Gems ondersoek nou kwalifikasies van alle uitvoerende raadslede

Dr. Sam Lewatlle.

Die mediese fonds vir staatsamptenare, Gems, gaan ʼn omvattende ondersoek na die kwalifikasies van elk van sy uitvoerende komiteelede doen ná berigte dat die doktorsgraad van sy uitvoerende hoof van korporatiewe dienste moontlik ongeldig is.

News24 het vroeër berig dr. Sam Lewatle het sy doktorsgraad in sakeadministrasie aan die LIGS-universiteit, ʼn aanlyn universiteit in Hawaii in die VSA, verwerf. Luidens die berig wys korrespondensie van die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (Saqa) dat hy egter nie die kwalifikasie van LIGS erken nie omdat die instelling nie deur onderwysowerhede in die VSA erken word nie.

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, sê nou hy neem kennis van die berigte. Luidens ʼn verklaring van die minister het dr. Phumelela Dhlomo, Gems se hoofbemarkingsbeampte, bevestig dat Lewatle nie ʼn doktorsgraad het nie. Volgens Dhlomo is dié graad egter nie ʼn vereiste vir die posisie wat Lewatle beklee nie.

Volgens Dhlomo is verskeie bewerings ook oor die kwalifikasies van ander van die mediese skema se uitvoerende komiteelede gemaak.

Gems het nou ʼn onafhanklike regsfirma aangestel om die kwalifikasies van alle uitvoerende komiteelede na te gaan en die geldigheid daarvan te bevestig.

Mchunu het die stap verwelkom en sê hy sien daarna uit om die verslag te ontvang.

“Geen korrupsie of wanvoorstelling van enige aard sal in die staatsdiens geduld word nie en die minister prys die skema vir sy deursigtigheid en proaktiewe optrede om te verseker die integriteit van die skema bly behoue,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hannes ·

Moes dit nie gedoen gewees het VOOR die aanstelling nie. Vra net?

Plaaskind ·

Hoe op aarde word mense is sulke belangrike poste aangestel sonder ‘n behoorlike background check, of moet jy net ‘n sekere velkleur he om te kwalifiseer?

Nie Verbaas ·

Wys jou hoe intilligent die is wat hom aangestel het.

Andre ·

Bietjie laat nou om mense se kwalifikasies na te gaan…is jy nie veronderstel om dit te doen voor jy mense aanstel nie.?

Willem ·

Ek sê ook. Stel eers aan en as hul dan uitgevang word, word daar skielik ondersoeke gedoen wat die belastingbetaler weervgeld kos

Johann ·

Ja wel hyt seker die Graad in Hawai in Zulu of Phedi of Tshwana voltooi…dis nie SY skuld dat hulle dit nie verstaan nie?

Persheks Adri ·

Kyk nou weer die verskoning:

“Volgens Dhlomo is dié graad egter nie ʼn vereiste vir die posisie wat Lewatle beklee nie.”

Ek’s seker hulle almal wat kamstig dr’s is het nie eers die titel verdien nie, maar kry die salaris pfff… Soos kopdoek ook seker wat sê knoffel en beet help vir aids mmmmmmm

koos10 ·

Nou moet hierdie mense oor belangrike mediese sake vir meer as 4 miljoen mense besluit.
Hulle kan nie eers eerlik wees oor hulle self nie (lui Pallo Jordan en sy “Dr” titel ‘n klokkie?).
Geen wonder die fondse is bankrot nie.
Terwyl julle besig is, doen sommer ‘n indiepte oudit.

Nie Verbaas ·

Tipies ANC. Volg sommer op op alle ministers, senior poste in staat en sommer alle werknemers . Die resultate gaan lagwekkend wees. ANC stel mense aan wat geen idee het wat pos vereistes behels nie.

JohanEtz ·

Ek het in my hoedanig as forensiese ondersoeker die kopdoek tannie se drs graad probeer bevestig.
Sonder haar uidruklike goedkeuring, kon die betrokke elite instelling dit nie bevestig of ontken nie….
Ek twyfel of ons enigiets van die ondersoek in die berig kan verwag….

Elize ·

Dit maak nie saak of hy dit nodig het vir die pos nie. Om dit voor te hou asof jy dit het is egter steeds bedrog.

Hennie J ·

Dis krimineel en hy moet krimineel vervolg word. Komaan Adv. Nel, “cut him to size” tesame met die kaders wat hom aangestel het.

Sarel ·

” Geen korrupsie of wanvoorstelling sal in due Staarsdiens geduld word nie” Regtig in watter land, beslis nie SA nie.

christo ·

Ek het nou net ‘n vir my ‘n aanlyn PhD kwalifikasie van my HP drukker gekry. Universiteit van Mamparaland, nogal.

David ·

As die man se Dr kwalifikasie nie geldig is nie, en dit blyk soo te wees, dan word hy aangespreek as Mnr! Nie soos hierbo nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.