George-tragedie: Reddingspogings duur voort

Foto: Herman Pieters, Tuinroete-munisipaliteit

Reddingsoperasies duur vir die vyfde dag voort op die toneel waar ʼn gebou in Victoriastraat in George ineengestort het.

Volgens ʼn verklaring deur die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en George-munisipaliteit is nog ʼn liggaam Saterdagoggend om 02:36 uit die bourommel gehaal. Dit is benewens die 12 liggame wat reeds uit die puin gehaal is en bring die dodetal op 13 te staan.

Teen Saterdagoggend om 09:00 was reddingsbeamptes reeds 115 uur op die perseel.

“ʼn Sistemiese redding- en herwinningsbenadering word gevolg. Rommel word sorgvuldig verwyder om moontlik oop ruimtes te bepaal waar individue moontlik vasgekeer is.”

Daar was 81 mense op die perseel toe die gebou Maandag ineengestort het en daar word nog na 40 mense in die puin gesoek. Dertien persone wat uit die gebourommel gered is, is steeds in die hospitaal.

“ʼn Streng dubbelverifikasieprotokol geld om redding- en herwinningsgetalle aan te meld. Daar word nou saamgewerk met herwinningspanne, hospitale en forensiese dienste.”

In ʼn poging om oorlewendes en families by te staan, het die munisipaliteit ʼn versoek gerig aan professionele psigomaatskaplike praktisyns wat Chichewa, Portugees of Shonatale kan praat. Praktisyns kan kontak maak met Kholiswa Jobela by 078 210 5972 of Apolus Swart by 061 504 4205.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronél ·

Dankie is nie genoeg vir die hele soan se toewyding en volharding tydens die tragedie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.