Geregtigheid ná eenjarige in bendes se kruisvuur sterf

Argieffoto (Foto: Hansie Linde)

Drie mans is Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof lewenslange tronkstraf opgelê in verband met ʼn eenjarige se afsterwe in Julie 2018.

Koeberg Anderson, Dilion Absolom en Ishmeal English is almal positief verbind met die voorval waartydens die seuntjie gesterf het.

Brendon Beakers en Vernil Simons is 20 jaar tronkstraf opgelê en Ebrahiem Moosa is 15 jaar tronkstraf opgelê in verband met dieselfde voorval.

Die mans het tereg gestaan op aanklag van moord, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Sers. Wesley Twigg, woordvoerder van die polisie, sê die Steenberg-polisie is op Sondag, 8 Julie 2018, na ʼn misdaadtoneel in Komlossystraat, Retreat, ontbied.

“Die eenjarige is doodgeskiet toe hy in die kruisvuur beland het van twee mededingende bendes wat op mekaar gevuur het. Die verdagtes het daarna van die toneel gevlug.”

Die saak is toegeken aan speurdersersant Hlaole Mmola van die teenbende-eenheid.

“Ná ʼn deeglike ondersoek het hy inligting bekom wat die verdagtes met die moord kon verbind. Sers. Mmola het nog leidrade en bewyse ingesamel en ʼn goedvoorbereide saak aan die hof voorgehou.”

Die beskuldigdes, wat met die kind se moord verbind word, is tydens die ondersoek in 2018 deur polisiebeamptes aangekeer toe hulle met ongelisensieerde vuurwapens betrap is. “Dit het ʼn sterker saak teen die beskuldigdes verseker. Gebaseer op die bewyse wat aan die hof voorgelê is, is die beskuldigdes skuldig bevind op aanklag van moord, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.”

Die Wes-Kaapse polisiebestuur verwelkom die vonnisse en sê dit is danksy harde werk en toewyding. Hulle het ook die ondersoekbeampte en staatsaanklaerspan bedank dat hulle dié vonnisse verseker het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nicky ·

Ek het dit ook gese Danie maar myne is afgehaal toe gaan se ek dit maar op FB

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.