Geneser met emmer vol liggaamsdele kry lewenslank

Argieffoto: Phillip Bruwer

Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het Woensdag ʼn tradisionele geneser, Phumlani Ngidi (34), en sy medepligtige, Khanyisile Khusi (46), lewenslange tronkstraf vir die moord op ʼn 17-jarige tiener opgelê.

Mxolisi Fortune Langazane (17) van Nkothaneni in die suide van KwaZulu-Natal is in Junie 2017 as vermis aangemeld. Sy ouma het hom na ʼn winkel naby hul woonplek gestuur, maar hy het nooit huis toe gekom nie.

Die polisie se ondersoek het die twee verdagtes in die tiener se verdwyning en moord geïmpliseer, sê kol. Thembeka Mbele, KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder.

Beamptes het Ngidi op 7 Oktober vanjaar aan die KwaZulu-Natalse Suidkus in hegtenis geneem nadat hulle ʼn emmer vol fyngekapte liggaamsdele in sy besit gekry het.

Die polisie het laat die Sondagaand ʼn wenk ontvang dat ʼn man liggaamsdele op Margate verkoop, het Mbele destyds gesê. “Die beamptes het nie gras onder hul voete laat groei nie en die inligting opgevolg.”

Hul ondersoek het hulle na Marinerylaan gelei waar hulle die verdagte in ʼn voertuig sien sit het. “Die beamptes het die man, wat in tradisionele drag geklee was, genader,” het Mbele gesê, “en gevra om die voertuig te deursoek.”

Tydens die soektog het hulle afgekom op ʼn emmer met die fyngekapte dele van ʼn menslike kopbeen, hand, bolyf en ander liggaamsdele daarin. “Die man het teenoor die polisie erken dat dit wel menslike liggaamsdele was en hulle meegedeel hy gebruik dit om mense mee te genees.”

Die verdagte was na bewering op die uitkyk vir kopers en het reeds ʼn aantal tradisionele genesers in die omgewing genader. Hy het hom glo as ʼn tradisionele geneser van Margate voorgestel.

Ander genesers het blykbaar besorg geraak toe hy hulle vertel het hy het menslike liggaamsdele in sy besit wat hy vir teen R4 000 en meer verkwansel. Dit was hulle wat die polisie in kennis gestel het.

ʼn DNS-ontleding het die liggaamsdele as dié van die vermoorde tiener geïdentifiseer.

Die saak is van die landdroshof op Margate na die hooggeregshof in Pietermaritzburg oorgeplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hansie Slim ·

Soveel vir tradisionele genesers!!
Kan seker heelwat geld uit al die liggaamsdele kry!! Een lewe ten koste vsn ‘n ander…as dit dan ten minste genesing bewerkstellig het maar hulle is nes die wat glo renosterhoring doen die ding…. asseblief!!!

Foxi ·

Siek…siek…siek man! Wat sal hulle nie nog doen om geld te maak nie. Mense word gejag soos wilde diere.

Parool ·

Ek wonder hoe lank is hierdie lewenslank. Hulle moet vir die res van hulle lewe in die tronk sit (sonder die moontlikheid van parool).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.