Geregtigheid na 15 jaar in ‘rolstoeltronk’

Andrew Merryweather is al 15 jaar aan ’n rolstoel gekluister. Sy dienshond, Oslo, gaan oral saam met hom. (Foto: Verskaf)

Hoewel Andrew Merryweather (39), ’n finansiële adviseur van Rondebosch in Kaapstad, ná 15 jaar steeds nie kan loop nie, vind hy vertroosting daarin dat geregtigheid eindelik geskied het.

Ná ’n regsgeding wat jare reeds voortduur, het die Wes-Kaapse hooggeregshof op 21 Junie bevind dat Merryweather op skadevergoeding van die man wat hom in 2006 teen ’n stilstaande motor vasgeduik het, geregtig is.

Merryweather eis R11 miljoen van Oliver Scholtz (32), ’n sportwetenskaplike in Kaapstad, maar die hof sal eers later oor die bedrag beslis.

Scholtz, destyds ’n 18-jarige leerder aan die private skool Reddam House, het Merryweather destyds tydens ’n konfrontasie by ’n vulstasie in Claremont teen ’n geparkeerde motor vasgeduik.

Andrew Merryweather saam met sy dienshond, Oslo, en vriendin, Alice Cumming. (Foto: Verskaf)

Merryweather se nek is tydens die voorval gebreek. Dit het hom van die bors af ondertoe verlam gelaat. Hy is sedertdien aan ’n rolstoel gekluister en dit het sy lewe onherroeplik verander.

Dit is nie in dié stadium duidelik of Scholtz teen die uitspraak gaan appelleer nie en sy regspan het nog nie op Maroela Media se navraag in dié verband gereageer nie.

Merryweather sê hy is bewus dat dit ’n moontlikheid is, aangesien Scholtz die proses al jare “probeer uitrek” en volgens hom steeds nie gereed is om aanspreeklikheid vir sy optrede te aanvaar nie.

Andrew Merryweather op die strand. (Foto: Verskaf)

“Hy voer steeds aan dat ek my balans verloor en omgeval het. Ek weet egter nie van iemand wat ’n parapleeg is omdat hulle omgeval het nie,” sê Merryweather.

Luidens die hofuitspraak beweer Scholtz dat hy Merryweather uit selfverdediging gestamp het, terwyl Merryweather daarby volstaan dat Scholtz hom doelbewus teen die voertuig vasgeduik het.

Die struweling het gevolg nadat ’n woordewisseling tussen Scholtz en sy vriendegroep van ses en Merryweather, sy broer Nicholas en hul vriend Progress Mphande ontstaan het.

Andrew geniet steeds die lewe ondanks die feit dat hy nie kan loop nie. (Foto: Verskaf)

Regter Yasmin Meer het egter in die hofuitspraak gesê dat Scholtz se selfverdedigingsverweer deurmekaar en onwaar is en het gevolglik in Merryweather se guns beslis.

Merryweather het aan Maroela Media gesê dat hy nie verwyte teen Scholtz koester óf in die verlede leef nie, maar dat geregtigheid moet geskied.

“Wanneer hy in die oggend opstaan, gaan sy lewe soos gewoonlik voort. Hy kan hand-aan-hand saam met sy lewensmaat op die strand gaan stap, Tafelberg uitklim en op spontane wegbreke gaan.

Andrew en sy vriendin, Alice Cumming. (Foto: Verskaf)

“Wanneer ek opstaan, is die eerste ding waarin ek vaskyk my rolstoel. Ek is steeds verlam en ʼn leeftyd van pyn en ongemak, hospitaalbesoeke en rehabilitasie staar my in die gesig. My rolstoeltronk is ’n daaglikse herinnering aan alles wat ek verloor het en die aktiwiteite waarvoor ek lief was en nie meer kan doen nie,” sê Merryweather.

Hy sê voorts dat hy ook daarvan gedroom het om eendag ’n pa met ’n gesin te wees, maar dat hy weens sy beserings dalk nooit sal kan kinders hê nie.

Merryweather sê egter dat hy ondanks hiervoor dankbaar is om te leef en dat sy geloof en die hoop om eendag weer te loop, hom elke dag bemoedig. Hy vier ook elke bietjie vordering.

“Ek kan al my regterarm en hand ten volle gebruik en het die gedeeltelike gebruik van my linkerarm en hand. Hoewel dokters volhou dat ek waarskynlik nooit weer sal loop nie, is ek vol hoop dat ek dit weer sal kan doen – hetsy deur die herstel van my eie liggaam of met behulp van tegnologie.”

Merryweather oefen drie maal per dag en het ook sy getroue dienshond en vriend, Oslo, ’n swart Labrador, om hom te help.

“Hy kan deure oop- en toemaak en dra selfs my inkopies en rekenaarsak. Hy gaan oral saam met my,” sê Merryweather.

Hy skerts ook dat Oslo ’n slag met die dames het en dat sy vriendin, Alice Cumming, saam met wie hy tans woon, waarskynlik meer versot op Oslo is as op hom.

Merryweather moes ook ná sy ongeluk van beroep verander en werk sedert 2014 by Autus Private Clients as ’n finansiële adviseur. Hy was voorheen ʼn restaurantbestuurder by Theatre on the Bay in Kampsbaai.

Hy sê dat die begrip en ondersteuning van sy huidige werkgewers en kollegas, sy regspan, Celeste Wolpe-Munitz van DSC Attorneys, advv. John Whitehead (SC) en Stefan Botha, en sy geliefdes hom motiveer en elke dag dra.

“‘Dankie’ sal nooit my dankbaarheid volkome kan oordra nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tiptol ·

Balans verloor en nek gebreek. Wat ‘n grap. Selfs al is dit selfverdediging, jy kan nie sommer iemand se nek breek nie. Dit moes met geweld gebeur.

Lindi ·

Nie altd geweld nie. My ma het geval en gaar nek gebreek. MAAR, sy was 79 en het met haar nek teen ‘n randsteen geval.

Hennie ·

Geregtigheid in SA is ‘n baie langdradige proses… Sterkte!

Phillip ·

Jip en ongelukkig praat geld koop mosalmal om om die reg tedraai . Soos oskar wonder of hy nog in die trok is hoor niks van hom meer nie . Ek hoop Andrew Merryweather kry sy 11miljoen dit kom hom toe

Hennie ·

So waar moet die verweerders nou miljoene kry vir ‘n onderonsie wat skeef geloop het? Op die ouderdom van die voorval het hy nie publieke aanspreeklik versekering gehad om hom te dek vir so iets nie. En, wst wil die riser met R11 000 000 doen? Natuurlik is dit uiters jammer dat so iets gebeur het, maar die onderonsie kon enige kant toe gegaan het, selfs die verweerders kon beseer gewees het, srlfs dood gegaan het.

My voorstel is dat hulle bymekaar uitkom, soos MANNE, en kyk hoe hulle die ongelukkige situasie kan bestuur! Sterkte aan beide partye!

SwartBees ·

Blykbaar het hulle die onderonsie soos MANNE bestuur en no is hy gebonde aan n stoel. VIR DIE RES VAN SY LEWE.

Filistyn ·

Tragedie. Hoop jy kry wat jou toekom, en dat jy volkome herstel. Mnr Scholtz – jy moet maar verantwoordelikheid neem vir jou dade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.