Genoeg steun om Pukke Afrikaans te hou, sê prof

Prof Hans du Plessis (Foto: Hans du Plessis, Facebook)

Prof Hans du Plessis (Foto: Hans du Plessis, Facebook)

ʼn Onlangse inskrywing op die Afrikaanse skrywer prof. Hans du Plessis se Facebook-blad, waar hy vra vir steun om die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus ʼn inklusiewe Afrikaanse kampus te hou, het wye reaksie op sosiale media uitgelok.

Du Plessis het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel dié inskrywing was nie ‘om te redeneer of te baklei nie’. “Ek wou nie my stem dik maak of met iemand baklei nie. Ek wou bloot uitvind hoeveel mense soos ek voel om die Potchefstroom-kampus inklusief Afrikaans te hou,” het hy verduidelik.

“Dit beteken om die kampus te hou soos hy nou is: ʼn plek waar Afrikaans tuis is, maar nie ander sprekers van tale soos Engels of Setswana uitsluit nie. Afrikaans is die ankertaal, maar g’n mens word uitgesluit nie. Mense wat tans na die NWU-Puk toe kom, weet hulle kom na ʼn Afrikaanse universiteit toe, maar dat ander sprekers verwelkom word deur middel van tolkdienste.”

Hy is van mening dat die onlangse besluit om die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch hoofsaaklik Engelse-kampusse te maak, ‘totaal onaanvaarbaar’ is. “Dit voel vir my of die mense Afrikaans ignoreer. As die vraag nie meer daar is vir Afrikaans nie, is dit piekfyn, maar dat daar werklik geen vraag na Afrikaans is nie, is nie waar nie. Dis anders om die NWU inklusief Afrikaans te hou, omdat ons niemand uitsluit nie, maar ander universiteite wil eksklusief Engels wees.”

Du Plessis sê die Potchefstroom-kampus sal slegs Afrikaans bly deur iets te doen en nie terug te sit nie. “Dis eenvoudig: ons moet kyk of ons steun het daarvoor, soos met die Facebook-inskrywing. Wanneer mense dit dan ondersteun, soos hulle gedoen het, weet ons ons is op die regte pad, maar moet ook nie ander tale uitsluit nie, en die Potchefstroom-kampus doen dit ook nie,” het hy bygevoeg.

Hy waarsku dat mense nie die boodskap verkeerd moet verstaan nie. “Dit gaan nie oor Afrikaners nie, en nee, dis ook nie ʼn ‘kleur ding’ nie. Dit gaan oor almal wat Afrikaans gebruik; die hele Afrikaanse gemeenskap word hierby ingesluit.”

Hy sê ook die ‘oorweldigende’ ondersteuning wat dié Facebook-plasing ontvang het, gee hom hoop dat die kampus wel Afrikaans sal bly. Meer as 200 000 mense is intussen deur die plasing bereik, vertel hy. Die plasing is ook meer as 2 000 keer gedeel.

“Mense kon sien dis nie ʼn aanval nie. Dit was bloot ʼn toets om te kyk hoeveel ander soos ek voel. Ek het nie op my agterpote probeer staan en sê as die kampus nie Afrikaans bly nie, dan gaan ek begin baklei nie. Ek het gevra dat mense verstaan ander tale word nie uitgesluit nie, maar dat ons dié kampus hoofsaaklik Afrikaans hou. Mense het dit verstaan, want selfs Engelssprekendes het laat hoor ‘I agree’.”

Du Plessis meen die Afrikaanse gemeenskap moet nou saam staan om die Potchefstroomkampus Afrikaans te hou. “Ek dink die Afrikaanse gemeenskap het nog genoeg guts. Ons kan dit regkry sonder om te baklei of weg te hardloop.”

Lees die volle inskrywing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Koos ·

Dankie Prof ons moet ‘n lyn trek en se nie verder die regering en sy anargistiese aanhangers toets om te sien hoe ver die Afrikaanssprekende mense sal toegee dit het tyd geword om te sê genoeg is genoeg en sou dit faal ons eie Afrikaanse instansies daar te stel Die geskiedenis het bewys dat Suid Afrikaanse burgers in twee verdeel is die wat wil opbou en vooruitgaan en die wat wil bakhand staan en afbrand en ons weet waar ons staan.

leon - Centurion ·

Pukke dan die laaste staatsuniversiteit vir Afrikaners. Soos wat die standaarde by Tuks agteruit gaan sal die Engelse van JHB en Pretoria na die Puk migreer. Binnekort maak hulle weer lawaai met “English Please”.

Flintstone ·

Ek dink dis meer ‘n geval van kwynende Afrikaanse befondsing. Hulle is terdeë bewus dat die regering nie juis bekend daarvoor is om stiptelik en konsekwent sy finansiële verpligtinge na te kom nie.Wys maar net hoe geld ‘n man kan laat dans.

John Scott ·

Ek vermoed die ou proffies by daardie universiteite wat nie meer afrikaans wil aanbied nie, het klaarblyklik in `n kringetjie gaan sit en sommetjies maak en toe tot die slotsom gekom dat as daar weggedoen word met afrikaans, kan hul sodoende daardie hap van die begroting na die personeeluitgawes afstem om hul lopende besoldiging en uiteindelike vergoedingspakket te verstewig, wat nie die geval sou kon as daar nie met die taalaanbieding weggedoen sou word nie. Die ou gryskoppe sien seker al die gordyn oor hul sak agv ouderdom en/of transformasie doelwitte., Ongeag, hul rakleeftyd is verby. Skaam julle ou vabonde dat julle per dalks net ons dommes so `n rat voor die oë draai….al miskien,miskien nie?

Johan Bester ·

Baie mooi hoop ons wen .Ek wens net die kinders en andere wil net begin suiwer Afrikaans praat en nie die song wat awsome is nie.Sies mense die lied is mooi .
Ek skaam my vir die manier van praat nou wil hulle by n Afrikaanse Plek gaan studeer .Studeers eers om ordentlike afrikaans te praat.

Dup du Plessis ·

….NWU het basies reeds 2 Engelse kampusse, deur PUK hoofsaaklik Afrikaans te hou is eintlik min gevra. Die probleem kom egter by toelating waar Afrikaanssprekende studente doelbewus weggewys word om ‘n meer demografiese studentekorps te bewerkstellig (gelydelike vermeerdering van Engelstalige studente). Watter regdenkende mens sou ‘n Engelse rektor op ‘n Afrikaanse kampus aanstel wat deurlopend deur ‘n segsman ondersteun moet word omdat hy totaal uit voeling is met sy oorgrote studente op kampus? Daar is genoeg Afrikaanse studente om ‘n paar PUK kampusse te vul maar dit word doelbewus teengewerk deur die regering. Vergelyk Afrikaanse skole statisties met Engelse skole en laat syfers t.o.v. suksesse die praatwerk doen. In hierdie laaste stelling is die jaloesie jeens Afrikaans opgesluit en word daar doelbewus gepoog om Afrikaans op elke denkbare manier voor stok te kry. My jongste het nog ‘n jaar of wat in die koshuis en PUK kampus oor en dan skuif alle ondersteuning na ‘n eie Afrikaanse universiteit sonder regeringsinmenging.

Lh ·

Ek sou nou nie juis eintlik meer reken dat n instansie waar die meeste lesings reeds in engels is, meeste handboeke in engels is, visie rektore wat net engels is, gesien kan word as n Afrikaanse universiteit nie. Net n kwessie van tyd.

jaco ·

julle wat so huil en kla oor die miskenning en verdwyning van Afrikaans, moet eerder bly wees Afrikaans word met Engels vervang en nie met Zulu of Tswana nie. Engels is baie makliker as daardie twee tale, dis algemeen verstaanbaar en dis nes Afrikaans ook ‘n taal van onderdrukking. Dit was dwarsoor die British Empire die taal van onderdrukking. Baie apartheidswette was maar net modifikasies van Britse koloniale wette waarin daar in Engels wetgewing uiteengesit is oor hoe swartes in die kolonies moet onderdruk word. Eintlik vreemd dat die swartes in SA hulle so Engels hou; dis dan ook n taal waarin hulle onderdruk is…

Wim Kotze ·

Jaco, lyk my jy het ook die storie van ‘n onderdrukkende taal heelhuids gesluk. Jy gaan seker Australie toe emigreer sodat jy Breaker Morant as jou volksheld kan omhels?

Maria van Dieweeck ·

Hoe werk ons teen die leuens wat versprei word oor die Afrikaner? Ek is so flou van ‘die vark in die verhaal’ wees! Afrikaanse studente moet net harder werk as ander, of dit nou akademie, sport of die kunste is. En sit die WAARHEID bietjie op ons verhoe en skerms.

Sarie ·

Dis die media wat Afrikaners die vark in die verhaal maak. Elke volk het sy brakkolle maar as die Afrikaner n fout maak word dit ekstra uitbasuin. Snaaks die meeste van die rasvoorvalle was wit Engelssprekendes maar die feit is min genoem. Ons is die enigste groep wat bou en nie afbreek nie. Kyk na Afriforum, Solidariteit en Orania. Sê dit nie iets nie. So moenie sleg voel as hulle ons slegsê nie dis uit pure jaloesie wat hulle ons wil afbreek . Tyd vir skuldgevoelens is lankal verby in my boekie. Trots Afrikaner tot die dood toe.

John ·

Iets wat ek net nie kan kleinkry nie, is waarom die regering nie nog universiteite bou nie met rollebol van nuwe eerstejaaraankomelinge. Maar aan die anderkant wil die swart studente eerder die uitgetrapte paaie van die witmense betree en nie iets nuuts takel nie. Die paar nuwe kampusse vra seker te veel ondernemingsgees. Dis ook makliker om ‘n pragtige groot boom af te kap as om ‘n kleintjie nat te gooi en te troetel tot hy groot en welig is en groot koeltes gooi. Miskien moet die Noord-Kaap-kampus deur Afrikaanssprekendes oorgekoop word. Plant palms en bou fonteine… en lok al die slim lektore en proffies… laasgenoemde is nogal ‘n bok vir ‘n jol al lyk dit nie op die oog af so nie…

Fanie ·

Beste Prof, ek deel u sentiment dat die Puk Afrikaans moet bly, maar ek deel nie u optimisme nie. Nee, ek is beslis nie ‘n pessimis nie, maar ‘n ervare optimis. Hoe hartseer ook al, is die huidige taalbedeling van die Puk nie volhoubaar nie. Die redes hiervoor is onder meer die rassekwota’s wat reeds met ‘n meerderheidstem deur die Universiteit se Raad aanvaar is. Ingevolge hiervan, moet die personeel en studente gaandeweg die demografie van die land weerspieel. Volgens die teikens moet die meerderheid studente bv binne 8 jaar swart wees. Daarby is die huidige Visekanselier, prof Dan Kgwadi, baie negatief oor die bestaande tolkstelsel. Daarbenewens is daar groot druk om van die Mafikeng studente na Potch toe te verplaas, soos reeds met die GR studente gebeur het. Tans laat prof Kgwadi die taalkwessie uit, omdat hy eers die bestuurstelsel sentraliseer. Die laaste probleem is taal leierskap. Theuns Eloff het dit gebied, maar die huidige leierskorps maak nie ruimte vir sterk standpunte oor taal nie. Hoewel die Kampusrektor positief oor Afrikaans is, is hy net waarnemend en reeds op aftree ouderdom. Hy kan ook nie buite sy opdragte optree nie, en in terme van die nuwe goedgekeurde strategie en struktuur gaan daar nie meer ‘n Kampusrektor oor wees as die sentralisasie afgehandel is nie. So, ek deel u sentiment, steun u standpunt, en glo dat Afrikaans en toegang vir Afrikaanse jongmense nog vir sowat 5 jaar veilig gaan wees. Maar ons sal aan ‘n Plan B moet begin werk.

Apie ·

Daar is maar net een geliefde taal, AFRIKAANS!!! Dankie prof dat jy opstaan vir ons taal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.