Genadedood-saak: Wie was Richard Holland?

Richard Holland is in November 2015 in Kaapstad dood nadat hy vir amper drie jaar “ondraaglike pyn” beleef het nadat hy op sy fiets deur ʼn motor raakgery is.

Dit het Maandag in die landdroshof in Kaapstad aan die lig gekom dat prof. Sean Davison, stigter van Dignity SA, nou aangekla word van die moord op Holland nadat hy hom glo met genadedood bygestaan het. Daar is glo ʼn dodelike hoeveelheid medikasie aan Holland toegedien.

Davidson staan reeds op twee ander aanklagte van moord tereg waar hy mense glo met genadedood bygestaan het.

Richard Holland

Wie was Richard Holland?

Holland is op 11 Oktober 2012 deur ʼn motor raakgery terwyl hy op sy fiets geoefen het in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate. Hy is van agter af raakgery en het ernstige beserings opgedoen, waaronder talle gebreekte ribbes, beserings aan sy longe, ʼn gebreekte sternum, ʼn gebreekte regterfibula (kuitbeen) en ernstige breinbeserings.

Holland se breinbeserings het tot gevolg gehad dat hy in ʼn koma was en aan inkluissindroom (“locked-in syndrome”) gely het. Dit is ʼn toestand waarin ʼn pasiënt by sy bewussyn is, maar nie mondelings kan kommunikeer of beweeg nie weens die verlamming van byna alle willekeurige spiere in die liggaam.

Holland was vir sowat vier maande in ʼn hospitaal in Dubai en daar is besluit om hom na Suid-Afrika te bring aangesien sy toestand byna onveranderd was. Sy ouers, Judy en Colin Rothschild, het van Melbourne, Australië, na Kaapstad verhuis om na hul seun om te sien. Hy het in ʼn kamer in sy ouers se huis gewoon en voltydse sorg gehad.

Holland se ouers het op 9 November 2015 aangekondig dat hul seun die vorige dag op 32-jarige ouderdom oorlede is. “Hy het drie jaar lank braaf geveg. Ons mis hom reeds, maar ons wil die mens wat hy was, vier. Sy humor en geaardheid het hom deur drie ondraaglike en pynlike jare gekry.”

Holland het in sy vroeë 20’s ʼn kranige fietsryer geword terwyl hy aan die Rhodes Universiteit studeer het. Hy het ook hierna met driekamp begin en Suid-Afrika in 2007 by die Wêreldkampioenskap verteenwoordig.

Holland was 25 jaar oud toe hy na Dubai getrek en as bemarking-en-verkopebestuurder begin werk het.

Sean Davison. Foto: Facebook via DignitySA.

Maroela Media het vroeër berig Davison is in September verlede jaar in hegtenis geneem in verband met die genadedood van sy vriend, dr. Anrich Burger, in November 2013.

In November 2018 is ʼn tweede aanklag van moord teen hom aanhangig gemaak in verband met die dood van Justin Varian op 25 Julie 2015 in Fresnaye in Kaapstad. Volgens die staat het Davison ʼn plastieksak oor Varian se kop getrek en helium daarin ingespuit om hom te versmoor. Varian wou glo sterf.

Davison is ʼn kampvegter vir genadedood en beywer hom vir die verandering van wetgewing om verstandelik bekwame volwassenes die opsie van ʼn “waardige dood” te gee.

Hy is in 2010 in Nieu-Seeland in hegtenis geneem nadat hy sy ma, wat terminaal siek was met kanker, ook gehelp het om haar lewe te beëindig. Hy was vyf maande in huisarres in Nieu-Seeland, en het in Mei 2012 na Suid-Afrika teruggekeer.

Die saak teen Davison is tot 24 Mei uitgestel en sy borgtog is tot dan verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

52 Kommentare

jongste oudste gewildste
Db

Hoekom moet mens deur al die pyn en lyding gaan net omdat iemand besluit jy mag nie self oor jou lewe besluit nie? Ek is ‘n volle ondersteuner van die genadedood en hoop dat ek myself daarop kan beroep as ek in so ‘n situasie moet wees. Niemand wat ‘n mens is kan besluit of jy moet lewe nie. Dit is jou eie besluit

honourable member

Ek is ook n voorstander van genade dood. Hoekom moet enige mens deur soveel pyn en lyding gaan en wag om dood te gaan.

JWC

As die spul maar net so konsekwent met plaas- en ander moorde wou optree… maar grond afvat sal hul “dignity” herstel… HU???

Maljan

Hoe weer hulle buitendien wie was betrokke? Wie behalwe die ataat het die klagte ingesien? As sit familie lede is, Dan het hulle van die begin af geweet, gehelp en toegesmeer. Aiding and abetting.

Nina

Reeksmoordenaar