Gems-uitlating net nóg ʼn ‘NGV-leuen’    

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Hush Naidoo Jade/Unsplash)

Solidariteit sê hy sal die regering graag tot ʼn openbare debat wil uitdaag oor die volgehoue leuens oor die wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) vanuit regeringskringe.
Vals uitsprake oor die NGV is klaarblyklik besig om op te hoop – veral in die aanloop tot die nasionale en provinsiale verkiesings op 29 Mei vanjaar.

Die jongste voorbeeld daarvan is uitlatings deur Yoliswa Makhasi, direkteur-generaal van die departement van staatsdiens en administrasie. Makhasi voer aan dat die mediese fonds vir staatsamptenare (Gems) wél onder die NGV behoue sal bly en regverdig dit deur te sê die regering het baie daarin belê.

Volgens Theuns du Buisson, ʼn ekonomiese navorser verbonde aan Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI), is hierdie uitsprake heeltemal irrasioneel.

“Die NGV gaan ons almal te na kom. Die wetsontwerp lui duidelik dat mediese fondse nie toegelaat sal word om enigiets meer as aanvullende dekking te bied nie. Gems sal dus nie kan bly voortbestaan nie en sal, soos ander fondse, ophou om omvattende mediese dekking te kan bied.

“Die wetsontwerp sê juis geen mens in Suid-Afrika, buiten lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en die Staatsveiligheidsagentskap, kan mediese dienste op enige ander wyse as onder die NGV bekom sodra dit deur die NGV gedek is nie.

“Onder die NGV is ons almal kniediep in die moeilikheid – ongelukkig Gems-lede ook,” sê Du Buisson.

Dit is ook nie die eerste keer dat inligting wat strydig is met die wetsontwerp uit die regering se amptelike strukture kom nie. Vroeër vanjaar is inligtingstukke versprei wat valslik verkondig het dat mense steeds uit hul eie sakke vir mediese dienste sal kan betaal, indien hulle sou kies om nie die NGV te gebruik nie.

In April het Panyaza Lesufi, die Gautengse premier, gesê ná die verkiesing kan enigiemand – met of sonder ʼn mediese fonds – by enige hospitaal instap en aandring op behandeling. Prof. Nicholas Crisp, adjunk direkteur-generaal belas met die NGV in die nasionale departement van gesondheid, het gevolglik in ʼn onderhoud gesê dié soort uitlatings is blatante politiekery en dit “onverantwoordelik en strydig met die wet” genoem.

Volgens Peirru Marx, koördineerder van Solidariteit se beroepsnetwerke vir die mediese professie, is dit verwaand om aan te voer dat die regering se belegging in Gems die behoud daarvan onder die NGV regverdig.

“Hierdie uitlatings is duidelik ʼn klap in die gesig van alle lede van mediese fondse wat ook in hulle gesondheid belê het om seker te maak hulle kry gehalte-gesondheidsorg. Dit sê staatsamptenare word bo die res, wat van die openbare sektor afhanklik is of dié wat private fondse verkies, gestel.

“As die regering nie die ‘vermoëns ’ van Gems weens die totstandkoming van die NGV wil verloor nie, waarom moet die aansienlik groter vermoëns van private fondse verlore gaan?” vra Marx.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.