George-visserman vermis ná golf hom van rotse afslaan

Argieffoto: NSRI

Argieffoto: NSRI

Die soektog na ʼn 37-jarige hengelaar van George in die Wes-Kaap wat Maandagaand deur ʼn golf van die rotse by Voëlklip in Heroldsbaai afgeslaan is terwyl hy saam met vriende visgevang het, het Dinsdagoggend hervat.

Torsten Henschell, adjunkstasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Wildernis, het gesê die man het saam met vriende van die rotse af gehengel toe hy omstreeks 19:18 deur ʼn golf getref en in die see meegesleur is.

“Die man is glo ʼn sterk swemmer en sy vriende het hom aangeraai om weg van die skerp rotse af te swem sodat hy nie deur die rotse beseer word nie. Hulle het vir hom gesê om om die rotse na die strand te swem en het weens swak lig sig van hom verloor,” het Henschell gesê.

Die NSRI en verskeie reddingsdienste is ontbied en ʼn soektog is in die water van stapel gestuur deur gebruik te maak van fakkelbomme en soekligte om lig te verskaf. Die gemeenskap het ook ingespring om hulp te verleen deur die kuslyn met hul private voertuie se kopligte te verlig om die strand beter te patrolleer.

Ná ʼn uitgebreide see- en kuslynsoektog was daar geen teken van die man gevind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.