Gereformeerde Kerke verbreek bande met NWU

Die NWU se fakulteit van teologie. (Foto: Facebook)

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) sal finaal sy bande met die Noordwes-Universiteit (NWU) verbreek wanneer die partye se bestaande ooreenkoms oor drie jaar tot ʼn einde kom.

Die skeiding kom ná die GKSA se besluit om nie ʼn nuwe ooreenkoms met die universiteit te onderteken nie. Die NWU was van voorneme om in ieder geval nie die vennootskap voort te sit, sou die GKSA nie die nuwe ooreenkoms aanvaar nie.

Die GKSA en die NWU is al lank in onderhandelinge gewikkel oor die formele verhouding tussen die partye wat betref die opleiding van predikante vir die GKSA en of gereformeerde professore by die NWU se personeel ingesluit moet word.

Die laaste strooi was skynbaar toe die NWU daarop aandring om beheer te neem van die teologiese leerplan, asook die aanstelling van personeel om die onderrig te fasiliteer.

Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, het by navraag aan Maroela Media gesê dat die onderhandelinge voortspruit uit die feit dat die laaste ooreenkoms tussen die partye, soos dit in 2006 gesluit is, “ʼn onhoudbare situasie geskep het ingevolge die voorskrifte van die Wet op Hoër Onderwys”.

“Ons het die GKSA sedert 2013 behoorlik ingelig dat die Raad op Hoër Onderwys (RHO) die NWU op voorwaardes geplaas het, om te verseker dat die diensvlakooreenkomste wat die NWU gesluit het, nie die voorskrifte van die Wet op Hoër Onderwys oortree nie,” sê hy.

“Die onderhandelingsproses het eers momentum gekry ná die ontvangs van ʼn brief van die RHO in Desember 2015, wat aangedui het dat die universiteit alleen verantwoordelikheid neem vir die instansie en die bestuur van sy onderrig- en leeraanbieding, asook die assesserings en die akademiese ondersteuning wat aan studente gelewer word – en dat nie een hiervan aan ʼn derde party uitgekontrakteer mag word nie.”

Hierdie skrywe het meegebring dat die NWU ʼn nuwe ooreenkoms wou daarstel. Die ooreenkoms sou insluit dat die leerplan vir teologiese opleiding aan die universiteit onderhewig is, asook die aanstelling van nuwe professore of dosente.

Die GKSA het in ʼn verklaring gesê ondanks die uitgebreide onderhandelinge kon daar nie ʼn ooreenkoms bereik word nie.

“Die voorwaardes wat gestel is, is na die oordeel van die Sinode nie in ooreenstemming met die skriftuurlike benadering tot teologiese opleiding wat die opleiding van die GKSA se predikante ten grondslag lê nie,” lui die verklaring.

Volgens Jacobs wag die universiteit nou op ʼn formele kennisgewing van die GKSA se besluit, waarna die pad vorentoe in die uitvoering van die 2006-ooreenkoms bepaal sal word.

“Hoewel die NWU die langdurige verhouding met die GKSA koester, is ons gebonde aan reëls en regulasies soos vervat in die Wet op Hoër Onderwys.”

Tot die afgelope naweek het geen eerstejaarstudente vir dié program, naamlik vir studente van die GKSA, vir 2023 ingeskryf nie.

“Die syfers vir studente wat vir hierdie program inskryf, het drasties afgeneem oor die afgelope paar jaar,” het Jacobs bygevoeg.

Die GKSA is egter nie ontmoedig nie en het aangekondig dat hy ʼn nuwe private hoër onderwysinstelling sal oprig en registreer. Studente sal in die toekoms by die Gereformeerde Teologiese Akademie geakkrediteerde teologiese opleiding ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Samuel ·

Dit sal ‘n totale ramp wees as die NWU kon besluit oor die leerplanne vir teologiese opleiding. Dit is goeie nuus dat die GKSA sy eie akademie gaan stig.

Republikein in die Wes Kaap ·

Pretoria, Stellenbosch en Free State se teologiese fakulteite het die pad lank terug byster geraak.

Hendrik ·

Volpunte vir die GKSA – so keer julle dat dwaalleër binnesypel.

Andrew ·

Steek kers op by Academia en Orania. Afrikaaners moet maar oor die Potch ding kom, jul mos gesien wat met Stellenbosch gebeur het, spaar jou kinders. Maar elk een kies vir homself.

Wakkerslaper ·

Dankie GKSA, dit lyk my julle is van die min denominasies wat streng by God se Woord hou en kan standpunt inneem.

ENFM ·

As dit nie vir die teologiese skool was nie, het die universiteit nooit ontstaan nie…
Jammer dat NWU agter RHO skuil, maar goeie nuus dat GKSA by beginsels bly!

Lillian ·

Beheer neem an die leerplan om wat te doen? Verder droog te maak. Dis maar beter dat GKSA onttrek.

annie ·

Maar hartseer dat die Afrikaanse Christelike kerke so skeur weens die Nuwe Orde se ontwrigtende nuwighede wat uit die Weste hierheen oorspoel. Die vrasg kan seker gevra word: Wie of wat sit agter die ontwrigting? Binnekort sal Bybelvertalers seker vervang word met bybelskeppers.

skurweberg ·

Die totale aanslag is aan die orde en geen mens met sy planne en al sal dit voorkom nie, want die oorlog is nie ons oorlog nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.