George-brande: Sterk winde vir vandag voorspel

‘n Foto wat Maandag 29 Oktober by die Outeniekwapas geneem is. Foto: Verskaf.

Die verwoestende brande in die George‑omgewing woed voort.

James-Brent Styan, woordvoerder vir Anton Bredell, minister van plaaslike regering, het Maandagaand gesê vier vliegtuie kon daarin slaag om met die bestryding van die George-brande te help.

“Die wind het bietjie gaan lê, maar nou word dit donker,” het hy Maandagaand bevestig. Laat Maandagmiddag is 204 inwoners uit Blanco, Golden Valley, Riverlea en Stepaside ontruim.

Intussen het die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD), volgens ʼn verklaring van die Tuinroete-munisipaliteit, om 04:00 Dinsdagoggend ’n waarskuwing uitgereik vir sterk winde (50-65 km/h) wat na verwagting vandag oor die tuinroete in die Mosselbaai‑, George‑, Knysna‑ en Pletterbergbaai-omgewing sal waai.

Die Outeniekwapas is ook steeds gesluit volgens Kenny Africa, Kaapse verkeershoof, weens “hewige brande”. “Ons versoek motoriste om asseblief van alternatiewe roetes gebruik te maak,” het Africa gesê.

Luidens die Oudtshoorn‑munisipaliteit is die Montagu‑pas ook gesluit sowel as die Robinson‑pas as gevolg van ʼn boom wat by Ruitersbos oor die pad geval het.

Sewe persone is dood in Farleigh naby die Karatara-omgewing by Knysna. Onder die oorledenes is ’n swanger vrou en kleuters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Daan ·

My skoonsuster en swaer in ‘n rolstoel is gepak. Wag vir die ontruim teken. Dit vat aan ‘n mens as jy wil help maar 1000 km ver is.

Ander Annie ·

Kan ons saam staan in gebed om vir onse Hemelse Vader te vra om reën te stuur oor hierdie gebied? Soveel hartseer en verwoesting. Innige simpatie aan die families wat geliefdes verloor het. Ons bid ook vir die brawe brandweer personeel vir beskerming.

Christine ·

Dis waar Daan ek hoop net jou familie sal veilig daar uitkom. Al wat ons nou kan doen is net om te smeek dat die Here almal genadig sal wees en verligting bring met swaar neerslae.
Ons as mens kan net soveel doen maar GOD beskik.

Elanie ·

Weet iemand of dit nogsteeds reen in George! Mense ons moet bid vir reen asseblief!
STERKTE aan almal wat help met die brand!!!

Hester ·

Vanaf Wildernis – nog geen reën. Erge wind. Darem twee helicopters gewaar doenig met watersakke.

Elanie ·

Weet iemand of dit nogsteeds reen in George!
STERKTE vir almal wat help met die brand!

Hanno Pool ·

Ons Vader stuur nog reën oor die brandende gebiede maak U hemel sluise oop asb in Jesus Naam Amen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.