Gemengde reaksie op matriekuitslae

(Argieffoto)

Daar was uiteenlopende reaksie op die matriekuitslae wat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, Maandag amptelik bekend gemaak het.

Altesame 76,2% van leerders het die eksamen geslaag – ʼn daling van 5,1% teenoor 2019. Volgens die minister het sy egter veel erger verwag.

Bax Nodada, die DA se woordvoerder oor onderwys, sê terwyl die party elke matriek gelukwens wat geslaag het ten spyte van die moeilike jaar wat hul agter die rug het – en simpatiseer met diegene wat nie geslaag het nie – is die werklike slaagsyfer volgens die party 44,1%.

Nodada sê hierdie syfer word bereken deur die getal leerders wat in 2018 ingeskryf het – 997 872 – te vergelyk met die getal wat die matriekeksamen geskryf het – 578 468 – en diegene wat geslaag het (440 702 leerders).

Altesame 1 072 993 het in 2009 as gr. 1’s ingeskryf, wat volgens hom dui op ʼn slaagsyfer van 41%.

“Die ernstige probleme wat Suid-Afrika se basiese onderwyssektor teister, gaan nooit getakel word as die departement aanhou om die waarheid oor sy onbekwaamheid te probeer begrawe nie. Die slaagsyfer is teleurstellend en ʼn aanduiding van die chaotiese aard van die 2020- akademiese jaar en die historiese uitdaging van Suid-Afrika se buitengewone hoë uitvalkoers.”

Nodada sê weens jarelange verwaarlosing van die onderwysstelsel, val talle kinders uit en ʼn leeftyd van ongelykheid, armoede en werkloosheid staar baie van hulle in die gesig.

Hy sê die onderwysstelsel het jare lank gely onder ʼn leerplan wat leerders nie voorop stel nie en nie tred hou met die werksmark nie omdat dit nie die regte vaardighede, entrepreneurskap en innovasie prioritiseer nie.

“Skole het nie die infrastruktuur om te voldoen aan die behoeftes en veiligheid van leerders nie en baie modder- en asbesskole word steeds gebruik. Gauteng het R450 miljoen bestee aan die diep reiniging van skole in die provinsie en die Oos-Kaap het meer as R500 miljoen gemors op persoonlike beskermingstoerusting (PPE) waarvan die pryse opgeblaas is.

“Die geld kon sekerlik aan infrastruktuur bestee word,” sê Nodada.

Hy sê onderwysers sukkel om die regte toerusting te kry en daar is ʼn gebrek aan wiskunde- en wetenskaponderwysers. Die slaagsyfer vir rekeningkunde, wiskunde en fisiese wetenskappe het gedaal, laasgenoemde met 10%.

“Dit is nie probleme wat uit die Covid-19-pandemie spruit nie. Die probleme is jare lank verontagsaam sodat matriekuitslae beter kon lyk en die ernstige sistemiese mislukkings van die departement van onderwys verberg kon word.”

Hy sê ten spyte hiervan het talle onderwysers die ekstra myl geloop en wondere verrig om te verseker leerders ontvang steeds gehalte onderrig. “Die DA loof hulle vir hul diens.”

Nodada sê tensy die minister en die departement dringend met belanghebbendes beraadslaag om hierdie mislukkings te pak, gaan die “ware matriekslaagsyfer” aanhou val – ten koste van kinders en hul toekoms.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor basiese onderwys, sê egter die prentjie van die matriekuitslae verskil afhangende na waar ʼn mens daarna kyk.

“ʼn Eerlike waarnemer moet verras wees dat die slaagsyfer nie in duie gestort het nie. Dit getuig daarvan dat almal wat met skoling te doen het, die ontwrigting van die inperkingstaat tot die minimum probeer beperk het,” sê Boshoff.

“Die feit dat meer onderskeidings, sowel as Baccalaureus- en diplomaslaagsyfers behaal is, dui daarop dat sommige leerders selfs voordeel uit die nuwe onderwysomgewing kon trek. Ongelykheid in die onderwysbedeling is deur die pandemie en gevolglike staat van inperking versterk. Die styging in goeie uitslae, te midde van ʼn algemene verlaging in die slaagsyfer, beteken dat sommige skole ongelukkig uitgesak het en nie by die veranderde vereistes kon aanpas nie.”

Hy sê ook die toets vir ʼn suksesvolle onderwysstelsel is nie matriekuitslae nie, maar skoolverlaters se prestasie in die ekonomie en in naskoolse studie.

“In daardie opsig is daar min, indien enige, tekens van hoop.”

Boshoff sê die werksomgewing verander ingrypend en die onderwysstelsel toon plek-plek ʼn onvermoë om tred te hou – en dit is waar die gaping tussen suksesvolle en onsuksesvolle skole nog groter word.

“Onafhanklike skole se prestasie wat die van openbare (staat-) skole so ver oortref, word deur sommige as die gevolge van bevoorregting toegeskryf. So ʼn siening getuig van ʼn gebrek aan kennis, aangesien onafhanklike skole in baie gevalle juis in omgewings is wat nie deur die staat se hulpbronne bereik word nie. Om ʼn slaagsyfer van 98% en meer te handhaaf, beteken dat alle rolspelers hul bes doen.”

Boshoff sê daar moet ook gekyk word na die verband tussen skoolprestasie en die vakbond waaraan onderwysers behoort.

“Dit sal interessant wees om ʼn lys van die 50 toppresterende skole, sowel as die 50 skole wat die swakste presteer, met die persentasie onderwysers wat aan die verskillende onderwysvakbonde behoort, te sien. Die VF Plus glo dat so ʼn ontleding op die werklike oorsaak van ongelyke onderwys in Suid-Afrika sal dui.”

Die party het gemeenskappe weereens aangemoedig om beheer oor hul skole te neem en die “sentraliserende instinkte” van die nasionale en provinsiale departemente te weerstaan.

“Bande tussen skole met ooreenkomstige waardestelsels moet gebou en versterk word, ongeag of dit openbare of onafhanklike skole is. In die finale instansie kan die skuld vir swak onderwys op enigeen gepak word, maar die gevolge word deur die gemeenskap self gedra.

“Die toekoms mag daarin lê om onderwysvoorsiening so ver as moontlik van die staat te verwyder.”

Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor basiese onderwys het ook die matrieks geloof vir die veerkragtigheid wat hulle tydens die Covid-19-pandemie gewys het – al is hul akademiese jaar verskeie kere ontwrig.

“Hulle het beter gevaar as wat verwag is. Die 2020- akademiese jaar het talle ontwrigting gesien met die sluiting van skole en baie leerders wat op afstandonderrig moes staatmaak, terwyl ander weer later moes probeer opvang,” sê Bongiwe Mbinqo-Gigaba, komiteevoorsitter.

“Die komitee neem kennis van die afname in die slaagsyfer, maar voel onder die omstandighede dat die groep leerders ons uiters trots gemaak het. Ons wil hulle, hul ouers, versorgers, opvoeders en die onderwyssektor in die geheel gelukwens.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Heinrich ·

Dis moeilik om bloed uit ‘n klip te probeer tap. Suid-afrika se gemiddelde IK is rondom 75, wat beteken dat die kinders in die skole daardie eienskap van hulle ouers sou oorgeërf het. Daar is ‘n verhouding tussen oorerwing en omgewing, maar omgewing het net soveel invloed. Met die brein-drein wat weer opgevlam het, saam met die ANC propaganda in die skole se leerplanne, die tekort aan dissipline in baie skole wat verskriklik baie onderrigtyd van die onderwysers en kinders wat wil werk ontneem, en die onderwysdepartement wat met hulle stelsels in die sestigs vas gehaak het sien ek nie veel hoop nie!

VaalDonkie ·

Ek weet nie hoe die vrystaat dit regkry om ‘n beter slaagsyfer as die Weskaap te he nie. Rerig. As dit waar is, is dit prysenswaardig, maar ek weet darem nie.

Lionel ·

Vaal kry ook asb jou feite agtermekaar. Die vrystaat en Bloemfontein in die besonder het van die beste, toppresterende skole akademies in die land. Hou op alewig aan die paar uitmuttende skole in die Wes Kaap vasnael want julle is ook nie so wonderlik after all nie….

Frank ·

Fisiska en Chemie punt was lyk my oor die algemeen VER MINDER as wat die kinders verwag het. Meeste klink my wil laat hermerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.