Gemengde reaksie op Zuma-staatsrede

Zuma lewer op 18 Junie 2014 sy Staatsrede in die parlement in Kaapstad Foto: GCIS, Twitter

Zuma lewer op 18 Junie 2014 sy Staatsrede in die parlement in Kaapstad Foto: GCIS, Twitter

Die ANC het die hoogste lof vir president Jacob Zuma se staatsrede gehad, maar opposisieleiers het dit as “middelmatig” en “gedemp” beskryf.

“Die toespraak het die ANC se manifes oorgedra in ʼn plan van aksie,” het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die regerende party, Dinsdagaand aan verslaggewers buite die Nasionale Vergadering gesê. “Dit is ʼn stap-vir-stap wat gedoen moet word, en die ekonomie is eerste aan die beurt.”

Mantashe het gesê Zuma herstel goed nadat hy vir ʼn week lank met siekverlof was. Talle gebruikers op Twitter het oor Zuma se gesondheid gespekuleer en gesê hy lyk “moeg”.

Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, het gesê alhoewel Zuma die probleme van die ekonomie aangespreek het, is dit “te min, te laat”. “Ek is besorg dat pres. Zuma in een ruimte leef terwyl Suid-Afrikaners in ʼn ander, baie moeilike ruimte leef.”

Die derde grootste party in die parlement, die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het Zuma ook veroordeel. Julius Malema, leier van die EFF, het gesê ANC-lede klap hande vir middelmatigheid. “Daar is niks opwindend nie buiten ʼn geblaas van warm wind en ʼn herhaling van dinge wat ons vantevore gehoor het,” het Malema gesê.

Zanele kaMagwaza-Msibi, leier van die National Freedom Party en adjunkminister van wetenskap en tegnologie, het Zuma se fokus op munisipaliteite verwelkom en haar tevredenheid uitgespreek dat hy water en sanitasie in die toespraak genoem het.

Mangosuthu Buthelezi, leier van die Inkatha Vryheidsparty, het gesê hy is pessimisties ná die toespraak. “Hy [Zuma] was eerlik genoeg om te sê dat ekonomiese groei die enigste manier is om werk te skep en met dié kwessie behaal ons nog nie naastenby ons teikens nie,” het Buthelezi gesê.

Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, het gesê Zuma se toespraak was “gedemp”. “Ek dink die gas is uit die botteltjie van die Zuma-administrasie,” het Mulder gesê. “Ons het iets oorspronklik in die ekonomie nodig en daar was niks oorspronklik nie, net ʼn herhaling van ou dinge.”

Zwelinzima Vavi, uitvoerende hoof van Cosatu, het gesê hy wou meer hoor hoe die ekonomie ʼn groeikoers van 5% gaan behaal.

Die burgerregte-organisasie AfriForum die sy kommer uitgespreek dat Zuma nie in voeling is met die realiteite in Suid-Afrika nie. AfriForum het die staatsrede beskryf as ’n reeks fluweelryke beloftes waarvan die meeste nie nagekom sal word nie omdat daar nie begrip vir die ware omvang van die probleme is nie en omdat geen praktiese stappe vir die realisering daarvan uitgestip is nie. Met betrekking tot werkskepping het Zuma onder meer gesê dat daar van die landbousektor verwag sal word om een miljoen werksgeleenthede te skep. “Dit, terwyl geen erkenning gegee word aan die feit dat werkskeppers op plase deur ʼn golf van geweld geteister word en gevolglik die sektor toenemend verlaat nie,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die feit dat daar slegs in die verbygaan na die misdaadkrisis verwys is, terwyl dit een van die land se grootste probleme is.

-SAPA

Lees ook:
Staatsrede: Zuma fokus op armoede, werkloosheid en ongelykheid

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.