Gemengde reaksie op regering se groenkragplanne

Jeff Radebe. Foto: GCIS

Sola Future Energy het Woensdag die ondertekening van 27 kontrakte met onafhanklike kragprodusente verwelkom as ʼn teken van die regering se toewyding om ekonomiese groei en vooruitgang in Suid-Afrika te ondersteun.

Jeff Radebe, minister van energie, het Woensdag die 27 kontrakte ter waarde van byna R56 miljard onderteken.

Die kontrakte vorm deel van die vierde ronde van Suid-Afrika se bekende program vir die verkryging van hernubare energie. Radebe het gesê dié kontrakte sal ʼn positiewe uitwerking op die ekonomie en mededinging in die energiesektor hê wat tot voordeel van die verbruiker sal wees.

Dr. Chris Haw, voorsitter van Sola Future Energy, het gesê dié kontrakte kom al ʼn lang pad. “Hierdie ondertekening is al lank in aantog en dit is ʼn groot oomblik vir die Suid-Afrikaanse hernubare-energiesektor. Hernubare energie is goedkoper, meer volhoubare vorme van energie. Die aanvaarding van hernubare energie sal op lang termyn die koste van elektrisiteit vir huishoudings en ondernemings verminder,” het Haw gesê.

Sola Future Energy se filiaalmaatskappy, Aurora Power Solutions, het sonkragprojekte van 170 megawatt ontwikkel wat tans in voorkeurbieërstatus is, maar moes wag om tot uitvoering te kom. Sedert 2015, ná drie rondes van suksesvolle bodprosesse, is die program gestaak ondanks aansienlike kapitaalbelegging en werkskepping wat reeds gedoen is. Die voordele van die lae koste en lae koolstof van hernubare energie is egter deur die Suid-Afrikaanse regering erken as noodsaaklik vir die land se toekoms.

Haw het gesê die ondertekening van die kontrakte is ook aanduidend van die regering se belangstelling om voort te gaan met “kleinskaal”-projekte met onafhanklike kragprodusente, soortgelyk aan dié kontrakte wat onderteken is, maar op kleiner skaal en ʼn hoër vlak van plaaslike eienaarskap.

Almal het egter nie só positief gereageer op die ondertekening van die kontrakte nie. Die National Union of Mineworkers (NUM) het Woensdag gesê die regering se ondertekening van kontrakte met onafhanklike kragprodusente is ʼn belediging teenoor die werkersklas en armes.

Die NUM het gedreig om sy ondersteuning aan die ANC te onttrek. “Ons is woedend dat die ANC-geleide regering die 27 kontrakte onderteken het. Die groenenergieprojek is gekaap deur kapitaliste vir hul eie noue kapitalistiese belange,” het Paris Mashego, NUM se energiesektor-koördineerder, gesê.

Mashego het gesê die NUM sal nie langer die ANC-regering ondersteun nie omdat die regering “werksgeleenthede vernietig”.

“Werkers in hierdie land sal nie aanhou om vir ʼn organisasie te stem en te ondersteun wat werk van die armes wegneem nie. Ons kan nie net voortdurend steun werf en stem vir die sogenaamde ‘nuwe dag’ soos pres. Cyril Ramaphosa voorhou nie,” het Mashego gesê.

“Meer as 40 000 werksverliese sal in die mynbou-, energie- en hele waardeketting voorkom wat Witbank en die omliggende gebiede in spookdorpe sal verander.”

Mashego het gesê die NUM eis dat Ramaphosa die besluit oor die kontrakte met onafhanklike kragprodusente onmiddellik stopsit en omdraai. “Ons is moeg daarvoor om ʼn organisasie te steun wat wys hulle gaan links, maar dan draai hulle regs.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

So ·

Ly die NUM aan tonnelvisie? Hulle is van die wat kla oor hoë koste en “armes” maar het slegs een denkwyse.

Daan Erasmus ·

Son Energie klink na ‘n wonderlike idee. Maar daar is ‘n groot maar. Wat nou vir Eskom gesê word is ons het nou ‘n alternatiewe bron van elektrisiteit behalwe in die nag. Of as dit bewolk is.
Dit maak Eskom se koste grote. En hul is reeds oneffektief. Hierdie is ‘n resep vir moeilikheid.

Lynette ·

As daar nou een ding is wat armes armer maak is dit Eskom met sy korrupsie wat bly pryse opstoot en wegkom daarmee. Gaan besin oor julle nonsens NUM.

Nico K ·

NUM weet duidelik nie waaroor hulle kla nie. Ek kan nie dink dit sal die steenkool myne enigsins benadeel nie. Die hernubare bronne gaan nog lank nie in al ons behoeftes voorsien nie. En dit sal talle ander werksgeleenthede skep. En die belangrikste dit gaan die hele land se ekonomie bevoordeel. Daar gaan niks geld vir die armes wees as daar geen rykes is wat besighede ontwikkel nie.

Anoniem ·

Die unies is die grootste sonde bokke as dit by werk verliese kom. Hulle dwing maatskappye op hul kniee met staakings en salaris verhoging en hulle getoitoi. Dit is deur hulle dat die ekonomie agteruit gaan en daar slegte dienste gelewer word. Die regering moet hul voet neersit en die unies wat so moeilikheid maak eerder verbied.

Piet Pompies ·

Uitstekende nuus, hier by ons gaan so ‘n kragopwekker gebou word wat omtrent 20MW in die ESCOM grid voer, dit deur afval materiaal te verbrand. Dan is daar windkrag ens, gaan loer bietjie in die Kaap en sien wat windkrag kan doen…

Rupert Ashford ·

Het ek nie onlangs gehoor besighede van Motsepe, Ramaphosa en Radebe het groot bedrae in die RSA hernubare energiesektor bele nie? Kan nie wees nie. Seker verkeerd gehoor…?

Hendrik ·

Ted Blom, vorige Eskom adviseer en kragkenner, het heel ander ‘n ander mening oor hierdie kontrakte. Daar moet vir die volgende 20 jaar krag gekoop word teen 80 sent/kWh al het Eskom dit nie nodig nie. Met baie groot steenkool reserwes, Matdupi en Kusuli wat nog op lyn moet kom, ekstra 10 Giga Watt se krag wat beskikbaar is a.g.v ekonomie wat af is en die feit dat Eskom krag teen 30 sent/kWh lewer is hierdie kontrakte baie onder suspisie van korrupsie. Wie gaan vir hierdie ekstra krag betaal? Ek self is heeltemal 100% krag onafhanklik maar die ekonomie kan nie eintlik hierdie kontrakte bekostig nie.

Rupert Ashford ·

Sg hernubare krag is wereldwyd ‘n korrupte spul Hendrik. Die geweldige prysstygings per kw/h die laaste 10 jaar is juis kunsmatig deur regeringsbeleid aangebring om hierdie onbetroubare bronne “bekostigbaar” te laat lyk. Maak mens naar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.