Geregtelike ondersoek kom na Life Esidimeni-tragedie

ʼn Formele en gesamentlike geregtelike ondersoek gaan gehou word oor die Life Esidimeni-tragedie wat die lewens van minstens 144 mense geëis het.

Adv. George Baloyi, waarnemende direkteur van openbare vervolging in Noord-Gauteng, het na deeglike oorweging besluit die geregtelike ondersoek sal voor ʼn regter in die hooggeregshof in Pretoria gehou word.

Die besluit volg na die arbitrasieverhoor na die Life Esidimeni-tragedie wat ingestel is na aanleiding van aanbevelings deur die gesondheidsombudsman. Dié verhoor, onder leiding van oudadjunkhoofregter Dikgang Moseneke, is in Maart verlede jaar afgehandel en het bevind dat regeringsamptenare strydig met wetgewing opgetree het toe hulle die Life Esidimeni-kontrak beëindig het en pasiënte na NRO’s verskuif het sonder om hul welstand en gesondheidstoestand in ag te neem.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het in April 2017 144 dossiere rakende die Life Esidimeni-tragedie ontvang en Baloyi het ʼn span van vier ervare advokate aangestel om saam met die ondersoek te werk om meer inligting te kry en ʼn sterk saak op te bou. Die 144 dossiere is in een dossier saamgevat.

“Dit het tydens die proses aan die lig gekom dat die getuienis tans tot ons beskikking, nie voldoende is om oorsaak van dood te bewys nie, en ook nie genoeg is om ons te help om die optrede van verskillende rolspelers aan die uiteindelike sterftes te koppel nie,” het Hurbetin Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, gesê.

“Dit is met hierdie bevindings en feite van die saak in die geheel dat die staat ’n beslissing moes neem of ’n prima facie-saak gemaak kon word wat vervolging kan regverdig. Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat die saak vir ’n geregtelike ondersoek verwys sal word.”

Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het gesê hulle is bekommerd dat die NVG sê hy het nie genoeg bewyse vir suksesvolle vervolging in die stadium nie. “Ons hoop egter dat die geregtelike ondersoek gronde aan die lig sal bring vir klagtes van moord en strafbare manslag teen beamptes van die gesondheidsdepartement en die NRO’s waar mense dood is.”

Klagtes van korrupsie, bedrog, diefstal, oortredings van die Wet op Geestesgesondheid en die uitreiking van onwettige lisensies aan NRO’s moet volgens Bloom ook oorweeg word. “Ons moet verantwoordbaarheid sien vir die volle omvang van oortredings in hierdie aaklige saak.”

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, het die aankondiging van ʼn geregtelike ondersoek verwelkom.

“Die VF Plus het twee weke gelede tydens ʼn sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, die komiteevoorsitter versoek om die kollig opnuut te laat skyn op die voorval en om dit terug te plaas op die agenda van die komitee.”

Die doel van die versoek was in die eerste plek om te verhinder dat ʼn soortgelyke voorval weer plaasvind, aldus Van Staden.

“Die VF Plus het ook sedert die voorval herhaaldelik gesê hy sal aanhou om aan te dring op geregtigheid sodat die persone wat vir die tragedie verantwoordelik was, verantwoording kan doen vir hul dade en die straf kry wat hulle toekom. Die VF Plus is bly dat geregtigheid nou gaan geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Pieter ·

Ag asb dit is ook waar dit gaan bly twee jaar na die tyd kyk julle anc regering is n verleentheid vir die land

Zoom Zoom ·

Net nog geldmors Soos die Zondo petalje. Lekker sepie vermaak en niemand word skuldig bevind so ook met die wapen sprokies verhaal en die Gupta’s sage.

Johann cb ·

Was hierdie tragedie nie tevore onsuksesvol ondersoek nie? Hoeveel kommissies van ondersoek moet nog vergoed word?

WMirabilis. ·

Lewenslange tronkstraf sonder parool vir almal wat betrokke was by dié slagting.

Stof ·

Hierdei gekarring aan die wandade van ‘n vorige bestuur, wat lankal vervang is, skep die wanindruk dat die huidige bestuur ook inkriminerenswaardig sou wees. Dit ontmoedig pasiente wat soveel kon baat by die besondere toegewyde diens wat nou die norm by Esidimeni, se families om hulle geliefde te plaas waar daar werklik net omgee en respek is vir elke diagnose. As terapeut wat betrokke is by van die pasiente kan ek getuig dat Esidimeni se toewyding bewonderenswaardig is in die skepping van ‘n leefatmosfeer, waar die sosiale disfunksies wat pasiente so maklik omkrap, uitgeskakel word in ‘n gekontroleerde omgewing. Ek vertrou dus dat hierdie advokate (wat almal in ons veld ervare en gekwalifiseer is???) ook self die huidige situasie in ag neem, en krediet vir die gestuurdes wat Esidimeni nou bedryf, sal toedig. Feitlik elke verpleegkundige daar het hulle blou balkie. Het die advokate?

wilma ·

Die skuldiges moes al lankal tronktu. Dit sal net by beloftes bly

Langoor ·

Nog n komitee – nog belastingbetalersgeld – weer geen vervolging. Die ou storie

Pieter ·

Dit is nou die anc broers se nuwe manier om ons belasting geld in hulle sakke te kry

Wielspore ·

Dit is ‘n tragedie, daar is 144 mense dood, hierdie mense was nie instaat om na hulle self om te sien. Die verantwoordelike mense sal moet pa staan vir hulle optrede.
Ons hoop dat toepaslike straf opgelê gaan word die moorde.

JohanR ·

Net in SA, en net onder die ANC regering. 144 mense dood, en niemand is in die tronk nie. Na die komitee sal nog niemand tronk toe gaan nie….ANC’s gaan moes nie tronk toe nie! Hulle word bevorder, of word ambasadeurs of diplomate.

Pieter ·

Klip in die bos: waar was daai mense se naasbestaandes ? Hulle moet ook verantwoordelik gehou word.
Ondersoek is nog ‘n wa wat aan die soustrein gehak word.

ekke ·

selfde ou storie, praat, praat, praat en niemand agter tralies.

Maggie ·

Ja Langoor. Hoekom sal enigeen omgee want ons belasting betaal elke keer wanneer iemand nie hul werk doen en daar word eise ingestel.

Jan ·

Die land van ons word regeer deur komissies. Did ‘n komissie vir dit en ‘n komissie vir dat.
Neem niemand meer ingeligte besluite nie.

Maljan ·

Ondersoek die families se aandeel ook. Julle wors steeds beloon nadat hulle hulle weerlose mense by n inrigting gaan aflaai het en van vergeet het. Straf hulle swaar. Moenie die blikslaers beloon nie.

Johanna Botha ·

En die vrou met die bril wat kamtig oorsee studeer en nog WEER na alles op die anc se raad kom …sy loop nog vrylik rond en daar gebeur no
Iks nie ….watse regsisteem is dit na so baie weerlose mense onder haar hand dood is !

Gert van Wierdapark ·

Die “vrot” het by die kop/topbestuur begin toe die besluit geneem is om die persone te verskuif! Hul doodsvonnisse is met die optrede “geteken”, en diegene verantwoordelik vir die dood van die pasiente, MOET SELF ook LY!!! Finish en Klaar!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.