‘Geregtigheid sal geskied’ in Gupta-hofsaak

Argieffoto

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdag uitspraak voorbehou in die aansoek van Pravin Gordhan, minister van finansies, teen die Gupta-familie se Oakbay Investments.

Nadat die hof twee dae lank uitgebreide argumente aangehoor het, het regterpresident Dunstan Mlambo, namens ʼn volbank regters, gesê die hof se besluit sal binnekort bekendgemaak word.

“Ons gaan ons uitspraak voorbehou. Ons verstaan die partye is gretig om te hoor wat ons besluit is en ons sal probeer om dit in rekening te hou. Hopelik sal ons nie lank neem om tot ʼn besluit te kom nie,” het Mlambo aan die hof gesê. “Ek bedank die partye vir hul nuttige voorleggings. Ons hoop om geregtigheid te laat geskied.”

Gordhan het die hofgeding ingestel om ʼn bevel te bekom wat verklaar dat hy nie hoef in te meng in vier handelsbanke se besluite in Maart verlede jaar om die Gupta-familie se maatskappye se bankrekeninge te sluit nie.

Adv. Cedric Puckrin, vir Oakbay Investments, het Woensdag aangevoer daar is geen rede waarom die bevel wat Gordhan versoek uitgereik moet word nie. “Die appèlhof het bevind selfs ʼn hof is nie by magte of verplig om in te gryp in ʼn private verhouding tussen ʼn bankier en sy kliënt nie. Dit is werklik merkwaardig dat die minister hierdie hof vra vir bevestiging van ʼn besluit wat hy geneem het, dat hy nie by magte is om in te gryp nie. Dit is die kern van ons argument,” het Puckrin gesê.

Hy het gesê dit sal ʼn onuithoudbare situasie word indien alle regeringsbeamptes na die hof toe hardloop om bevestiging vir hul besluite te kry. Puckrin het aangevoer dat adv. Alfred Cockrell, wat Nedbank verteenwoordig, verkeerdelik aan die hof gesê het daar was ʼn “hewige dispuut” in die tyd toe Gordhan sy hofaansoek gebring het.

“Nog lank voor dít is die wetlike posisie [dat Gordhan nie kan ingryp nie] aanvaar. Tweedens, daar was geen aanmaningsbrief nie. Daar was absoluut geen aanduiding dat die minister skielik hierdie aansoek gaan bring wat Oakbay kans sou gee om sy situasie te oorweeg nie,” het hy gesê.

Adv. Vincent Maleka, vir Standard Bank, het aan die hof gesê dat Oakbay Investments daarop aangedring het dat Gordhan ingryp in die maatskappy se dispuut met die banke. Hy het die dispuut as ʼn “private verhouding” tussen die banke en hul kliënt beskryf. Hy het gesê Suid-Afrika het kompetisie-fluitjieblasers wat die eerste plek is om by aan te klop wanneer finansiële instansies onwettig optree.

Oakbay Investments het Woensdag ʼn verklaring uitgereik waarin hy sê hy sal hom nie aan die hofgeding onttrek nie. “Ons versoek dat hierdie onnodige aansoek, wat ʼn mors van belastingbetalers se geld en die hof se tyd is, van die hand gewys moet word. As enigiemand moet onttrek, is dit die minister,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Nie hoef in te gryp nie, nie by magte is om dit te doen nie of nie verplig wees om op te tree nie is verskillende begrippe. Die eerste en laaste mag dieselfde beteken maar ‘nie by magte om in te gryp nie’ verskil totaal en al daarvan.

Dit is nie heeltemal duidelik waarom Gordhan dit so wil hê nie. Miskien om te voorkom dat Oakbay sy magte misbruik.

Rupert Ashford ·

In enige “normale” situasie sou Oakbay se argument onomwonde aanvaar kon word, maar almal weet waarom Gordhan hierdie bevel aangevra het, veral gesien in die lig van die aasvoels wat volgens gerugte om sy kop draai.

Ww ·

As die minister ook dan die regering inmeng gaan geen persoon of besigheid privaatheid kan geniet nie

John ·

Hoekom het Oakbay nie ander gewone wee gevolg toe sy rekeninge gesluit is nie, maar ministers genader (En wie anders het eintlik die druk toegepas?) om die banke te dwing om die gevaarligte te omseil? Vanoggend beweer ann7 dat Gordhan en Jonas eintlik die staatskapers is wat na die buiteland sou gereis het om saam te saamspan met groot finansiele instansies en ‘n omverwerping van Zuma se wettige regering beplan wat Gordhan se afdanking gevolglik dringend noodsaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.