Gemoedere loop hoog by raadsvergadering oor lyfwagte

Burgemeester Themba Njilo. Foto: www.msunduzi.gov.za

ʼn Spesiale raadsitting van die Msunduzi-munisipaliteit in Pietermaritzburg het Dinsdag in ʼn vurige woordwisseling ontaard toe opposisiepartye ʼn verslag geëis het oor die koste van die lyfwagte wat toegesê is aan senior politici in dié stad.

Tans het speaker Jabu Ngubo, burgemeester Themba Njilo, sy adjunk Thobani Zuma en Sizwe Hadebe, die stadsbestuurder, almal lyfwagte.

Hoewel die koste van die lyfwagte nog nie bekend gemaak is nie, beloop hul vergoeding glo duisende rande per maand.

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) het onlangs aangedui dat uitgawes op lyfwagte wat toegesê is aan politici besnoei sou word en dat enige versoek vir addisionele sekuriteit aan misdaadintelligensie-ondersoeke onderwerp sou word.

Cogta in KwaZulu-Natal het aangedui dat sowat 35 burgemeesters in die provinsie nie minder nie as drie lyfwagte elk het, met 29 adjunk-burgemeesters en 30 speakers wat elk ten minste twee het. Die 143 raadslede van 19 munisipaliteite het altesaam 266 lyfwagte.

Ngubo, die speaker, het haar misnoeë te kenne gegee oor Cogta wat aandring dat die departement dalk nie welvoeglik opgetree het nie toe hy ʼn beroep gedoen het dat politici se lyfwagte verminder word.

Opposisiepartye het egter die beroep verwelkom omdat hulle glo die stelsel word misbruik deur die ANC-leiers. Dít het gelei tot die eis dat die verslag oor die beleid en koste van die lyfwagte aan die raad voorgehou moet word.

“Ons moet weet watter koste was betrokke en of die kwessie aandag kry in die kostebeperkingstrategie,” het Dennis Ntombela, raadslid van die IVP, gesê.

ANC-raadslede het hul bekommernis oor die bekendmaking van dié inligting uitgespreek omdat hulle glo die inligting is sensitief van aard.

Boniwe Zulu, algemene bestuurder van gemeenskapsdienste, het gesê haar departement sal die verslag voorberei wat vir die raad ter tafel gelê sal word aangesien die kwessie van veiligheid binne haar departement val. Sy het bygevoeg dat beamptes van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid ook insae sal lewer.

Die Msunduzi-munisipaliteit val binne die ANC se Moses Mabhida-streek waar verskeie raadslede en ander senior beamptes in politiek verwante moorde die afgelope twee jaar omgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

christa ·

lyfwagte sal daar wees, as dit iemand anders is wat betaal.

Ella ·

Vir wie is hulle bang dat hulle wagte nodig het?

In my dorp kan jy nie by een beampte of kantoor uitkom. Hulle sit agter veiligheidhekke en -deure, tralies, koeëlvaste glas en deure toegerus met vingerafdrukkontrole. Vir wie is hulle bang?

Andrea van Vuren ·

Gedurende die vroeë tagtigs was ek werksaam by ‘n hospitaal in Pretoria. My hospitaalbestuurder was toevallig ook die destydse burgermeester van Pretoria. Sy het geen, maar geen toelae ontvang nie en het af en toe haar goue ketting omgehang om funksies te gaan bywoon. Dit was ‘n statussimbool. Sy het haar volle dagtaak gelewer en saans haar addisionele verpligtinge bygewoon. Glo my, hier vind vandag geldvermorsing plaas van ‘epidermiese proporsies!’

ne ·

Hulle verdien so BAIE geld die wagte moet seker die geld oppas. Intussen is al die plekke bankrot! Eskom en Water word nie betaal nie hoewel die rekeninge betaal word deur die publiek.

Reguit ·

Het “gansters” se “kingpins” nie minder wagte nie? Wonder maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.