Gepoogde rooftog eindig in massamoord

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Sewe mense is dood en nog vier beseer nadat ʼn gepoogde rooftog in Ennerdale, Gauteng, in ʼn massamoord ontaard het.

Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê die voorval het Saterdag kort voor 22:00 op die hoek van Beatrice- en Phillipstraat in Finetown plaasgevind.

“Volgens ooggetuies het sowat vier verdagtes probeer om straatverkopers, wat hoenderpote verkoop, te beroof,” sê sy.

“Die verkopers het egter die vermeende rowers se aanslae afgeweer deur klippe na die verdagtes en hul motors te gooi. Een van dié motors se agterruit is in die proses beskadig.”

Die verdagtes het in hul motors op die vlug geslaan, maar glo later die aand te voet na die verkopers teruggekeer. Dié keer was hulle met vuurwapens gewapen.

“Die verdagtes het glo in die rigting van die straatverkopers en bystanders begin skiet en altesame 11 mense is getref.”

Drie mans en ʼn vrou het op die toneel aan hul beserings beswyk, terwyl nog twee vroue dood in die hospitaal dood verklaar is.

Vyf ander mense, onder wie mans en vroue, is na die hospitaal geneem waar hulle vir skietwonde behandel is.

Die dodetal het egter teen Sondag tot sewe gestyg nadat een van die slagoffers wat by die hospitaal opgeneem is, ook aan sy beserings beswyk het.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale kommissaris in Gauteng, het intussen die maksimum hulpbronne ontplooi in ʼn poging om diegene vas te trek wat agter die aanval sit.

“Die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade, moord en roof volg alle leidrade op om die oortreders op te spoor en in hegtenis te neem,” sê Muridili.

Die polisie se ondersoek na die moord en gepoogde moord op die inwoners van Ennerdale duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

KB ·

Die aanslag is ook teen hul eie mense. Swart teen swart – net soos Siener voorspel het.

Nou wag ons op die reaksie…

piet ·

Onwettige vuurwapens is volop in die land en word maklik gebuit. Die misdadigers kan al oorlog maak met al die wapens wat in hulle besit is.

melaney ·

Die storie klink só erg, mens wil dit twee keer lees om seker te maak jy verstaan dit reg. Hoop die skuldiges word binnekort gevang en vervolg. Simpatie met die mense wat net ‘n bestaan wou maak op ‘n eerlike manier.

honeybee ·

Nou hoeveel geld kon die verkopers gehad het, seker nie veel nie. Wys jou maar hulle moor vir die lekkerte.

Pierre ·

Blykbaar het die gemeenskap al vele kere oor die 4 gekla en is wel bekend aan SAPS……dankie SAPS julle volgehoue niks doen het nog lewens ge-eis

Swerwer ·

Wel as daar nie geluister en opgetree gaan word deur Cele en sy kader daadwerklik uit die SAP en Regering te verwyder nie, gaan dit net erger word. Cele en sy kader moet net weet, hul dag gaan kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.