Gemoedere loop hoog buite ‘sekspastoor’ se kerk

Betogers voor die Jesus Dominion International (JDI)-kerk in Port Elizabeth (21 Oktober 2018). Foto: ANA

Gemoedere het Sondag hoog geloop buite die Jesus Dominion International (JDI)-kerk in Port Elizabeth waar burgerlike organisasies en politieke partye betoog en geëis het dat die diens gestaak word.

Die hoof van dié kerk is Timothy Omotoso, die pastoor wat tans in die plaaslike hooggeregshof tereg staan op talle aanklagte, onder meer van verkragting en mensehandel.

Die kerkdiens in Noordeinde is opgeskort en van die gemeentelede is vinnig by die perseel weg terwyl woedende betogers buite die gebou gesing en geëis het dat die kerk permanent sy deure moet sluit.

Die “Citizens in Unity”-groep het lede van die ANC-Jeugliga, die ANC-Vroueliga, die EFF, verteenwoordigers van Saftu en verteenwoordigers van Sasco ingesluit.

Polisiebeamptes en metropolisiebeamptes het voor die gebou wag gehou en was in ʼn paar skermutselings met woedende betogers betrokke. Gemeentelede het ook met die polisie gebots terwyl die beamptes probeer het om gemoedere te kalmeer. Nomafa Sinetile, ʼn lid van die ANC-Vroueliga, het by die betogers gepleit om kalm en gedissiplineerd te wees, maar betogers het hulle nie veel hieraan gesteur nie en geëis dat die JDI-kenteken en Omotoso se gesig op die gebou verwyder word.

Die meeste van die gemeentelede het in die gebou geskuil en gesê hulle is te bang om uit te gaan. Hulle het later uiteindelik die gebou verlaat te midde van die skreeuende betogers. Van die betogers het vir die gemeentelede geskree hulle moet hulself red van “mense wat maak asof hulle God is, maar dit nie is nie”.

Betogers voor die Jesus Dominion International (JDI)-kerk in Port Elizabeth (21 Oktober 2018). Foto: ANA

Luyolo Nqakula, die ANC-Jeugliga se streeksekretaris, het gesê die groep het in sy doelwit geslaag deur te verseker dat vandag se diens nie voortgaan nie. Hy het gesê hy het vroeër vandag met die kerk se leierskap gepraat, maar hulle was “arrogant” en het volgehou hulle het ʼn reg om ʼn kerkdiens te hou.

Nqakula sê die terugvoer wat hulle egter van die munisipaliteit gekry het, is dat die spesifieke gebou vir sakedoeleindes gesoneer is. “Hulle het vir ons gesê die sonering van hierdie personeel is vir besigheid, wat beteken die kerk kan nie hier bedryf word nie,” het hy gesê.

Luvuyo Ponase, die EFF se streekswoordvoerder, het gesê die sluiting van die kerk is “onbepaald”. “Die dienste is nie net vir vandag opgeskort nie, dit is onbepaald opgeskort. Hierdie kerk sal nie weer sy deure oopmaak totdat hulle instem om daardie kennisgewing te verwyder nie.”

Ponase het verder gesê Citizens in Unity sal voortgaan met hul protesaksie om die vermeende verkragtingslagoffers in Omotoso se verhoor te ondersteun.

Die Nigeriese pastoor staan tereg op 63 hoofaanklagte en 34 bykomende aanklagte, insluitend mensehandel, verkragting, seksuele aanranding, rampokkery en sameswering met ʼn ander persoon om ʼn seksuele misdaad te pleeg.

Sy medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho, word daarvan beskuldig dat hulle vroue en minderjarige meisies van reg oor die land gewerf het wat vir doeleindes van seksuele uitbuiting gebruik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Net ek ·

Pastor, ek weet nie of jy die poort van die hemel gaan sien nie, tensy jy nou jou saak regmaak

Anton Hugo ·

Net ek, ek stem saam met jou. Enige sondagaanbidding is van die bose.
Hopelik bekeer nie net hy nie, maar alle sondagaanbidders.

@Anton ·

Anton, baie kritiese ding om te sê!! Gelukkig het die JESUS wat ek dien volgens die NUWE testament my vrygemaak van al die wettiese voorskrifte. Elke dag moet jy basies sabbat hou en nie net reserveer vir een dag nie. Ek aanbid op ‘n Sondag en as geesvervulde Christen gaan jy my moeilik oortuig dat ek uit die bose is! By the way, ek aanbid ook op Maandag, Dinsdag, Woensdag, Donderdag, Vrydag en ook op Saterdag!!

Sarel ·

Dit is jammer dat die mense probeer om Politieke munt te slaan en die saak vooruit loop. Daar kan egter nie na hom as ‘n Pastoor verwys word en na sy organisasie as ‘n kerkgroep nie. Dieselfde as die sg. Pastore wat Doom Spuit en slange gebruik.

Alida ·

Iets wat die EFF reg doen mooi so. Die duiwel kan nie aangaan met sy gruweldade nie. Snaaks hulle brand nie die plek af nie. Daar baie regte kerke om by te woon.

Danie ·

wat is mooi wat die eef gedoen het? kerk se deure toe maak omdat die pastoor van die pad af is. jy kan nie die ganse kerk veroordeel vir een se fout nie. hoie gemaak as jou kind in `n klas is en `n ander kind steek `n maatjie en nou word die skool gesluit????
word wakker – jy sal omgekrap wees om die minste te se. dit wil voor kom of jy dus te gunste in dat kerke se deure gesluit word.
die onderwerp van besigheid perseel of nie is nie ter sprake nie, omdat jan alleman kan doen wat hy wil en waar hy wil. hoekom dan juis beperking sit op Christelike plekke en waardes.
of jy nou `n gesiene mens is, ongeag jou geleerdheid, of aansien, jy bly `n mens en enige mens kan faal, maar God gee ons `n kans, so moet nie dat ek en jy as mens oordeel nie. ek keur ten sterkste af wat hier gebeur het en die sulkes moet gestraf word as hul skuldig is.
ongelukkig is ons reg stelsel so `n gemors, sodat die skuldige meer voordeel trek as die benadeelde / onskuldige persoon. kom ons vertou dat die Here die weg sal baan vir geregtigheid en die seer en haat sal verwyder wat te na gekom is.

LM ·

Jammer om te se dat ek voel die pastoor moet eers toegelaat word om te preek na sy verhoor.

alida ·

Natuurlik word die dam weer onder eend uitgeruk. HIerdie is nie ‘n pastoor nie hy “preek” vir sy eie sak en met dit saam verwoes hy jong meisies se lewens. As jy wil preek doen dit dan vir die regte redes. Die EFF het reggedoen. As daardie kerkgangers nie deur die duiwel kan sien en na ‘n regte kerk toe gaan nie is hulle maar dom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.