Geraasklagtes in Wes-Kaap verdriedubbel

Suid-Afrikaners maak planne om self tydens beurtkrag oor die weg te kom, maar Solidariteit sê langtermynoplossings wat volhoubaar is, moet nou ingestel word. (Foto: Maroela Media)

Die Stad Kaapstad se gesondheidsdepartement het oor ʼn tydperk van 12 maande byna 200 klagtes ontvang oor die geraas wat kragopwekkers veroorsaak.

Volgens Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, is 197 klagtes hieroor tussen Februarie verlede jaar en Februarie vanjaar by die stad ingedien.

“Dit is meer as drie keer die klagtes vergeleke met die 60 wat in die vorige 12 maande ontvang is.”

Die skerp styging in klagtes word regstreeks verbind met die volgehoue beurtkrag. Dit lei daartoe dat ál meer inwoners en ondernemings alternatiewe kragoplossings aanwend om die uitwerking van kragonderbrekings te versag.

“Die winter kom egter ál nader en geen aanduidings oor die einde van beurtkrag is in sig nie, daarom word inwoners aangeraai om bedag te wees op die riglyne rakende die gebruik van kragopwekkers,” sê Van der Ross.

“Kragopwekkers maak die lewe makliker, maar dit vereis wedersydse begrip en oorweging wanneer dit kom by die gebruik daarvan naby en in woongebiede.

“Inwoners moet seker maak dat die masjiene reg geïnstalleer word en reg werk. Kragopwekkers kan baie geraas maak wanneer dit gebruik word, asook ʼn bron van uitlaatgasse en onaangename reuke wees. Dit moet alles noukeurig oorweeg en bestuur word,” sê Van der Ross.

Wat kragopwekkermagtigingsprosesse betref, reguleer die departement van energie die proses van ingebedde laespanningopwekkingsinstallerings in die stad.

Volgens Van der Ross is daar ʼn aantal ander regulasies wat ook toegepas moet word, waaronder die Stad Kaapstad se verordening oor luggehaltebestuur, die verordening op gemeenskapsbrandveiligheid wat verband hou met brandstofbergingsvereistes en die Wes-Kaap se geraasbeheerregulasies.

Van der Ross sê inwoners moet die volgende regulasies in ag neem met die gebruik van kragopwekkers:

  • Wees bewus van die vereistes rakende die installeringsproses en brandstofberging.
  • Wees bedag op die besoedelingsfaktor, waaronder geraas en uitlatings wat menslike gesondheid en klimaatsverandering beïnvloed.
  • Begroot vir moontlike geraasvermindering, asook die uitskakeling van dampe en deurlopende instandhouding van die aanleg.

Meer inligting oor die installering van kragopwekkers en voldoening aan regulasies en vereistes is hier beskikbaar.

Die stad moedig ook die gebruik van alternatiewe energie-oplossings soos sonkrag, omsetters en batteryberging, vir diegene wat dit kan bekostig, aan.

Die stad vereis dat volledige inligting, soos kontakbesonderhede, die ligging van die geraasbron en enige ander relevante inligting met betrekking tot die klagte, ingesluit moet word wanneer ʼn geraasklagte ingedien word.

Amptenare sal die klagtes ondersoek en die nodige stappe doen om nakoming te verseker.

In die geval van voortgesette nienakoming sal verdere regstappe gedoen word.

Geraasklagtes kan by die geraaseenheid aangeteken word via e-pos by [email protected] of telefonies by die Stad Kaapstad se inbelsentrum by 0860 103 089.

Klagtes kan ook via die Stad se e-diensteportaal eservices1.capetown.gov.za/coct/wapl/zsreq_app/index.html  ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Blomkind ·

Kan jy dit glo…Dat n ander ou nie die Son oor n ander een wil laat skyn nie…Wat moet jy maak as daar nie krag is nie…Nie almal kan Solar bekostig wat niemand pla nie…Tipes Suid-Afrika…Elke ou vir homself….Dis hoekom dit so sleg gaann in die Land…

Chantal ·

Daar is mense wat mediese toerusting moet gebruik deur die nag ( slaap apnea, suurstof ens) wat verwag die klae kouse moet die arme mense doen? Ons is almal in die slegte situasie, staan liewers saam en stop die agressie uithaal op jou mede mens.

Anel ·

200 uit hoeveel miljoen, en dit oor 12 maande! Asseblief! En glo my dit is mense wat dit kan bekostig maar te suinig is. Want waar is die meeste kragopwekkers? Wat as dit mense is wat mediese toerusting moet gebruik? In hierdie land gun niemand iemand iets nie!!!!

Papsak ·

Nee kyk die ander een laat nie die son oor jou skyn nie suid afrikaners wit baie suinig en sien neer op hulle naastes almal kan nie sonpanele bekostig nie daarom gebruik hulle kragopwekkers maar ja die rykes baie ingat gee geld en ons kan almal ordentlik lewe as dit julle pla net soos hulle krag wil wil ons armes ook krag he hou op neersien op julle medemens

Gert ·

Ek het selfs die geval gehad waar my ma se buurman in Villieria n skottel water oor die muur bo op die kragopwekker gegooi het om dit te laat probeer uitsny. Hy het voor die geval glad nie een keer gekla nie en dit bloot uit die bloute gedoen. Omrede daar 2 diabete in my ma se huis is word sy genoodsaak om teminste een yskas aan die gang te hou vir die insulien en ander medikasie.

Stofdonkie ·

Die buurman wat kla kan maar vir my van sy elektrisiteit gee wat hy opwek met sy sonpanele…

Lillian ·

Mense moet konsidererend wees nie soos sommige wat laat nag generators laat hardloop en ander steur in hul slaap nie…. En ek praat van ondervinding…..

john ·

Mense loop kla liewers by Eskom solank die kragopwekker nie na 12 pm an is nie gun jou bure die krag

Keelvol ·

Ons het nou vir 16 ure sonder krag gesit. Die wat so kla oor die generators, waar is julle toe gewees? Waar was jullie toe n sekere persoon besluit het om vir die volgende 2 jaar permanent load shedding toe te pas? Nêrens…. Want toe klap julle vir hom hande en hemel hom op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.