Genade vir kleinboere ná verwoestende oorstromings

Johannes Arendse (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Liezl Human, GroundUp

Johannes Arendse, ʼn boer van Genadendal, het drie maande gelede die meeste van sy vee en oes tydens verwoestende oorstromings in die Wes-Kaap verloor. Maar ʼn klein genade in die vorm van ʼn mark vir organiese produkte het hom en ander kleinboere in staat gestel om die oorblyfsels van hul oes te verkoop.

Die Mowbray-mark in Kaapstad is ʼn jaar gelede op die been gebring om kleinboere en vissers van landelike gebiede oor die hele provinsie bymekaar te bring om hul produkte te verkoop.

Die mark is in samewerking met die Trust vir Gemeenskapsuitreike en Onderwys, asook die Landelike Vrouevergadering en die Mawubuye Grondregteforum begin.

Arendse het spinasie, boerekool, kruie en inheemse plante verkoop. Hy het ook sakke soetrissie- en tamatieplante verkoop wat maklik is om self te plant en te versorg.

Tydens die oorstromings in September het die plaas wat deur Arendse en ses ander boere besit word, verwoestende verliese gely.

Die watervlakke het tot ʼn meter hoog gestyg en al sy landerye bedek. Honderde van sy hoenders en verskeie varke het in die swaar reën verdrink en baie van sy oes het weggespoel of versuip.

Arendse het by die mark die afgelope naweek gesê dit gaan baie beter op die plaas. Sy oeste groei weer, en hy bou ʼn hoër hoenderhok om voor te berei vir enige toekomstige oorstromings.

Shaheeda January-Manzini (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Sophia Grodes en Shaheeda January-Manzini het ook groente en saailinge by die mark verkoop.

Grodes bestuur ʼn groentetuin en leer kinders van boerdery by ʼn skool in Ocean View. Sy sê dit is “baie lonend” vir kinders om te leer hoe om groente en vrugte aan te plant.

“Elke huishouding moet ʼn tuin hê om hulself te voed,” het Grodes gesê. As jy jou eie groente kweek “hoef jy nie te wonder waar jou kos vandaan kom nie”.

Sy en January-Manzini boer met organiese produkte wat met geen plaagdoders of chemikalieë besproei word nie. Volgens January-Manzini probeer hulle vars sade kry, maar as hulle dit nie in die hande kry nie, was hulle die chemikalieë van ander sade af.

Keshia Leonard het vars vis verkoop wat deur die koöperasie in die vissersdorpie Buffeljagsbaai gevang is, asook tuisgemaakte konfyte en gedroogde suurvye wat op die sandduine groei waar sy woon.

Sy het gesê kleinmaatvissers in Buffeljagsbaai sukkel tans. Hulle wag dikwels lank om permitte te kry, hul kwotas is beperk, en hulle het nie altyd ʼn winsgewende vangs nie. Al hoe sy die afgelope tyd oorleef het, was deur tuinmaak by plaasvroue deur die Landelike Vrouevergadering te leer.

Daar is min geleentheid vir kleinboere om hul produkte in die mark te stoot weens ʼn handvol groot kommersiële rolspelers wat die voedselstelsel oorheers, maar danksy die Mowbray-mark het dié boere ook nou ʼn platform vir hul produkte.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.