George: Nog liggame uit bourommel gehaal

(Foto: George-munisipaliteit)

Daar word steeds liggame uit die puin van ʼn ineengestorte woonstelblok op George gehaal.

Altesame 32 slagoffers is reeds dood verklaar nadat ʼn gebou in aanbou net meer as ʼn week gelede in Victoriastraat ineengestort het. Die dodetal het gister in ʼn stadium nog op 24 gestaan, maar het vinnig gestyg namate meer slagoffers gevind is.

Reddingswerkers is nou al meer as 184 uur op die toneel om te soek na enige moontlike oorlewendes. Daar word in dié stadium nog na 20 mense in die bourommel gesoek.

Die Wes-Kaapse regering is intussen aktief besig met planne om patologiedienste in samewerking met die polisie te versnel om slagoffers vinniger uit te ken.

Ses slagoffers is tot dusver amptelik geïdentifiseer.

Vingerafdrukke, DNS-monsters en foto’s van unieke merke soos tatoeëermerke is van die metodes wat gebruik word om die slagoffers mee te identifiseer.

Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het Dinsdag gesê hulle sukkel nog om slagoffers se presiese name te bevestig.

“Ons rig ʼn dringende versoek aan families wat kontak met hul geliefdes verloor het om by die George-burgersentrum in Yorkstraat aan te meld.

“Dit sal die departement van sosiale ontwikkeling in staat stel om gedetailleerde en presiese inligting in te samel en te verseker dat alle rekords akkuraat bygehou word.”

Ondanks dié uitdagings sê die munisipaliteit dat ʼn streng verifiëringsproses geld.

Daar is tans ook steeds ʼn tekort aan professionele beraders wat Chewa, Portugees en Shona kan praat. Die beraders is nodig om oorlewendes en slagoffers se families by te staan.

Amptenare van die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsvereniging (Salga) sal vandag die toneel besoek. Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, word Donderdag op George verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Toergids ·

Dis so hartseer, hierdie was almal mense wat op ‘n eerlike opregte manier, probeer het om kos op die tafel te sit vir hul gesinne en families.

Bolandse Nooi ·

Wat vir ‘n taal is “Chewa” – in watter land word dié gepraat?

Jaco ·

As jy vir die bouers sê kry bouplanne behoorlik goedgekeur en moenie kortpaaie vat nie, reageer hulle met “jy is rassisties” en ander lelike goed. As jy die nogal DA-beheerde munisipaliteite van George en Kaapstad se bou-inspekteurs wys op bouery sonder goedgekeurde planne, word NIKS daaraan gedoen nie. Ek praat uit ondervinding. Maar nouja, so lyk die DA se “skoon regering” en “the DA delivers”.

Jaco ·

Chewa word in Malawi gepraat. Waarom praat die werkers al die vreemde tale? Wat van Zulu, Xhosa, Tswana? Waarom nie eers vir ons eie mense werk gee nie? Werkloosheid staan dan op meer as 7 miljoen. En nog iets, was al die buitelandse werkers op dié bouperseel wettig in SA?

Felix ·

Daar is geregistreerde verpleegkundiges in SA wat wat die 3 tale kan praat.Maak van hulle gebruik om as tolke vir die beraders op te tree.Adverteer dit net.

Wildemien ·

Jaco, want hulle STAAK en BREEK en BRAND as hulle nie hulle sin in alle opsigte kry nie.

Wildemien ·

Hierdie is ‘n baie tragiese ramp. Sterkte aan almal betrokke.

Di ·

As hulle van al die immigrante ontslae raak in die land, sal daar BAIE meer werk vir ons eie mense wees. Hulle word gebruik oor dit goedkoop arbeid is. Dink ook dis die rede hoekom hulle so sukkel om die oorledenes te identifiseer, hulle is nie van SA nie.

Lollapop ·

Ai Jaco jou opinie is ongevraag, in hierdie hartseertyd moet jy jou mond maar erens ander gaan uitspoel, die die regte tyd en plek vir jou Anti-DA nie.

Goldy ·

Mense wat houe na DA slaan kan moontlik betrokke wees, enige manier om opposisiepartye se beeld voor verkiesing te skaad kan nie uitgesluit word nie en sal moet ondersoek word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.