GEPF sê oor Steinhoff-kwessie

Argieffoto

Die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) het sy lede, pensioentrekkers en begunstigdes gerusgestel dat hul pensioene veilig is ondanks bewerings van rekeningkundige onreëlmatighede by Steinhoff International Holdings in sy onlangse finansiële state.

Die GEPF het in ʼn verklaring gesê soos op 31 Maart 2017 het die GEPF deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) Steinhoff International-aandele ter waarde van ongeveer R28 miljard besit wat ongeveer 10% van die maatskappy se aandele is, maar slegs 1% van die totale bates van die fonds. “Die invloed van die aansienlike verandering in die aandeelprys op die GEPF is beduidend, maar hanteerbaar,” lui die verklaring.

“As ʼn vastevoordeelfonds beïnvloed die beweging in die waarde van individuele beleggings nie die voordele vir lede en pensioentrekkers nie. Daarom is lede en pensioentrekkers se voordele veilig.”

Die GEPF het gesê hy verwag die hoogste standaarde wanneer dit by die korporatiewe bestuur van alle beleggingsmaatskappy kom en daarom is die bewerings rakende Steinhoff ʼn ernstige bron van kommer.

Maroela Media het vroeër berig Markus Jooste, Steinhoff se uitvoerende hoof, het verlede week inderhaas bedank nadat die maatskappy gevra het dat ʼn ondersoek gedoen word na beweerde rekeningkundige onreëlmatighede en moontlike bedrog.

Die maatskappy, wat onlangs ʼn presteerder op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) geword het namate dit verskeie Europese kleinhandelaars verbygesteek het, is die onderwerp van ʼn ondersoek na rekeningkundige onreëlmatighede in Duitsland. Jooste was byna 20 jaar lank aan die stuur van die uitbreiding van Steinhoff as een van die wêreld se grootste kleinhandelaars van huishoudelike goedere.

Die GEPF het gesê hy monitor tans die situasie en wag op meer inligting wat deur die onderskeie ondersoeke aan die lig gebring sal word voordat hy op gepaste stappe sal besluit.

Steinhoff het intussen gesê hy het Moelis & Company en AlixPartners onderskeidelik as onafhanklike finansiële adviseur en operasionele adviseur aangestel. Die beleërde maatskappy het ook aangekondig dat hy sy jaarlikse gelduitlenersvergadering in Londen tot 19 Desember sal uitstel, ʼn week later as oorspronklik beplan.

Steinhoff het gesê hy fokus nou daarop om operasionele likiditeit te behou en voort te gaan met die finansiering van bestaansbedrywighede regdeur sy filiale. “Die groep vra en benodig voortgesette ondersteuning met betrekking tot bestaande fasiliteite van al sy gelduitleners (kredietverskaffers) om onmiddellike stabilisering van die groep se finansiering te bereik,” het die maatskappy gesê.

Steinhoff, wat sy oorsprong in Duitsland het maar in Suid-Afrika gebaseer is, is ʼn globale meubel- en huishoudelikegoedere-handelaar met meer as 40 handelsmerke in meer as 30 lande. Die maatskappy het 130 000 mense in diens van sy onderliggende bedrywighede bestaande uit sowat 12 000 kleinhandelafsetpunte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ander Annie ·

Ek neem dit met ‘n knippie sout. Die een lieg nes die ander een. Wys vir ons die bankstate dat pensioenfondse veilig is.

Lynne ·

Stem 100% saam met jou! Dis ‘n niks~segende briefie wat maar net probeer sê: Moenie stress nie, alles is oukei!

FM ·

Ek stem saam met die mense se kommentaar. Daar word so gelieg en bedrieg. Nou word ons pensioenarisse kamtig gerus gestel EN as ons weer ons oë uitvee is van ons pensioengeld weg: of om gratis tersiêre opleiding, kernkragsentrale, Eskom, SAA of om zuma se hofkoste te finansier. Dan word ons weer gerus gestel ens ens. Almal leer by zuma om te lieg, lieg en te lieg. Wys vir ons die syfers op papier. Nou sal julle ook sien watter karige verhoging sal ons pensionarisse kry. En daarvoor sal daar ook weer n nuwe ekskuus wees, alles behalwe die waarheid. Ons het op skool geleer van n idioom:” vra vir juk, want juk lieg nes uk”. Alle leuens word mos toegesmeer. GELUKKIG is die wiel besig om te draai, stadig maar seker. Die wat voor moet vat, is die grootste leunaars. n Vis vrot van sy kop af.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.