Geregtelike ondersoek na vlammedood van gesin uitgestel

Argieffoto (pixabay.com)

Die geregtelike doodsondersoek na die dood van Suraya Deedat en haar vier kinders is vandag in die Johannesburgse landdroshof uitgestel tot 23 tot 25 November 2020.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, verteenwoordig die familie van Suraya en haar kinders en lei ook die getuienis.

Naeem, Suraya se man, is die enigste lid van die gesin wat die brand oorleef het waarin Suraya en haar kinders oorlede is.

Die uitstel volg nadat adv. P. Jorgensen (’n senior advokaat) wat deur Naeem Deedat aangestel is, aangevoer het dat hy nie vandag beskikbaar is nie. Dít ten spyte van die feit dat die datum van die geregtelike doodsondersoek reeds in Julie vanjaar deur die hof vasgestel en volgens die staatsaanklaer deur die advokaat self voorgestel is. Die privaat vervolgingseenheid het die datum ook op 4 November met Naeem se regspan bevestig.

Jorgensen het verder die verspilde uitgawes van die privaat vervolgingseenheid se deskundige om vandag in die hof te wees, vergoed. ’n Patoloog, branddeskundige, familielede van Suraya en Naeem, drie polisiebeamptes, asook Naeem self sal later vandeesmaand getuig.

“Dit is teleurstellend dat die saak weer eens uitgestel moet word, veral omdat hierdie familie reeds vir amper ’n dekade wag om te sien dat geregtigheid vir Suraya en haar kinders geskied – en dit bloot omdat die hofdatums Naeem se regspan verontrief,” het Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaat vervolgingseenheid, gesê. “Die feit dat die saak voortdurend uitgestel word as gevolg van Naeem se regspan wat nie gereed of beskikbaar is nie, belemmer die reg van Suraya se familie om te sien dat geregtigheid geskied. Die gerief van die advokaat kan nie voorrang geniet bo die regte van ander belanghebbendes nie.”

Maroela Media het vroeër berig Suraya en haar kinders het in Julie 2011 in hul huis in Booysens, Johannesburg, tydens die brand gesterf. Niemand is nog vir hul dood aanspreeklik gehou nie. Die formele geregtelike doodsondersoek gee belanghebbende partye die geleentheid om getuienis te toets en help die landdros om tot ’n bevinding te kom rakende wie en/of wat verantwoordelik was vir hul dood. Naeem het tydens die brand waarin sy hele gesin gesterf het, deur die badkamervenster ontsnap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

So die Advokaad kan besluit of hy beskikbaar is of nie? Wat ‘n klug het ons Regstelsel geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.