George-brande: Verdere ontruimings; pas steeds gesluit

Foto verskaf deur Kenny Africa, verkeershoof in die Wes-Kaap

Verdere ontruimings vind plaas in George en omgewing in die Wes-Kaap en die Outeniekwapas is steeds vir verkeer gesluit.

Die munisipaliteite van George en die Tuinroete het Maandagmiddag in ʼn gesamentlike verklaring gesê inwoners op die grens van die dorp en woud word versoek om vrywillig hul huise te ontruim weens die gevare van rookinaseming. Die brand woed steeds op die berghange.

Inwoners in die informele nedersettings van Blanco, Golden Valley en Step Aside en Barrieweg in Glenbarrie, Heatherlands en Glenbarrie se volle residensiële gebied word ontruim. Daar is ook ʼn struktuurbrand in Fernridge.

Kenny Africa, hoof van die verkeersdepartement in die Wes-Kaap, het bevestig die Outeniekwapas bly gesluit tot verdere kennisgewing.

James-Brent Styan, woordvoerder van Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR van plaaslike regering, het Maandagmiddag op Twitter bevestig die kwik is nog bo 40°C in George. “Daar is tans meer as 400 brandbestryders op die toneel. Die uitdaging bly wind, rook en sigbaarheid.”

Die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) het intussen gesê hulle benodig honde- en katkos vir diere wat uit gebiede kom wat deur die brand geraak word. “Ons het ook roomysbakke (of soortgelyke houers) nodig om as tydelike kosbakke te gebruik.”

Die DBV het ook draagbare hokke nodig vir diere wat ontruim moet word. “Persone kan hul naam en telefoonnommer op ʼn kaartjie aan die hok vasmaak en ons sal seker maak dit word weer terugbesorg.”

Skenkings kan by die DBV in Ossie Urbanweg, Tamsui-nywerheidsgebied in George afgelaai word. “As die hek na-ure gesluit is, kan persone net op hul toeter druk en iemand sal hulle by die hek ontmoet.” Die kantoor is Dinsdagoggend om 09:00 weer oop.

Die DBV het kat-eienaars aangeraai om ʼn kussingsloop te gebruik om ʼn kat meer te vervoer indien eienaars moet ontruim en hulle nie ʼn draagbare hokkie het nie.

Die Conville Clinic is 24 uur beskikbaar vir geringe beserings en die munisipaliteit het versoek dat dié fasiliteit, eerder as George-hospitaal, besoek word, indien moontlik.

Lees alle vorige berigte oor die Outeniekwapas op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

C ·

My hart en gebede gaan uit na ieder en elk van julle wat daar woon, en baie dankie vir almal wat help en hulp aanbied mag julle almal veilig wees, dier en mens. My hart huil vir julle.

Alida ·

Ai foeitog die arme mense en diere dit is n ramp. Ons vat hande en bid vir julle en dankie aan AL die vrywilligers wat help. Die Here seen julle.

Alida ·

Kan die trokke wat gehelp met die Knysna brande nie weer skenkings aanry nie. Groot asb mense kom ons help die mense en diere.

Elanie ·

Weet iemand of dit nogsteeds reen in George!!! Ons harte gaan uit na die mense wat daar woon. STERKTE aan almal wat help met die brand!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.