Gerda en Irvette jaag Olimpiese marathon-droom

Gerda Steyn (Foto: Sibonelo Ngcobo/African News Agency/ANA)

Naguile kan vanaand om 23:00 naderskuif om Gerda Steyn en Irvette van Zyl se marathon-vordering by die Olimpiese Spele op TV dop te hou.

Dit is dan 06:00 in Japan en die atlete sal ongetwyfeld dankbaar oor die wegspringtyd wees: Dit beloof om nóg ’n warm dag te wees en die kwik kan tot 33 °C styg.

“Ek is gereed om my beste môre te gee; kom ons pak dit aan!” het ’n opgewonde Steyn op sosiale media gedeel.

Die 31-jarige langasem is waarskynlik Suid-Afrika se laaste hoop op ’n medalje – sy het immers vroeër Colleen de Reuck se nasionale rekord van 2:26:35 (wat sy 25 jaar gelede in Berlyn opgestel het) tot 2:25:28 in die Toskaanse marathon verbeter.

Irvette van Zyl. Foto: Facebook.

Die twee marathon-atlete het saam by die einste Italiaanse wedloop vir die Spele gekwalifiseer, terwyl Van Zyl later die 50 km-wêreldrekord in Port Elizabeth met haar tyd van 3:04:23 verbeter het.

“Om eerlik te wees; die prestasie is nog besig om in te sink. Maar vandag is ongetwyfeld ’n reusehoogtepunt in my hardloop-loopbaan, want verlede jaar – op 25 Mei – het ek ’n knieoperasie ondergaan en ek het gedink dat ek nooit daarvan sou terugbons nie,” het Van Zyl destyds ná haar spogvertoning gesê.

Die groot vraag was toe egter of sy die spoednaald nog verder in die rooi kan druk.

“Ek glo so,” was die onmiddellike antwoord.

Kom ons hoop Suid-Afrika se twee marathon-sterre het inderdaad later voete van goud. Hulle beskik ongetwyfeld oor die talent en die fiksheid.

Suid-Afrika is tans 42ste op die medaljepunteleer en nadat die 4×100 m-mansaflosspan gister die bal laat val het, lyk dit asof dit asof geen Suid-Afrikaanse man vanjaar op die podium sal staan nie; iets wat nog nie vantevore gebeur het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Esme ·

Sterke julle Raakvatters. Ons hou duimvas en ek weet, julle gaan julle allerbeste doen. Sommer alreeds trots op beide van julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.