later heropen

Argieffoto (Foto: Verskaf)

Die departement van basiese onderwys se besluit om die heropening van skole tot 15 Februarie uit te stel te midde van die tweede Covid-19-infeksiegolf, het nie net gemengde reaksie onder ouers ontlok nie, maar ook onder belanghebbendes in die onderwyssektor en politieke partye.

Solidariteit veroordeel die uitstel ten sterkste en glo daar word nie in die beste belang van leerders opgetree nie.

“Dit is uiters kortsigtig van die regering om kinders vir hierdie tydperk uit hul skole te hou,” sê Johnell van Vollenhoven, woordvoerder van Solidariteit.

Volgens Van Vollenhoven het navorsing gewys dat ’n skool in die meeste gevalle die veiligste plek is waar ’n kind hom of haar tydens die Covid-19-pandemie kan bevind.

“Nie net ontvang kinders broodnodige onderrig by die skool nie, maar is hulle is ook onder toesig waar veiligheidsmaatreëls streng toegepas word. Baie kinders ontvang ook hier hul enigste maaltyd vir die dag.”

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) wys weer daarop dat leerders nou nóg tien dae se onderrig in ’n reeds verkorte skooljaar verloor. Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, meen die verdere verlies aan onderrigtyd gaan leerders benadeel – veral dié in skole wat steeds nie opsies vir aanlynleer gereed het nie.

Dít terwyl die EFF die uitstel van die heropening van skole verwelkom en as ’n “logiese” en “wyse” besluit bestempel het. Die party sê die nuwe virusvariant blyk ook jong mense sonder enige onderliggende toestande af te takel.

(Argieffoto)

“Ons is egter gewalg deur die feit dat private skole oënskynlik oorreed gaan word om te sluit, wat beteken dat private skole die opsie het om oop te bly terwyl staatskole móét sluit,” sê Vuyani Pambo, EFF-woordvoerder.

Die burgerregteorganisasie AfriForum glo op sy beurt skole moet self besluit wanneer leerders kan terugkeer.

AfriForum beoog nou om ’n dringende skrywe aan die departement én die nasionale koronavirusbevelsraad te rig om hulle te oortuig om skole wat kán bewys dat hulle aan Covid-19-protokolle voldoen, toe te laat om aansoek te doen om soos beplan op 27 Januarie vir leerders te open.

“Dit is in die belang van leerders en ouers dat skole, waar die nodige veiligheidsmaatreëls getref is, heropen soos beplan,” sê Natasha Venter, adviseur vir onderwysregte by AfriForum.

“Leerders het reeds verlede jaar gely weens die chaos wat die inperkingsregulasies meegebring het en ons kan nie bekostig dat hulle verder agter raak nie.”

Solidariteit sê die gevolge van die uitstel is ook vernietigend vir beheerliggaamaanstellings en ander bykomende dienste wat skole bied.

“Onderwysers is reeds onder druk om agterstande in te haal wat weens die verlies aan skooldae verlede jaar ontstaan het. Dit is onredelik om te verwag dat verdere agterstande, wat deur die jongste uitstel van die skooljaar veroorsaak gaan word, nou ook opgevang sal moet word.”

Die VF Plus wys daarop dat die alewige akademiese ontwrigting wat van jaar tot jaar oorgedra word, frustrasie skep.

“Sommige ouers en onderwysers is verlig daaroor omdat hulle vir hul en hul kinders se lewe vrees. Ander vrees die gevolge as kinders alleen tuis bly terwyl ouers werk en niemand na hulle kan omsien nie,” sê dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor basiese onderwys.

“Die geskeduleerde openingsdatum van 27 Januarie sou reeds probleme geskep het; 15 Februarie mag dit in ʼn tweede krisisjaar laat ontaard.”

Buys verwys ouers en onderwysers nou na reeds gevestigde en bekostigbare aanlynleerplatforms soos die SOS se Wolkskool wat aan skole, ouers en leerders die sekerheid bied van voorgesette onderrig, selfs al maak skole nie oop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Solidariteit en Afriforum, julle verrig wondere met inisiatiewe soos Soltech, Akademia, Helpende Hand, ens. Maar om n brief te skryf, gaan net so min help as vreedsame optogte, memorandums en petisies teen plaasmoorde.

Lizelle ·

Het iemand dalk iets raak gelees oor die heropening van kleuterskole en naskoolsentrums? Is hul ook steeds gesluit?

My siening ·

Dis reg hulle is ook gesluit. Die anc dink nie ouers het ook werk nie.

ABDP ·

Staats onderrig is nie meer geloofwaardig nie. Geen matriek sertifikaat, skoolrapport kan ooit weer geloofwaardig ge-ag word vanaf 2020 of na die pandemie nie. Maak nie saak of die skool, onderwyser of leerder werklik elke punt eerbaar behaal het op daardie uitslag nie. Die wat stem om akademiese jaar verder uit te stel, stuit die hardwerkende skool, onderwyser en leerder se harde geloofwaardige werk.

Baardman ·

Jou kommentaar maak nie sin nie. Eerste gedeelte sê jy dat geen uitslag van 2020 geloofwaardig is nie, ongeag watter skool. Daar was dan tog hardwerkende onderwysers en leerders soos jy tereg opmerk

LANA is ELANè ·

Absoluut verregaande, wat van ouers wat werk, en nie toegang tot tegnologie soos in die Afriforum wolksool kan bekostig nie???
Skoolgaan is ook nie net op akademie gerig nie, hulle ontwikkeling is afhanklik van sport en kultuur, gesonde interaksie weg van die huis af.
Ek ondersteun die feit dat skole self moet kan besluit of hulle wel voldoen aan die regulasies. Kinders verval in depressie en angs want die onsekerheid van hul ouers syfer deur na die kinders, maar ons regering weier om die gevolge van hul swak beredenerende besluit in te sien. Die gevolge hiervan gaan nog vir jare hierna gevoel word.

Tanya ·

Dit maak my woedend. Ons salarisse is met 20% gesnoei en ek verstaan dit heeltemal, want ons maatskappy moet oorleef, maar onderwysers bly tuis met hulle volle salaris en ons moet nog steeds skoolgeld ten volle betaal. Ek moes vol betaal vir Januarie (‘n paar dae) en nou Februarie. Dis nie die onderwysers se skuld of keuse nie, maar die regering behoort vir ons afslag te gee op skoolgeld of dit af te las tot die skole weer heropen. As onderwysers se salarisse dan gesnoei moet word is dit nou maar so.

Realisties ·

Ek stem volkome saam met jou, Skrap skool gelde of maak skole oop!

Sonneblom123 ·

As onderwyser is my salaris met 40% gesny ons gebruik eie data en airtime gedurende tyd van afsondering weens skool se finansies ook bitter sleg beinvloed is. Ons onnies sit nie op vakansie nie ons werk bitter hard tot na 1 of 2 soggends om die beste moontlike hulp aan ons leerders te voorsien. Ons is ook ouers en sit in die selfde boodtjie. Moet asb nie almal onder die selfde kam skeer nie. In ons provinsie het selfs soveel onderwysers hul werk verloor weens covid en finansies. Al is leerders nie by skool nie vat dit ure om les beplannings te vereenvoudig sodat ouers en leerders kan voort gaan sodat ons kinders nie agter raak nie. ons videos en online beplanning en assesseering vat baie tyd. Ek weet van geen onderwyser wat net werk van 7 tot 5 nie almal sit ure en ure na ure met merk van werk memos, beplanning, opnames, revisie en veryking, naweke bestaan nie in onderwys nie…

Alet ·

Kinders hoort in skole en klaar. Omdat EFF oorgrote almal net to graad 4 gevorder het gee hulle nie om nie. Dit sal hulle pas as daar geen opvoeding meer in die land geskied nie want dan kan hulle al hoe meer kinders met hulle ideologie indoktrineer.

Buks ·

Ek sê maak oop die skole jonges onder 20 word die minste geraak deur Covid en as julle nou wil ent dan maar die onnies maar julle raak nie aan my kind nie!

Johan ·

Maak dadelik oop! Jul vernietig ons ekonomie, en speel met die kinders se toekoms!!! Hoe moet my mense werk met kinders by die huis, baie mense bring noodgedwonge kids saam werksplek toe, niemand kry iets gedoen nie, dit is gevaarlik en stel net meer mense bloot. Maak dadelik skole oop! Wat gaan met mense aan, kinders hoort in die skool en klaar!!!!!! Nou is naskole ook nog verbied om groot kinders in te neem. Bitter min mense doen weeklik die slegte verkoue op, ons staats hospitale is al v 20 jaar oorvol en sonder n ekonomie is alles verniet…maak skole dadelik oop!!!! In elke gesin verteenwoordig by my werk is of altwee ouers besig om alles in hul vermoë te doen om inkomste te probeer verdien, of is gebroke huise waar daar net een voog is, wat moet hulle met die kinders doen? Daar is net geen opsies nie, iemand gaan skade lei….dalk maar die maatskappy laat vou sodat allmal lekker veilig by hul huisies kan sit…is dit wat die CDC voorstel.

Johan ·

Dingende hofbevel die die Covid Dictator Counsel dit is al wat gaan werk…los maar die mooi briefie.

Johannes ·

Tuisonderrig is die enigste blywende antwoord! Dit het ons gesin verlede jaar duisende Rande gespaar en ononderbroke onderrig van top gehalte verseker!

Talia ·

Vat die saak hof toe. Niemand gaan jou brief lees nie. Ek stem 100% saam dat as n skool kan wys dat hulle die protokol kan volg moet hulle kan oopmaak. Dis was die privaat skole doen, hoekom kan die res van die skole dit nie ook doen nie!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.