Gemengde reaksie op MTBR

Pres. Jacob Zuma en Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pres. Jacob Zuma en Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Daar was gemengde reaksie op Pravin Gordhan, minister van finansies, se mediumtermynbegrotingsraamwerk.

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het die begrotingsvoorstelle verwelkom en gesê Gordhan het “relatief goed gevaar in die omstandighede”.

Mantashe het gesê hy is beïndruk dat die regering sy besteding sal volhou op hoër én basiese onderwys.

“Ek dink die geld wat ingestoot word, moet studente gerusstel dat dit nie net lippediens is nie, maar ʼn verbintenis,” het Mantashe gesê. “Die minister van finansies gaan sistematies te werk om aan die eise van studente te voldoen, maar die fokus is op die armes.”

Mmusi Maimane, leier van die DA, het Gordhan geloof vir die toename in die begroting tot hoër onderwys. Hy het gesê die DA sal voortgaan om steun te werf vir meer ingrypings in die sektor. Maimane het die gewelddadige studentebetoging wat buite die parlement plaasgevind het, veroordeel. Maimane het gesê die regering het nie daarin geslaag om behoorlik te reageer op die eise van die studente nie.

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het die bykomende R17 miljard wat toegewys is vir subsidies aan universiteite verwelkom, maar gesê dit is nie genoeg nie. “Ons is van mening dat die maatreëls wat ons ingestel het, tesame met wat die minister aangekondig het, wys die regering het ʼn baie beslissende verbintenis om finansiële bystand te verskaf aan diegene wat dit nodig het.”

Julius Malema, leier van die EFF, was teleurgesteld dat Gordhan nie na gratis hoër onderwys verwys het in sy begroting nie. “Die ANC moet volle verantwoordelikheid neem en voortgaan om die nodige geld te soek. ʼn Nasionale dialoog moet gehou word waar konkrete voorleggings gedoen word oor waar die geld gekry kan word sodat gratis onderrig gefinansier kan word. Dit gaan nie weggaan nie, dit gaan elke jaar gebeur, tot daar gratis onderrig is.”

Malema het egter sy politieke steun aan Gordhan toegesê vir wanneer hy volgende week in die hof moet verskyn. “Ons het gekom om vir die minister te sê hy is nie alleen nie. Ons kan sien dit is politieke vervolging. Ons weet hoe diegene te werk gaan wat staatsinstellings misbruik,” het Malema gesê. “Daarom moet die hele wêreld weet dat ons geen twyfel het dat ons minister niks verkeerds gedoen het nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Ek wonder hoeveel ministers het ool gesit en slaap tydens die begroting soos no1. What a joke

humor ·

“Maar die fokus is op die armes.” So witstudent jy is uitgesluit!!!!!!!!!!!!!!! Net soos die boere wat in droogtenood verkeer.

Zumie ·

Neeeee, No 1 het nie geslaap nie…. hy het net diep gepeins oor hoe hy die geld gaan spandeer…. of miskien het die getalletjies hom bietjie deurmekaar gehad……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.