Geografie, tegnologie nodig vir selfbeskikking

Dr. Corné Mulder

Minderhede, spesifiek die Afrikaner, sal nie op die lang termyn in Afrika oorleef sonder ʼn eie grondgebied en selfbeskikking nie.

Dit is die kern van die VF Plus se laaste van vier konferensiesessies oor selfbeskikking, wat Maandag aangebied is. Volgens dr. Corné Mulder, parlementslid en hoofsweep van die VF Plus, is selfbeskikking ʼn noodsaaklikheid waarna gestreef en waarvoor gewerk moet word.

“Ons sit met ʼn vyandige staat en ʼn grondwet wat nie ons regte beskerm nie. Namate die staat inplof besef mense ons moet na selfbeskikking strewe en daarvoor werk. Sonder ʼn eie grondgebied is ons baie kwesbaar en hoop ons op ʼn daaglikse basis maar vir die beste,” sê hy.

Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, meen dat daar drie belangrike strategiese stappe is om selfbeskikking te bereik.

“Eerstens het jy ʼn geloofwaardige idee nodig, wat op ʼn morele grondslag geskoei is. Om jouself te wil isoleer of om rassistiese redes selfbeskikking na te jaag, is die verkeerde grondslag. Tweedens het jy ʼn plan nodig waarvolgens jy werk.

“Orania se plan is gekonsentreerde vestiging waarbinne ʼn ekonomie geskep kan word, veiligheid verseker kan word en waar ons de facto politieke mag het. Derdens moet jy daardie plan uitvoer. Dis ʼn groot uitdaging, maar jy moet jou plan in werklikheid omskep en betrokke raak by projekte van geografiese selfbeskikking.”

Die Noord-Kaap is geïdentifiseer as ʼn moontlike area waar geografiese selfbeskikking sou kon realiseer. Kenmerke van dié provinsie is sy uitgestrektheid, met genoeg plek om almal te akkommodeer.

“Ons moet anders begin dink oor watter geografiese gebied ons nodig het – reuseruimtes is nie nodig nie. Konsentrasiepolitiek beteken nie jy moet oral gekonsentreer wees nie, maar jy moet êrens wees, maak nie saak hoe klein die area is nie,” sê Mulder.

Energie en tegnologie bied oplossings

Danie Coetzee.

Energieopwekking is noodsaaklik wat selfstandigheid betref, voeg Mulder by, want die staat het reeds bewys dat hy dit nie goed bestuur nie. “ʼn Mens het energie nodig om die ekonomie te bou en selfbeskikking te realiseer. As jy selfstandig is, kan jy ʼn werklikheid skep wat daarna erken kan word. Dít is die rigting waarin ons wil beweeg.”

Vir talle mense is dit ondenkbaar om in ʼn semiwoestyn soos die Karoo te gaan bly. Danie Coetzee, VF Plus-lid van die wetgewer in die Noord-Kaap en kundige op die gebied van alternatiewe energieopwekking, meen dat tegnologie die antwoord is op talle van die vrae en uitdagings wat ʼn provinsie soos die Noord-Kaap inhou.

“Met tegnologie kan ʼn mens ʼn ekonomie skep. Jy kan byvoorbeeld seewater ontsout, kos goedkoper produseer en krag opwek. ʼn Mens kan teoretiseer dat jy jou op enige plek kan vestig as jy ʼn tegnologiese voorsprong het. Dis onrealisties om die hele land te wil beset, maar as daar ruimte is waar niemand anders hulle wil vestig nie en jy kan tegnologie daar inspan, kan jy ʼn sukses daarvan maak,” glo hy.

Sonkragopwekking is ʼn groot voordeel wat die sonnige Noord-Kaap inhou. Eskom het tans die vermoë om 40 000 megawatt op te wek. Coetzee verduidelik dat, as jy ʼn gebied van 40 000 hektaar onder sonpanele sit en van dié krag vir die aand berg, jy Eskom se kragvoorsiening kan vervang.

“ʼn Mens kan energie berg en as ʼn klaargemaakte produk verkoop. Dit word al hoe meer van ʼn realistiese ekonomiese moontlikheid, met die pryse van batterye wat daal. Jy kan energie teen ʼn vaste tarief beskikbaar stel, want die prys van sonlig styg nie met tyd nie. 40 000 hektaar is tien plase in die Kalahari, jy het nie ʼn groot stuk grond nodig om ʼn ekonomie daarmee te vestig nie.”

Wat die finansieringsmodel vir onafhanklike energieopwekking betref, glo Coetzee dat daar ʼn natuurlike verloop sal wees.

“As ʼn mens ʼn plek stig waarin mense kan belê met krag wat verseker is en goedkoper is as in die res van die land, het jy ʼn baie kragtige model vir potensiële beleggers. Wanneer ʼn belegger van ʼn goeie opbrengs verseker is, is daar altyd geld beskikbaar. Al wat nodig is, is om ʼn sakemodel te skep wat dit moontlik maak om fabrieke op te rig, materiaal soos staal te vervaardig, voertuie te maak en eindelik toegevoegde waarde bied.”

Kollektiewe vermoë en verantwoordelikheid

Frans de Klerk.

De Klerk wys op die korporatiewe vermoë van ʼn groep soos die Afrikaners, wat in die 20ste eeu uit sak en as opgestaan het omdat hulle dinge saam gedoen en kollektief opgetree het, soos om korporatiewe instansies te stig. “Van 1994 af het ons gedink dat ons nie meer kollektiewe vermoë nodig het nie. Nou dat ons onder druk is, besef ons weer dat dit nodig is. Korporatiewe vermoë is die antwoord, en konsentrasie lei tot kollektiewe vermoë.”

Mulder wys uit dat die ANC in die vorige bedeling ook gestry het vir iets wat hulle wou hê en wat die destydse regering nie vir hulle wou gee nie.

“Hulle het aanhou stry en iets tot stand gebring wat die Grondwet vandag erken. Dis wat ons ook nou moet doen. Ons sal moet onderhandel met die regering en met mense, ons sal prakties moet doen en bou, ons sal moet stem in verkiesings, moet mobiliseer, in referendums moet stem, ons sal dalk selfs by burgerlike ongehoorsaamheid uitkom, maar intussen aanhou bou – deur al stappe sal ons by ʼn antwoord uitkom.”

Dr. Pieter Groenewald, nasionale leier van die VF Plus, sê mense vra hom dikwels of daar nog ʼn toekoms in Suid-Afrika is. “My antwoord is ja, daar is nog hoop. Maar elkeen van ons het ʼn verantwoordelikheid en plig om ʼn toekoms vir ons kinders te skep.

“Die oplossing vir die toekoms is selfbeskikking, maar elkeen moet daartoe bydra op die terrein waarin hy of sy beweeg. Op die politieke terrein sal die VF Plus ons stem bly dik maak, solank as wat ons ondersteuners ons hande sterk maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ossewa ·

Meer as een industrie sal hulle vestig binne so ‘n staat. Israel was ook ‘n “woestyn”, maar nie meer nie.

MrMagic ·

Plaas druk op die VN om gehoor te gee aan die sake in die verband wat reeds voorgelê is.

Manie ·

Ons hoef nie 40 000ha onder sonpanele te sit nie. Daar is Small Modular Reactor (SMR) pebble tegnologie in Suid Afrika beskikbaar wat op ‘n rugbyveld pas. Elke Nuclear Power Plant (NPP) gee gewaarborgde 100MWe Base load 24/7 vir 40 jaar. Daar is dan genoeg boergrond en energie om te kan werkskaf soos ons kan.

Andrew ·

Uiteindelik VF+, lank gevat om tot hier te kom maar nou het julle my steun.

Alida Maria ·

Ek stem saam dat selfbeskikking die enigste antwoord is om konflik tussen volke en rasse uit te skakel. Waarom maak ek so ń stelling?
Want selfs nie God het die 12 stamme van Israel toe hulle besit van die beloofde land geneem het deurmekaar laat bly nie. Hy het deur loting vir elke stam sy eie grondgebied gegee. Maar ons moderne mens verwag dat so ń saamblyery vredevol moet wees. Dit kan nie.

Jakes ·

Daar sal meer as n mijoen mense met graagte selfbeskikking aanvaar en n reuse sukses daarvan maak want onws kan hard werk om n nasie te bou.

J ·

‘Konsentreer of emigreer!’ … was Flip Buys se advies aan Afrikaners.

Konsentreer op strategiese plekke soos byvoorbeeld in die Noord Kaap (makro) … maar ook regoor die land in stedelike en plattelandse areas (mikro).

Makro konsentrering EN mikro konsentrering!

Konsentreer rondom Afrikaanse skole, -kerke en -besighede (o.a. plase). Koop die eiendomme, vestig Afrikaanse gesinne daar en beveilig elke mikro en makro area.

Raak SELFVOORSIENEND t.o.v. noodsaaklike lewensmiddele soos WATER, elektrisiteit en brandstof.

Dryf onderling handel met mekaar!

Kanjynoumeer ·

Praat met n eiendomsagent in Orania.
Kry meer inligting oor beskikbare landbou grond in die omgewing.
Is daar nie nog landbou grond langs die Oranjerivier wat gekoop kan word om Afrikaners te kan vestig nie.
Israel is n sukses uit n woestyn. Ek glo hulle sal tog alles in hulle vermoë doen om ons te help.
Daar is soveel potensiaal opgesluit onder ons Afrikaners, dit is net die sleutels wat kort om dit oop te sluit.
Ek was al n paar keer in Orania en is elke keer aangenaam verras met hul uitbreiding.

Kanjynoumeer ·

Hoe voel die DA oor selfbeskikking?
Hulle is tjoepstil!

Frans ·

In teorie is dit haalbaar,maar prakties is daar ‘n probleem.Stort die res van Suid Afrika ineen gaan jy nie miljoene mense weghou uit gebiede waar dit voorspoedig gaan.’n Sprekende voorbeeld is Europa en die VSA.Van die ongeveer 43,7 miljoen immigrante in die VSA in 2016 was 20.2 miljoen ongeveer 44.7% genaturaliseerde immigrante.
Pres Trump se planne om dit met ‘n muur om te keer het tesame met ander faktore tot sy ondergang gelei.Dit is verstaanbaar dat immigrante nie sommer gaan stem vir iemand wat die deur op hul familie en oud landgenote permanent sluit nie.Daarvoor het die Demokrate gesorg.
Veronderstel dat ANC swig onder druk en stem in tot ‘n onafhanklike tuisland.Die vraag is dan hoe gaan jy toestroming beheer? Gebruik jy geweld,bou ‘n muur en hoeveel mense het jy nodig om grensbeheer afhangende die grote van die gebied ,toe te pas,
Die NP onder druk van die Nasionale pers en buiteland het ‘n gulde geleentheid verbrou toe hul nog inbeheer was,Vandag ly ons agv dit.

FM ·

Daar mag nie vergeet word van ander noodsaaklike kommoditeite soos water nie. Die belangrikste wat vir so staat se suksesvolle bedryf en volhoubare bestaan nodig is en waarvan daar in daardie gebied tans ‘n skaarste is. Die hele plan moet baie deeglik deur kundiges gedoen word sodat dit nie op ‘n ander ramp uitloop nie.

NOOD LEER BID

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.