George-tiener glo helder oordag ontvoer, dae lank aangehou en verkrag

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 19-jarige meisie van George in die Wes-Kaap is onlangs glo helder oordag ontvoer nadat sy haar bewussyn verloor het terwyl sy inkopies gedoen het.

Kapt. Bernadine Steyn het Woensdag aan Maroela Media bevestig die meisie is glo op 21 Mei in die besige Hiberniastraat in die dorp se sakegebied ontvoer. “Sy het na bewering uit ʼn winkel gestap en ewe skielik haar bewussyn verloor. Toe sy later wakker word, was sy vasgebind in ʼn huis,” het Steyn gesê.

Die meisie is glo vir vier dae lank gyselaar gehou deur ʼn man in ʼn grys pak klere en ʼn vrou wat glo ook “ordentlik geklee” was. Die man het haar glo ook verkrag.

“Die vrou het die slagoffer uiteindelik langs die N2-snelweg tussen Sedgefield en George afgelaai en weggery,” het Steyn verduidelik.

Steyn het gesê die slagoffer kan nie haar ontvoerders uitken nie. Die polisie kan ook nie spekuleer hoe sy haar bewussyn verloor het nie. Die moontlikheid bestaan dat sy vooraf bedwelm is.

“Die George-polisie benodig die publiek se hulp om op die uitkyk te wees vir ʼn swart voertuig met die woord ‘Diva’ op die voertuig se agterruit,” het Steyn gesê.

Enigiemand wat ʼn voertuig gewaar wat by die beskrywing pas, word versoek om konstabel Ann Janse by 044 803 4618 te skakel.

Die polisie ondersoek ‘n saak van ontvoering en verkragting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.