‘Generiese bewoording’ lei tot toelatingsherrie oor topstudent

Die universiteit van Kaapstad. (Foto: UK)

“Dit gaan oor my pragtige kind wat 12 A’s in matriek het. Julle het geen benul waardeur hy in die Covid-19-tyd was om hierdie resultate te lewer nie.”

Só het Mari-Anna Kühn Dinsdag gesê nadat ʼn storm losgebars het oor haar seun Michiel se aansoek by die Universiteit van Kaapstad (UK).

Die 19-jarige Michiel was Paul Roos Gimnasium se toppresteerder vir 2020 en het onder meer by die UK aansoek gedoen om medies te studeer – en het toelating daar gekry. Hy het daarna besluit om eerder BCom Aktuariële Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) te gaan studeer en het nie die UK voor ʼn gegewe spertyd aanlyn laat weet dat hy nie die aanbod aanvaar nie.

“Ja, hulle het ons gebel. Ons het nie betyds teruggebel nie en dit was ons fout.”

Kühn sê hulle het die universiteit se brief vroegaand op Woensdag 10 Maart ontvang waarin die UK sê Michiel se aansoek is deeglik geassesseer, maar hy het nie plek in die program gekry nie omdat sy aansoek kwansuis nie “mededingend” is nie.

Dit was die bewoording van hierdie brief wat Kühn dwars in die krop gesteek het. Sy sê sy het dit op haar Facebook-blad saam met Michiel se punte gedeel – en van daar af het die situasie handuit geruk.

Sy het die UK die volgende dag herhaaldelik probeer bel om vas te stel waarom Michiel oënskynlik op meriete afgekeur is.

“Die dame by die skakelbord het net gesê die toelatingskantoor neem geen oproepe nie. Ek het gevra vir die sekretaresse van die dekaan van die mediese fakulteit en moes toe weer verneem dat hulle ook nie oproepe neem nie.

“Ek het versoek dat sy my terugbel oor die brief. Tot op hede het niemand van die UK se toelatingskantoor – wat die brief onderteken het – óf die sekretaresse my teruggebel nie.”

Kühn sê hulle was nie bewus daarvan dat Michiel die aansoek aanlyn van die hand moes wys nie. Sy sê ander universiteite het verdere navraag gedoen nadat Michiel nie sy plek daar opgeneem het nie.

“[Die UK] se openbare betrekkinge is nie reg nie. Om daardie brief te kry en te hoor jy is nie goed genoeg nie … Hulle moes nie daardie brief uitgestuur het nie, die bewoording daarvan is heeltemal verkeerd.

“Ek het nooit hierdie plasing vir politieke gewin gemaak nie.”

Sy sê dít was die rede waarom sy die brief op haar Facebook-blad gedeel het. “Ek het dit gedoen omdat jy nie vir iemand hierdie brief kan skryf as jy hom wegwys nie.”

Die UK het in reaksie op die herrie toegegee dat die bewoording van die brief wat aan Michiel gestuur is “generies” is en inderdaad lui dat die “aansoek nie mededingend is nie”.

“Die fakulteit sal sy stelsel hersien om te kyk na bewoording wat op spesifieke aansoekers van toepassing is en nie generies is nie,” het die UK beloof nadat hy oor die bewoording van die brief gekap is.

Nadat iemand anders egter die plasing gedeel en dit soos ʼn veldbrand versprei het, het Kühn haar oorspronklike plasing verwyder.

Die gesin is sedertdien van rassisme en sogenaamde wit bevoorregting beskuldig en Michiel word openlik geteiken. Sy uitstekende punte word selfs bevraagteken.

“Hy het sedert verlede jaar 12 uur per dag gesit en werk,” sê Kühn – en nou word Michiel, geensins deur sy eie toedoen nie, uit talle oorde verguis.

“Dit is ʼn situasie wat heeltemal buite sy beheer is.

“Ek is kwaad vir die Universiteit van Kaapstad. Alles wat nou gebeur, het uit daardie brief van die universiteit gevloei.”

Michiel het intussen reeds met sy studie aan die US begin, ʼn besluit wat hy geneem het selfs voordat die herrie oor die UK-plasing losgebars het. “Ons is bly en dankbaar vir die geleentheid,” het Kühn gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Raakvatter ·

Nee mevrou, dis jy wat die brief geplaas het!! Sterkte vir jou seun, mag hy sukses behaal.

Zacharias ·

En met goeie rede het sy dit geplaas! Hoop dit maak ‘n blik wurms oop. Ek dink dis meer as net ‘n “cut&paste” fout… Sy ras is verkeerd… Net my spekulasies…
Met daardie outjie se punte is dit seker ‘n “template” vir die brief wat hy aan daardie universiteit moet skryf… Iets in die lyn van : ongelukkig is julle nie kompeterend genoeg nie en moet julle studente gaan werf wat sukkel om deur te kom en so voorts…

H ·

Dit word nou net toegesmeer ! Almal weet wit is nerens meer welkom nie al het hulle als opgebou om afgebreek te word ! PUNT!!

Baardman ·

Mense hardloop te gou facebook toe en dan kry stories stertjies, en gewoonlik trek die onskuldige party aan die kortste end.

Mariana ·

Seun gaan aan met jou studies en mag jy hoogtes bereik wat selfs jou sal verstom. Vergeet van die wêreld met al sy kleinlikhede. Mev. Kuhn sosiale media sal jou fynkou en uitspoeg en elkeen met ‘n opinie, sal dit lig. Deesdae is rassisme die woord en in SA die woord om te gebruik as hulle ontevrede raak. Sterkte.

Fedup ·

Lemme see. Generic letter?
Since 2012 this specific university started with this nonsense.
I call it racist. See it for what it really is. No smoke will be blown near me.
No matter. Your son deserve a better place of learning where he can grow and be appreciated.

JM ·

Kon niks uit hul eie tot stand bring nie, nou wil hulle baasspeel. Siek!

Misky ·

Ek kan maar net raai wie skree nou rassisme en wit bevoorregting op sosiale media na die plasing van die brief……. ai, daai rympie nou al holrug gery. Sterkte vir julle as gesin en veral Michiel – welgedaan met puik prestasies!!!!

Casper ·

Hoekom het hulle nie U K laat weet meneer gaan nie meer daar student nie.Is die universiteit nie goed genoeg vir hom nie.Ek dink die misverstand is deur hulle veroorsaak.

Pokkels ·

Jammer mevrou dat jou brief so herrie veroorsaak het. Sterkte vir jou seun. Ek wonder net oor die hoeveelheid onderskeidings. Gister se berig in MM het melding gemaak van 10 en in vandag se berig noem u dat u seun 12 onderskeidings gehad het????

Megan Swart ·

Dagsê Ronel
Die student het twee addisionele onderskeidings verwerf wat nie deur Umalusi erken word nie.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Johanncb ·

Die plasing van die brief op Facebook, was absoluut onnodig! Die moeder benadeel haar eie kind in die proses!

Antjiepat ·

Ja nee Mammie, eintlik is JY die skuldige, nie die universiteit nie. En nou moet Seuntjie onder Mammie se wangedrag lei. Seunie baie geluk met jou 12 onderskeidings, maar lees tog maar in die toekoms die hele korrespondensie deur, selfs die aanlyn verwysings en beantwoord jou korrespondensie. As mens iets van die hand wys, is dit net goeie maniere om te se: nee dankie (of dan in hierdie geval dit ‘n geskrewe, nee dankie)

Anel ·

Ons seun het ook paar jaar terug by 2 universieite aansoek gedoen. Hy het onderskeidings gekry in die vakke waarin hy wou gaan studeer. Tuks het hom laat weet sy punte is nie goed genoeg nie. Hy is by Potch aanvaar en het op die ou einde sy Meestersgraad met onderskeiding geslaag, in Afrikaans. So, ja. Ek glo dit hang alles van jou taal en velkleur af. Sterkte aan alle blanke Afrikaanse studente.
Nogal snaaks hoe gesog ons Afrikaanse kinders oorsee is en hoe maklik hulle werk kry.

Marisa W ·

Hoeveel keer moet ons nou nog die les leer – moenie jou persoonlike issues op sosiale media deel nie

Natasha67 ·

Ek kan nie glo dat die meerderheid mense hierdie berig nié deeglik deurlees nie. Die seun se aansoek IS aanvaar by die UK, maar die seun/sy ma het nie vóór die afsnydatum laat weet of hy gaan inskryf of nie. Toe is ander persone toegelaat tot die kursus en toe die kind besluit hy wil wél UK toe gaan, was daar nie meer plek nie. Nou kry ons almal die arme wit seun jammer. Asseblief tog.

daniel ·

Waarom moet daar altyd onkundige mense aangestel word in posisies waar intelligente mense nodig is?.

Ria ·

Hierdie besluit sê alles oor onregverdige behandeling. Wat hulle nie besef nie, is dat hulle n suksesbolle ouditeur van die toekons, die deur gewys het. So hou ons aan teël aan n dom onnosel volk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.